VRAAG: Ek hoor so baie teenstrydighede:Is ’n fopspeen aanvaarbaar of nie?
DR. MARETHA COMBRINK ANTWOORD: Die gebruik van fopspene word al van so vroeg as 1473 in die mediese literatuur aangeteken. Hoewel die voorkoms en funksie van fopspene in 2020 heelwat moderner is, bly die gebruik daarvan omstrede. Hier is ’n klompie voor- en nadele wat jy in ag kan neem voor jy besluit of jy ’n fopspeen vir jou baba wil aanskaf.
Die suigaksie het ’n kalmerende uitwerking op babas. ’n Fopspeen kan dus gebruik word wanneer jou baba ’n bietjie vir ’n voeding moet wag. Die suigaksie help ook tydens pynlike prosedures soos immunisasie of bloedtoetse, sowel as om die druk in die middeloor eweredig te hou wanneer baba hom op ’n vliegtuig bevind.