Alle ouers is onseker en effens senuweeagtig wanneer hulle met hul splinternuwe baba huis toe gaan. Vir ouers van ’n vroeggebore babatjie is dit nog meer oorweldigend – maar hou moed, jul kleinding het hom reeds as vegter bewys en het dit reggekry om sy eerste mylpale in die neonatale intensiewe eenheid (NISE) te haal. 

En nou is julle in staat om jul baba self  te versorg. Kyk net wat kan jul baba al alles doen voor hy saam met ma en pa huis toe gaan:

  • Hy het dit reggekry om buite die baarmoeder verder te ontwikkel en kan nou self sy liggaamstemperatuur buite die broeikas reguleer.
  • Hy kan alle voedings mondeliks inneem deur die bors of bottel. Gelukkig is die buisvoeding, waar hy kossies deur sy neus tot in sy magie gekry het, nou iets van die verlede. Dit het nie sommer net gebeur nie: Eers kon hy net een normale voeding per dag inneem, maar stelselmatig is alle buisvoedings deur normale voedings vervang.
  • Sy gewig met bors- of bottelvoeding het oor ’n spesifieke tydperk reeds minstens 142 g tot 170 g per week toegeneem.
    Hy hoef waarskynlik nie meer antibiotika en suurstof te kry nie.
  • Apnee, ’n toestand waar jou baba vir 20 sekondes of langer ophou asemhaal omdat sy liggaampie nog nie outomaties weet om weer te begin asemhaal nie, is vir minstens ’n week nie meer aanwesig nie. Die deel van sy brein wat asemhaling reguleer, het nou so ontwikkel dat sy lyf dit self kan doen.
  • Bradikardie (hartvertraging) is ook vir ten minste ’n week nie meer aanwesig nie en jou baba se hartklop is nou reëlmatig en nie partykeer stadiger nie.
  • Die klein mannetjie is neurologies stabiel, wat beteken hy het in die tyd in die NISE geleer om stres, lig en geraas te hanteer en sy lyfie weet nou ál meer hoe om hom self te beskerm en te kalmeer. 

Hoe beskerm ek my kind teen siektes? 

Omdat jou baba nog nie fisiek so volledig ontwikkel het soos sy maatjies wat teen hul verwagte datum gebore is nie, is hy meer vatbaar vir infeksies. Vroeggebore babas se dun velletjie is tot 14 dae ná geboorte nog nie met die beskermende keratienlagie bedek nie en al die ingrypende mediese prosedures in die NISE ontwrig die vel net nog meer, wat mikroörganismes ’n groter kans gee om toe te slaan.

Daarom werk mediese personeel so higiënies moontlik met vroeggebore babas. Ma se teenliggaampies, wat gewoonlik laat in die swangerskap na die baba oorgedra word, is natuurlik ook nie aanwesig nie en beenmurgvervaardiging van die immuunselle word oorweldig as ’n infeksie intree. 

Dit beteken nie besoekers by die huis mag nie aan baba raak nie. Hoewel julle baba broser is as voltermynbabas, is dit belangrik dat jy jou kind soos ’n “normale” baba behandel en nie in watte toedraai nie.

As hy gesond is, moet julle hom so normaal moontlik hanteer, maar natuurlik moet julle nie toelaat dat siek mense kom kuier nie, veral nie in die eerste ses maande tot ’n jaar gekorrigeerde ouderdom nie.

Dit is egter ’n goeie idee dat net familie hom in die eerste maand by die huis optel en dat alle besoekers hul hande was voor hulle aan hom vat. Moenie toelaat dat vreemdelinge aan sy handjies vat wanneer hulle hom sien nie: Handjies gaan mond toe en dan gaan kieme reguit by die mondjie in. 

Die krag van aanraking 

Onthou jou baba het ’n behoefte aan menslike kontak en dis onnatuurlik om hom nie op te tel en te vertroetel nie. Hy het nes ander babas ’n behoefte aan die nabye kontak. Ma en pa moet baba steeds op die kangaroemanier in sy spesiale kangaroelap teenaan hulle lyf dra tot hy minstens 2,5 kg weeg.

Daarna sal hy laat weet wanneer dit nie meer vir hom gemaklik is nie. Die nabye vel­tot­vel­kontak laat hom beskut en veilig voel. Onthou om altyd met optel en dra te sorg dat jou baba se arms en bene bymekaar is om die tipiese “skrikreaksie” van vroeë babas teen te werk. Hulle skrik maklik vir vinnige bewegings, harde geluide, skerp lig of selfs net ’n nuwe sensasie of situasie en gooi dan hul beentjies en armpies wyd terug, wat hulle onveilig laat voel.

Hierdie skrikreaksie neem later af en verdwyn namate jou baba leer om hom self te kalmeer. Omdat die fisieke ontwikkeling van vroeggebore babas se liggaampie nog nie volledig kon plaasvind nie, het hulle onderontwikkelde senuweestelsels.

Al vyf hulle sintuie is te vroeg aan ’n wêreld buite die beskerming van ’n baarmoeder blootgestel en hulle is dus gewoonlik uiters sensitief vir lig, geraas, reuke en aanraking. Daarom moet ouers sag, maar ferm en stadig beweeg en aanraking moet sag en sensitief geskied.

Vroeë babas se tassintuig kan maklik oorgestimuleer word, wat probleme met sensoriese integrasie kan veroorsaak. Veerligte streling voel dieselfde as pyn. Dis hoekom dit nie goed is om in die NISE al babamassering te gee nie. Jy kan jou baba by die huis masseer om hom te troetel en kalmeer, maar massering moet oordeelkundig en dalk aanvanklik eerder deur ’n kundige behartig word.

Die geheim van slaap

Slaap is op sigself stimulasie vir groei en ontwikkeling. Die ideaal is dat vroeë babas jonger as ses weke nie langer as 60 minute aaneen wakker is nie en vanaf ses weke tot drie maande nie langer as 60 tot 80 minute nie.

Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, maar probeer om ’n slaaproetine te vestig. Hoewel elke baba uniek is met sy eie besonderse temperament en persoonlikheid, is daar ’n paar riglyne wat julle kan volg:

  • Julle moet probeer om die veilige en beskutte omgewing van die baarmoeder na te boots. Draai hom gemaklik, maar stewig toe sodat sy handjies naby sy gesiggie is en hy sy vuisies instinktief kan suig. Dis belangrik dat jou baba nog sy vuisies soos in die baarmoeder suig om hom rustig en kalm te hou. Trouens, dit is een van die mylpale wat babas ná hulle vroeë geboorte moet bereik. Dit is ’n natuurlike aksie om hulle self te kalmeer.
  • Jy kan soos die susters in die NISE ’n toedraaikombersies oprol en bo­-om en langs sy lyfie en koppie plaas om die gevoel van beskutting te gee. Sit hom ten minste die eerste ses weke in sy “nessie” wanneer jy hom in sy wiegie tel.
  • ’n Doekie of kombersie in sy handjies waaraan hy kan vashou of mee kan vroetel, verskaf ook sekuriteit en is kalmerend, veral as mamma daarmee geslaap het en hy nog haar reuk kry wanneer hy die kombersie vashou.
  • Speel rustige musiek of sing ’n slaapliedjie om jou baba te kalmeer en aan die slaap te maak.
  • Demp helder ligte.
  • Maak seker die kombers of klere krap hom nie.
  • Maak rustige wiegbewegings wanneer jy hom vashou om aan die slaap te raak.
  • Wissel sy slaapposisie af en draai hom elke keer op ’n ander sy en op sy ruggie om wiegiedood te help voorkom. 

My baba drink traag 

’n Mens is dikwels bekommerd wanneer jou vroeë baba nie goed drink nie. Daar is ’n groot moontlikheid dat jou baba aanvanklik gaan sukkel om aan jou bors of ’n bottelspeen te suig.

Onthou, hy het aanvanklik in die NISE waarskynlik net buisvoeding gekry en om te voorkom dat hy sy suigrefleks verloor, is dit ’n goeie plan om hom in die NISE al aan ’n fopspeen gewoond te maak. As julle regtig bekommerd is en sukkel, kan julle by ’n spesiaal opgeleide voedingsterapeut aanklop.

Sy sal die regte behandeling voorstel, want die mond­ en kaakspiere wat gebruik word om te voed, is dieselfde spiere wat later gebruik word om klanke voort te bring en te praat. Dis dus uiters belangrik dat jou baba se voeding reg ontwikkel.

Vroeë babas se spysverteringstelsel is nog onontwikkel en hulle is meer geneig tot krampies en winde. As jou baba ongemaklik is, kan dit hom oorgestimuleer laat voel en hom huilerig, prikkelbaar, knieserig, baie kwaai of oormatig slaperig maak.

Te veel onrustigheid kan dieselfde uitwerking hê – probeer dus om die oorsake uit te skakel deur jou baba rustig te voed. Maak seker dat daar nie ’n mediese rede is vir pyn en ongemak nie. 

Stimulasie en oorstimulasie 

’n Baba gebruik sy sintuie om sin van sy nuwe wêreld te maak. Omdat ’n vroeë baba se neurologiese stelsel nog besig is om ryp te word, kan dit gou deur te veel nuwe sensasies oorgestimuleer word.

Die tydperk tussen nul en drie maande moet rustig en kalm wees sodat jou baba se breintjie kans kry om geleidelik nuwe sensasies en gewaarwordinge in te neem en te organiseer en integreer.

As jou baba nie te erg huil of skrik vir geluide of lig nie, kan jy hom blootstel aan invloede in sy omgewing soos sagte stemme, musiek en lig. Vroeggebore babas wat nie baie siek is nie, kan nes ander babas gebad, gevoed en mee gespeel word. Eintlik geld die moontlikheid van oorstimulasie ook vir voltermynbabas tot minstens drie maande.

Hulle word oorweldig deur te veel beweging, te helder kleure en te veel verskillende geluide.

  • Hou dus eerder net een bewertjie byderhand bo die wiegie of kot.
  • Sorg dat elektriese en sonlig aanvanklik gedemp is. Helder kleure kan eers later gebruik word om kleinman te stimuleer.
  • Die omgewing en dit wat daarin is en gebeur, is eintlik genoeg stimulasie vir jou baba tot om en by drie maande. Veral mamma en pappa se gesig is uitstekende stimulasie.

Die tye wanneer jou baba nie slaap nie is veral in die eerste ses weke nog baie kort en word tot drie maande oud geleidelik langer. As jou baba wakker en rustig is en na jou kyk met ’n komspeel­met­my­gesiggie kan jy sy sintuie stimuleer deur die volgende te doen:

  • Stimuleer sy gehoor deur met hom in ’n rustige stemtoon te gesels, liedjies te sing of eenvoudige rympies op te sê.
  • Jy kan jou baba se visie stimuleer deur hom op sy ruggie te laat lê en aan te moedig om jou gesig te volg. Maak oogkontak en probeer sorg dat hy nie vir jou kyk met ’n skewe koppie nie, maar dat sy gesig direk en reguit na jou toe wys.
  • Hang net een speelding op waarna hy kan kyk en waarmee hy kan ontdek wanneer hy wakker is. Te veel en te helderkleurige speelgoed sal hom oorweldig en oorstimuleer. Speelgoed wat hang, moet bokant sy naeltjie geplaas word sodat hy goed kan fokus.
  • Oefen jou baba se spiertjies en sy bewegingsaksies deur hom op sy magie te plaas wanneer hy wakker is.
  • “Ry fiets” met sy beentjies wanneer jy sy doek omruil en hy op sy ruggie lê, maar onthou om dit stadig en sagkens te doen.
  • Moedig hom aan om sy handjies bymekaar en naby sy mond te hou. 

Hoe gaan dit met die ouers? 

Om jou baba te begelei op sy pad na organisasie en integrasie moet jy jou eie balans in gedagte hou. Erken dat die aanhoudende spanning en die hospitaalervaring traumaties was en dat die eerste maande tuis ook sy tol eis tot julle meer selfvertroue het en baba ’n bietjie groter is.

Dis belangrik om ’n goeie ondersteuningstelsel te hê en genoeg slaap en rus te kry. Maak tyd om soms te gaan koffie drink terwyl iemand anders by jou baba bly, of maak beurte om na baba om te sien.

Ten spyte van die aanvanklike skok toe jul babatjie so onverwags sy verskyning gemaak het, die angstige tye wat julle en hy in die NISE deurgemaak het en die aanpassing by die huis met jul piepklein mensie, is dit belangrik dat julle onthou om hom te geniet!

Moenie huiwer om van spesiale ondersteuningsgroepe gebruik te maak vir emosionele ondersteuning nie.

Maar as jy hulp nodig het om jou baba beter te verstaan of sy ontwikkeling te monitor, druk gerus ook op die nommer van ’n goeie arbeids-­, fisio­- of spraakterapeut wat in neuro­ontwikkeling opgelei is en in vroeë ingryping spesialiseer, ’n suster wat spesialiseer in ontwikkelingstoepaslike sorg van vroeë babas, of jou kind se pediater.  

Hoe moet ek mypale benader? 

Die belangrikste ding om te onthou is dat jul klein babatjie gebore is voor hy heeltemal gereed daarvoor was. Daarom het hy eintlik twee geboortedatums: sy chronologiese geboortedatum, wat die dag is waarop hy gebore is, en sy biologiese geboorte datum.

Hierdie datum is die dag wanneer hy eintlik die wêreld moes ingekom het en word ook sy gekorrigeerde ouderdom genoem. As jou baba dus drie maande te vroeg gebore is, is sy biologiese of gekorrigeerde ouderdom wanneer julle drie maande later huis toe gaan eintlik pasgebore, maar sy chronologiese ouderdom is reeds drie maande.

Dit beteken jul baba gaan nie noodwendig op dieselfde tyd as sy maatjies dieselfde mylpale bereik nie. Daarom moet julle hom in sy eerste twee lewensjare kans gee om teen sy eie pas die tyd in te haal wat sy maatjies langer in die baarmoeder kon deurbring en rustig en veilig kon ontwikkel.

Dit kan ook wees dat jul kleinding die “agterstand” so vinnig inhaal dat hy saam met of selfs vinniger as maatjies van sy ouderdom groei en ontwikkel. Vroeggebore babas se ontwikkeling hang dikwels saam met die oorsake vir vroeë geboorte. Dit lyk byvoorbeeld of babas wie se ma vroeër die lewe geskenk het weens preëklampsie dikwels sterker is as dié wat vroeg gebore is weens siekte of infeksie.

Omdat elke kind so uniek is, is dit in elk geval moeilik om presiese mylpale te bepaal. Die beste is om jou baba fyn dop te hou sonder om oorangstig te raak, maar moet ook nie wag tot dit te laat is voor julle professionele raad inwin nie.

Hoe vroeër enige probleme geïdentifiseer word, hoe beter. Neem jou baba op vier, agt en 12 maande chronologiese ouderdom vir ’n volledige ondersoek na jou pediater of prembaba-spesialis om te bepaal of hy bevredigend ontwikkel.

Baie kundiges raai jou ook aan om baba van drie of ses maande af vir fisio- of arbeidsterapie te neem om enige moontlike probleme te ondervang.