As splinternuwe ouer kom jy gou agter daar is baie meer eerstes in jou kind se lewe as net die tradisionele mylpale van eerste glimlag, eerste tand en eerste treetjie. Elkeen is gelaai met ewe veel trots, opwinding en blydskap – en soms ’n tikkie angs en onsekerheid ...
Dis ongetwyfeld die grootste oomblik van jou lewe – wanneer jy jou baba die eerste keer in jou arms hou. Maak jou reg vir ’n mengelmoes emosies: uitputting, verligting, vreugde, dankbaarheid en trots – en ’n oorweldigende liefde wanneer jy vir die eerste keer in daardie ogies kyk.
Ironies genoeg lyk jou patroontjie by geboorte glad nie soos ’n kunswerk nie. Haar velletjie kan oortrek wees met ’n vetterige, wit stof genaamd vernix, daar kan bloed en merkies aan haar lyfie wees en haar kop kan dalk ’n snaakse vorm hê. Al dié “newe-effekte” van die geboorte sal gelukkig ná ’n paar dae verdwyn.