IS DIT TANDE?

Kenners verskil oor die simptome van tande kry, maar almal is dit eens dat dit ’n kind nooit ernstig siek maak nie. Jy kan verwag dat jou baba in hierdie tyd wel:

  • prikkelbaar kan voorkom;
  • byterig kan wees;
  • baie kan kwyl (wat tot ’n uitslag op die kennetjie kan lei);
  • onwillig kan wees om te eet omdat sy tandvleis sensitief is; en
  • slegter as gewoonlik kan slaap.

Sommige kenners reken ook dat tande-kry gepaard kan gaan met doeke wat slegter as gewoonlik ruik, ’n baie effense koors en ligte diarree (nie erg nie). Moenie siekte­simptome afskryf as tandekry nie – praat liewer met jou apteker, dokter of klinieksuster as jy twyfel.

HELP JOU KLEINDING SO

Sommige babas se tande verskyn stil-stil, maar vir ander is dit glad nie ’n gemaklik ervaring nie. En ’n moeilike baba beteken ’n moeë ma. Hier is rate wat ons by ervare ma’s en mediese kenners gekry het.

Trek baba se aandag af Bedags is dit soms genoeg om baba se aandag van sy ongemak af te trek deur hom besig te hou met aktiwiteite soos stap, dans en ’n bietjie vertroeteling.

Massering Vryf ferm met ’n skoon vinger oor sy tandvleisie. Jy kan die tandvleis ook met ’n rubbertandeborseltjie (soos Pigeon s’n) masseer.

Tanderinge ’n Tandering is nie te hard nie en is lekker koumateriaal. Belê gerus in die soort wat jy in die yskas kan laat afkoel – die koue sal ekstra verligting bring. Moet dit nie vries nie!

Kos vir kou Dr. Angela Gilhespie, die bekende Johannesburgse tandarts wat The ABCs of Children’s Teeth geskryf het en vroeër vanjaar oorlede is, het onder meer ’n hoenderbeentjie sonder vleis aanbeveel, asook wortelstokkies, appel­skyfies, selderystokkies en broodkorsies. Baie ma’s hou van tandebeskuitjies, maar Angela het teen die hoë suikerinhoud daarvan gewaarsku. Wees bedag op die verstikkingsgevaar en moet jou baba dus nooit alleen laat wanneer sy aan iets kou of knaag nie.

Oumas beveel dikwels biltong aan – maak seker dis nie te sout nie en bly naby. Baie slagters maak babageskikte biltong. Dis natuurlik net van toepassing op babas wat al vaste kos eet.

’n Elektriese tandeborsel Jy kan dit gebruik om jou baba se tandvleis mee skoon te maak (en later sy tandjies). Babas is blykbaar dol oor die vibrasie in hul mondjie.

Koue dinge Koue bring verligting. Plaas die fopspeen in die yskas of gee hom koue jogurt, koue wortels of ’n piesang wat ’n rukkie in die yskas was.

Kamille Baie homeopate beveel kamille aan vir tandekry – jy kan kamilletee gee of Weleda se tandekrypoeier, wat ook kamille bevat.

Plaaslike mondverdowingsmiddels Kyk na opsies soos Teejel, wat kan help om verligting te bring.

Pynstrope Babaveilige pynstrope soos Panado en Calpol behoort met uitsondering gegee te word, maar kan veral in die nag help. Bly weg van aspirien; dit kan tragiese gevolge hê.

Tandhigiëne

Die gesondheid van jou baba se melktande het ’n invloed op sy volwasse tande. Vee sy eerste tandjies twee keer per dag met ’n skoon, nat lappie af. Jy kry ookspesiale vingertandeborseltjies.

Die grootste oorsaak van tandbederf by babas is dat hulle met ’n bottel gaan slaap. Veral bottels sap en versoete tee rig groot skade agter die tandvleis aan en kan baba se tandjies letterlik wegvreet.