book-icon Uitgawe Junie & Julie 2018

Jou kosbaarste vrag

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Hul gesin was op pad na die Suidkus met hul tweelingbabas stewig vasgegespe. Een van die tweeling was egter knieserig en sy ma het besluit om hom net gou uit die stoeltjie te haal terwyl haar man bestuur. Dit was ongelukkig op daardie oomblik dat ’n aankomende voertuig beheer verloor en in hulle vasgery het. Die baba wat uit die stoeltjie was, het in die ongeluk gesterf.Dit is net een van talle gruverhale waarin kinders dood is omdat hulle nie vasgegespe is nie.Gelukkig was ’n vier maande oue babadogtertjie vroeg vanjaar gelukkiger toe sy danksy haar karstoeltjie ’n groot ongeluk op Nigel ongedeerd oorleef het. Maroela Media het berig dat drie mense in daardie ongeluk dood en een ernstig beseer is.’n Mens dink nie so iets kan met jou gebeur nie, maar dit kan. Jy ry dalk net gou winkel toe, maar die lewe is onvoorspelbaar en broos, en ongelukke gebeur.Motorstoeltjies verminder die gevaar dat ’n kind in ’n ongeluk sterf met tot 71 persent, aldus die webtuiste safekids.org. Drie uit elke vier motorstoeltjies word egter nie gebruik of korrek geïnstalleer nie. In ’n opname is daar al bevind dat tot 85 persent van Suid-Afrikaners nie hul kinders reg vasgordel nie. Dit is onaanvaarbaar, waarsku Layton Beard, bestuurder van openbare belange by die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA). “Ongelukkig sien ’n mens steeds dikwels dat ouers hul baba op hul skoot vashou en dat kinders op die sitplek staan. Dit gebeur ondanks Suid-Afrikaanse wetgewing wat ouers verplig om kinders tot drie jaar oud net in motorstoeltjies te vervoer.” Layton sê ouers wat babas op hul skoot vashou, moet die volgende onthou: “As julle 60 km per uur ry en jou baba 10 kg weeg, sal hy met impak ’n gewig van 600 kg hê. Dit beteken dat jy hom nie sal kan vashou nie. As jou voertuig met ’n lugkussing toegerus is, kan hierdie kussing uitskiet en jou kind met impak laat sterf.” Namate die tegnologie verbeter, word motorstoeltjies ook beter en vandag is daar baie verskillendes om uit te kies. Jy moet jou motorstoeltjie aanpas namate jou kind groei sodat die beste beskerming aan sy lyfie kan bied, sê Layton. “Dis ’n algemene wanvoorstelling dat motorstoeltjies volgens ouderdom gekies word. Dit gaan eintlik oor gewig. Jy moet weet hoeveel jou kind weeg wanneer jy ’n stoeltjie koop, want nie alle kinders weeg dieselfde op dieselfde ouderdom nie.” Dis ook baie nodig dat jy vir jou kinders ’n voorbeeld stel. “Hoe kan ouers van hul kinders verwag om vasgegespe te wees as hulle self nie sitplekgordels dra nie? ’n Sitplekgordel moet ononderhandelbaar wees.”

Peggie Mars, stigter van die padveiligheidsorganisasie Wheel Well, sê die belangrikheid van ’n motorstoeltjies kan nie genoeg benadruk word nie. “Daar is so baie dinge wat ouers in ag moet neem wanneer hulle ’n stoeltjie kies, soos gewig, lengte en ouderdom. “Motorstoeltjies word ontwerp volgens sekere perke waarbinne jou kind moet pas. Jy sal al hierdie inligting vind op ’n oranje plakker wat op alle wettige motorstoeltjies verskyn. Natuurlik moet ’n mens ook jou begroting in ag neem, asook die ruimte in die voertuig en hoe maklik of moeilik dit is om die karstoeltjie te hanteer. Koop altyd die beste stoeltjie wat jy kan bekostig.”

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees