Die tweede ses maande van jou kind se lewe is opwindend en gepak met mylpale – van eerste vaste kos en regop sit tot kruip en selfs loop.

Jou kleinding is onweerstaanbaar en kommunikeer openlik met almal om haar. Jy voel ook nie meer so onhandig nie en een van die lekkerste (en uitputtendste!) tye van ma wees lê nou vir jou voor.

Moet egter nie nou die fout maak om jou kind in watte toe te draai om haar teen die wêreld te beskerm nie. Groter babas word woelig en die potensiële gevare kan jou dalk lamlê. Haal diep asem en ontspan. Moenie jou baba se verkenningstogtebe­perk nie, behalwe as sy haar self of ander in gevaar stel. ’n Bietjie ekstra sorg en ’n paar slim skuiwe sal jou kind toelaat om die wêreld op ’n veilige en prettige manier te verken.

EERS DIE GRONDREËLS

  • Maak jou huis en tuin kinderveilig deur voorwerpe en stowwe wat vir jou baba skadelik kan wees, te verwyder of buitebereik te bêre. Nou kan sy na hartelus verken en ontdek!
  • Trek vir haar klere aan wat geskik isvir kruip en rol.
  • Laat haar soveel moontlik kaalvoet wees. So ervaar sy deur middel van haar voet­sole verskillende sensasies en haar balans ontwikkel ook beter.
  • Moenie te vinnig ingryp as jou baba gefrustreerd raak nie. Help haar om iets reg te kry eerder as om die taak heeltemal oor te neem en dit vir haar te doen.
  • ’n Noodsaaklike bousteen van die leerproses is herhaling. Dit help baba om basiese begrippe te bemeester en vertroue op te bou dat sy kan staatmaak op daardie kennis.
  • ’n Baba se aandagspan is baie kort – moet dus nie bekommerd wees as sy gou belangstelling in ’n boek of speelding verloor nie.
  • Probeer alle speelgoed skoon en higiënies hou, aangesien dit heel eerstena baba se mondjie gaan.
  • Dis nie goed vir jou baba om lang rukke in ’n babastoeltjie te sit nie. Dit strem liggaamlike kontak en bewegingstimu­lasie. Dit keer haar ook om haar maag- en rugspiere te ontwikkel.
  • ’n Roetine is in hierdie stadium baie belangrik want dit laat jou baba veilig voel as die dag ’n bekende patroon volg.

LESSE IN DIE EETSTOELTJIE

  • Babas geniet dit om hul hande by die eetproses te betrek. ’n Bordjie vingerkos soos stukkies kaas, aartappel, piesang of sagte koekies sal jou kleintjie baie lank besig hou.
  • Laat jou baba die verskillende teksture van kos ontdek soos jellie, waatlemoen, sagte pasta, growwe beskuit, gekleurde ys en graankos.
  • Sy is gek daaroor om voorwerpe te laat val. Maak dit maklik deur speelgoed met tou aan ’n eetstoeltjie vas te maak (lank genoeg sodat dit steeds die grond kan tref) en wys haar hoe om dit weer op te trek. Hou net ’n ogie sodat sy nie verstrengel raak nie.
  • Moedig fyn motoriese beheer aan deur kleiner stukkies kos te begin gee, soos ertjies of worteltjies, wat sy dan self moet optel.

MAAK DOEKE RUIL LEKKER

Jou baba gaan begin om haar teë te sit wanneer jy haar doek ruil omdat sy graag tot op haar maag wil rol. Hang ’n interessante bewertjie sowat ’n armlengte bo jou baba se gesig. Sy sal dit geniet om daaraan te vat. Ruil dit gereeld met ander bewertjies om sodat sy nie verveeld raak nie. Jy kan dit later deur foto’s of prentjies vervang.

KRUIPKASKENADES

Laat haar tyd op haar magie deurbring. Jy kan jou arm gebruik as vastrapplek waar­teen sy haar kan wegstoot. Wanneer sy op haar maag lê, kan jy haar heupe vashou en haar bene sowat 15 cm van die vloer lig sodat sy outomaties die gewig op haar arms dra. Moedig haar aan om op haar hande te “loop”. Dis ’n goeie oefening as sy nog nie kruip nie, en berei haar ook voor om bollemakiesie te kan slaan. Moedig haar aan om oor hindernisse soos kussings, komberse of jou te kruip.

Moenie die loopproses aanjaag nie. Die kruipstadium is ’n baie belangrike fase wat sekere dele van die brein laat ontwikkel.

EMOSIONELE ONTWIKKELING

  • Hou aan om met jou baba te praat wanneer jy buite sig is sodat sy kan leer dat jy steeds daar is, al kan sy jou nie sien nie.
  • Hou jou baba dop en moenie onmiddellik reageer as sy klaerig raak nie. Soms is die geluide bloot stemspeletjies en is synie werklik besig om te huil nie.
  • Probeer om elke dag vir jou baba te lees. Moenie skaam wees nie en geniet dit om verskillende stemme, geluide en gesigsuitdrukkings te maak. Dit help baba om die karakters van mekaar te onderskei

NUTTIGE SPEELGOED
  • Plastiek- of kartonboeke met helder­kleurige prente. Probeer realistiese prente of foto’s vind. Babas het selde die vermoë om ’n ooreenkoms te tref tussen byvoorbeeld ’n regte boom en ’n prentjie van ’n boom. ’n Goeie plan is om ’n boekie met foto’s van haar omgewing te maak soos foto’s van huismense, haar bedjie of bottel en haar fopspeen.
  • Speelgoed wat verskyn en verdwyn, soos opwipspeelgoed.
  • Klokkies en rammelaars.
  • Stapelblokke met verskillende teksture.
  • Balle van verskillende groottes.
  • Gegeurde badskuim, badkryte, kleurspuitskuim en skeerroom.
  • ’n Waentjie met blokkies wat sy kan stoot.
  • Blaasborrels.
  • Sandput met speelsand.
  • Trom of xilofoon.
  • Hand- of vingerpoppe.
  • Interessante huishoudelike voorwerpe.
  • Sleutels.
  • Wasgoedpennetjies.
  • Lepels (hout en metaal, groot en klein).
  • Kastrolle, kolwyntjiepanne.
  • Koekiedrukkers.
  • Koeldrankstrooitjies.
  • Vatlappe.
  • Enige papier wat ’n geraas maak, soos sellofaan.

Prettige speletjies

SES TOT NEGE MAANDE

  • Laat jou baba op die gras of mat sit en plaas speelgoed net buite haar bereik. Sy sal probeer om dit in die hande te kry en só haar sitvermoë verbeter en lus wees om te begin kruip.
  • Versterk haar oogspiere deur haar aandag te vestig op ’n bewegende motor of ’n bal wat wegrol.
  • Laat jou baba ’n flitsligkol teen die muur volg. Dit werk die beste in ’n donker kamer.
  • Babas se asemhaling- en longkapasiteit word verbeter deur aktiwiteite waar hulle aan jou hande “hang” of wanneer jy hulle aan hul handjies tot in ’n staande posisie optrek. Gebruik jou duime sodat jy jou baba se greep beter kan monitor en doen dit op ’n sagte oppervlak, soos ’n bed. Sorg dat sy nie kan seerkry as sy skielik jou hande los nie. Dié speletjie is net ge­skik vir groter babas met sterker nekke.
  • Steek ’n lawaaierige speelding onder ’n kombersie weg en laat sy dit soek.
  • Gee haar ’n derde speelding wanneer sy reeds een in elke hand het. Laat sy self ’n oplossing vir die probleem vind.
  • Tuimelspeletjies is uitstekend om jou baba se gevoel vir balans en bewuswording van ruimte te ontwikkel. Kielie haar of dans met haar, laat haar op jou skoot “spring”, swaai haar terwyl jy haar onder die arms vashou, laat haar op jou skouers ry, of draai met haar in die rondte (sorg net dat jy nie omval nie!). Laat jou deur jou baba lei en hou op met enige speletjie waarvan sy nie hou nie.
  • Die meeste babas geniet spieëls en is gefassineer deur hul eie weerkaatsing. Sit langs haar en trek gesigte, beweeg en gesels.

NEGE TOT 12 MAANDE

  • Babas geniet nou tuimelspeletjies selfs meer. Dis veral lekker om vir pappa so betrokke te kry. Moet egter nooit ’n baba in die lug op gooi en haar dan weer vang nie. Lig jou baba liewer vinnig op en laat haar dan sak sonder om te los – en slegs as dit lyk asof sy daarvan hou.
  • Dis ook goed vir jou kleintjie om soms onderstebo te wees. ’n Goeie manier is om baba op jou skoot te laat lê met haar voete teen jou maag. Sorg dat jy ’n stewige greep op haar enkels het. Staan nou stadig op terwyl jy haar styf vashou. Gaan sit dan weer stadig sodat sy weer horisontaal lê. Hou die onderstebo tye aanvanklik baie kort (sowat vyf sekondes) en rek dit uit namate jou baba daaraan gewoond raak. Natuurlik is dit nie ’n goeie idee om dit kort ná ’n ete te doen nie!
  • Jou kleinding kan dalk begin om diere en geluide met mekaar te verbind en selfs na te boots. Wys vir haar prentjies (of die regte diere) en demonstreer die geluide wat hulle maak.
  • Wysspeletjies werk nou goed omdat jou baba meer woorde verstaan as wat sy gebruik. Vra “Waar’s mamma?” of “Waar’s die lig?” en laat haar dit uitwys.
  • Wees op die uitkyk vir produkte met ’n interessante tekstuur soos ’n verestoffer, haarborsel of kiwi­vrugte. Jy kan ook lappies van verskillende teksture uitsny en jou baba dit laat verken.
  • Plak plakkers op jou baba se handjies of ander dele van haar lyfie en moedig haar aan om dit te soek en af te trek.
  • Jou baba is mal daaroor om voorwerpe teen mekaar te kap. Kry oorpluisies en skep geleenthede waar sy na hartelus dinge teen mekaar kan slaan, soos kastroldeksels, plastiek- of blikbekers met handvatsels, leë houers, ratels en houtspeelgoed.
  • Dis ook heerlik om houers leeg te maak. As jy ’n bietjie skrikkerig is vir jou handsak, skep ’n eie “handsak” of houer waarin jy interessante en raserige artikels bêre om ontdek te word.
  • Speelgoed wat met ’n toutjie getrek word, is baie lekker vir kleintjies wat net begin loop. Jy kan ook ’n lint of tou aan ’n gunsteling-speelding vasmaak en so die trekpret uitbrei. 

Bronne

  • Koester jou baba deurMegan Faure en Ann Richardson (Metz Press)
  • Besige babas deur Kim Barker (Maskew Miller Longman)