Vraag:

Ek borsvoed my maand oue baba eksklusief. Ek moet oor twee maande terugkeer werk toe en wil baie graag ’n melkvoorraad opbou. Ek wil uitmelk by die werk, maar is bang dit is nie genoeg nie. Hoe oud moet my baba wees voor ek kan begin uitmelk? As ek nou melk vries, sal die melkinhoud en samestelling voldoende wees vir my baba, wat teen daardie tyd al ouer is?

Antwoord:

Dis verblydend om van ál meer mammas te hoor wat wil aanhou borsvoed al moet hulle teruggaan werk toe. Soms is daar praktiese omstandighede by die werk wat ma’s laat besluit om op te hou borsvoed, soos beperkte kraamverlof, niebetaalde kraamverlof, oopplankantore sonder privaat plekke waar ’n mens kan uitmelk, en werkskedules wat nie voorsiening vir borsvoedende ma’s maak nie.

Dis daarom belangrik dat werkgewers ingelig word dat daar vir hulle ook voordele is wanneer ma’s borsvoed. Maa skappye in Amerika en Brittanje het gevind dat wanneer ma’s aanhou borsvoed, hulle minder van die werk wegbly omdat hul kinders gesonder is, en dat meer ma’s terugkeer werk toe as hulle in staat gestel word om aan te hou borsvoed.

Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid en ander belanghebbendes het ons land in 2011 verklaar as ’n land waar borsvoeding ondersteun word. Alle rolspelers moet daarom ingelig word oor die voordele van borsvoeding.

Werkgewers kan ’n gemaklike privaat area met verkieslik toesluit- en handewasgeriewe voorsien waar ma’s kan uitmelk. Verder kan minstens twee of drie borsvoedingpouses van 20 tot 30 minute elk in ’n agt- tot 12-uur-werkdag toegestaan word. Indien ’n yskas beskikbaar is, behoort jy toegelaat te word om borsmelk daar te hou teen 2 tot 4 grade C. Indien ’n yskas nie beskikbaar is nie, kan jy jou borsmelk in ’n koelhouer met yspakkies berg tot jy huis toe gaan.

Jy kan met jou kraamverlof reeds begin uitmelk om te verseker dat daar ’n voorraad borsmelk beskikbaar is wanneer jy byvoorbeeld moet gaan inkopies doen, en natuurlik wanneer jy moet terugkeer werk toe.

Die samestelling van borsmelk is beter as enige formulemelk. Selfs al melk jy uit en gee dit eers in ’n later stadium vir jou baba, is dit steeds die beste melk wat jou baba kan kry. Deur ook jou baba saans en oor naweke direk aan die bors te laat voed, verseker jy dat hy of sy al die nodige voedingstowwe kry, asook selle wat immuniteit oordra en die vele ander lewendige komponente van borsmelk.

Direkte en ongesteurde stimulasie deur die baba se gesuig aan die bors verseker ook voldoende borsmelkproduksie. Borsmelk moet altyd in ’n skoon houer uitgemelk en so gou moontlik koel gemaak word. Dit kan agt uur lank veilig teen kamertemperatuur geberg word, en vyf tot agt dae in ’n yskas. As jou yskas net ’n klein vrieshokkie het, kan jy dit twee weke lank daarin vries. In ’n gewone vrieskas kan dit drie tot vier maande gehou word en tot ses maande in ’n kisvrieskas.

’n Praktiese wenk is om die melk in ysbakkies te vries. Maak die ysbakkie goed skoon en giet die uitgemelkte borsmelk in die ysblokkie-ruimtes. Plaas die ysbakkie in ’n skoon plastieksakkie, bind dit toe en skryf die datum waarop dit uitgemelk is, bo-op.

Vars uitgemelkte borsmelk moenie by bevrore borsmelk gevoeg word nie. Borsmelk kan ontdooi word deur die blokkies in ’n skoon houer in die yskas te plaas en kan dan teen kamertemperatuur vir die baba gegee word. Dit moenie gekook of in die mikrogolf warm gemaak word nie. Dit kan wel in ’n koppie gegiet en dan binne-in ’n ander houer met warm water geplaas word om dit effens warm te maak.

Ontdooide borsmelk lyk of dit geskif het. Dit is omdat die melk nie gehomogeniseer was voor berging nie. Dit is steeds veilig, al lyk dit nie soos vars koeimelk nie.

Teen drie tot vier maande oud verdwyn tepelverwarring by die meeste babas en kan hulle suksesvol gelyktydig gebors- en gebottelvoed word. Babas hoef egter nie noodwendig uitgemelkte borsmelk in ’n bottel te kry nie, maar kan ook gekoppievoed word. Koppies kan tepelverwarring by kleiner babas voorkom en word ook makliker skoongemaak as bottels.

’n Baba kan gekoppievoed word deur hom regop of half regop op jou skoot vas te hou. Hou die klein koppie halfvol melk op die baba se onderlip. Kantel die koppie sodat die melk net aan die baba se lippie raak. Moenie die melk in die baba se mond gooi nie. ’n Klein baba sal begin om die melk op te lek en ’n ouer baba sal die melk afsuig. Wanneer die baba genoeg gehad het, sal hy sy mondjie toemaak en nie meer drink nie.