VRAAG:

My pasgeborene is vyf weke oud. Sy drink baie sterk en sit goed gewig aan. Dit voel egter die laaste twee dae asof ek die heeltyd voed en sy die heeltyd wil drink. Het ek nog genoeg melk? Hoekom wil sy nou skielik aanhoudend drink?

PROF. LISANNE DU PLESSIS ANTWOORD:

Mammas wonder dikwels of hulle genoeg borsmelk vir hul babas maak, veral wanneer babas meer gereeld wil voed. Dit gebeur gewoonlik teen dag 10 tot 14, op drie tot vier weke, dan weer op ses weke, drie maande en ses maande. Hierdie vraag na meer gereelde voedings duur gewoonlik 24 tot 72 uur en word gevolg deur versnelde groei en gewigstoename.

Dit kan in hierdie tye voel of jou baba gedurig wil voed, asof jou borste nie altyd so vol is nie en asof jy nie noodwendig altyd ’n sakrefleks het nie. Dit is gewoonlik dan dat ma’s ernstig twyfel aan hul vermoë om in hul baba se voedingbehoeftes te voorsien. Die tye van verhoogde aanvraag is egter heeltemal normaal en is ’n aanduiding dat jou baba goed groei.

As ’n aanvulling soos formulemelk in hierdie verhoogde aanvraagtyd gegee word, verminder die kontaktyd aan die bors en daal melkproduksie as gevolg daarvan. Mamma is dan oortuig dat sy nie genoeg melk kon maak nie en dink haar melk het ”opgedroog”.

Dis belangrik om te weet dat as jou baba toegelaat word om ongehinderd en op aanvraag aan die bors te drink, die gesuig aan jou bors boodskappe na jou brein stuur om jou liggaam te laat weet om die regte hoeveelheid melk vir jou baba te maak. Jou melk is perfek vir jou baba en jy kán genoeg melk produseer.

Daar is egter so baie dinge wat ’n invloed op ’n vrou se lewe het. Dit laat ons twyfel of ons goed genoeg presteer in die vele rolle wat ons daagliks moet vertolk. Die alternatiewe tot ons beskikking begin dan lyk soos ’n makliker uitweg as om knaend te twyfel of dit wat ons kan bied, goed genoeg is.

Baie rigiede voedingstye of voeding volgens die horlosie eerder as volgens jou baba se behoeftes kan ook daartoe lei dat jou baba gedurig honger of klaerig voorkom. Dis hoekom dit van die uiterste belang is dat jou baba toegelaat word om haar instink te volg wanneer sy ’n voeding nodig het en dit aan jou te kommunikeer.

Voorbeelde van kommunikasie sluit in dat jou baba begin kriewel en dan begin huil, haar handjies in haar mond druk en daaraan – of selfs aan ’n kombersie – suig, haar mondjie oopmaak en haar koppie in die rigting van stimulasie draai, en dalk haar tongetjie uitsteek wanneer jy haar optel.

Daar is ook ’n paar maniere om seker te maak dat jou baba genoeg melk kry. Pasgeborenes en klein babas behoort agt tot 12 keer binne 24 uur te voed en vier tot ses nat weggooidoeke of ses tot agt nat lapdoeke te hê. Duidelike slukgeluidjies moet hoorbaar wees en jou baba behoort die voeding self te beëindig.

Jou baba kan gereeld geweeg word, verkieslik op dieselfde skaal met elke weegsessie, om seker te maak sy sit genoeg gewig aan. Die Nasionale Departement van Gesondheid het ’n Pad na Gesondheid-boekie wat ma’s en babas met geboorte ontvang.

Die nuwe boekie is gegrond op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se groeistandaard. Dit bevat aparte kaarte vir seuntjies en meisies, aangesien die geslagte verskillend groei. Dis gebaseer op die groeipatroon van gesonde, borsgevoede babas van lande oor die wêreld heen en bevat meer volledige en omvattende rekords vir die evaluering van babas se gesondheid. Dis ’n goeie plan om jou baba se groei volgens hierdie boekie te beoordeel en nie volgens ou kaarte of kaarte wat deur ander organisasies verskaf is nie.