VRAAG:

My 14 maande oue baba hou daarvan om met haar handjies te eet. Kan jy asseblief gesonde en maklike vingerkosidees voorstel wat ek vir middagete kan aanbied?

ANEL KIRSTEN ANTWOORD:

Teen 14 maande oud wil ’n mens grootmens- of gesinskos aanmoedig om latere fiemies te bekamp en ook om jou kleintjie bloot te stel aan ’n wye verskeidenheid geure, teksture en smake. So verseker jy ook dat jou kind genoeg vitamiene en minerale inkry.

Die ideale middagete sluit in ’n kombinasie van koolhidrate, proteïen, gesonde vet en vrugte of groente. Probeer dus om met middagete vingerkos uit elke voedselgroep te gee.

Proteïen-opsies sluit in snytjies kouevleis, frikkadelle, saggekookte hoender, stukkies salm of ander vis (grate verwyder), roereier of gekookte eier. Saggekookte bees-, vark- of lamsvleis (byvoorbeeld flentervleis) werk ook goed.

Vir jong kinders is jogurt en kaas ’n goeie bron van proteïen. Sny die kaas in blokkies of rasper dit.

Maak ’n korslose souttert en sny in blokkies wat met die hand geëet kan word. Eiermuffins is ook baie nuttige en voedsame vingerhappies.

Koolhidrate behels saggekookte pasta, roosterbroodrepies, klein toebroodjies, pitarepies, eierbrood en beskuitjies soos Cream Crackers, ryskoekies of Provitas. Saggekookte aartappel, patat en botterskorsie is koolhidraatbronne wat baie voedingswaarde het. Heelgraanrolletjies of -muffins is ’n goeie plan wanneer die tyd min is. Vir ’n bederfie kan plaatkoekies of pannekoek gebak word.

Idees met vrugte en groente sluit in vars gesnyde vrugte soos appel, peer, piesang, spanspek en mango.

Gestoomde of saggekookte groente soos wortel, broccoli en blomkool werk ook goed. Repies rou soetrissie in verskeie kleure lyk aantreklik op die bord en repies komkommer, tamatie en rou sampioene is gewild. Gedroogde vrugte soos appelringe kan pleks van vars vrugte gegee word.

Met middagete kan jy ’n kombinasie van al die kossoorte hierbo op jou kind se bord uitpak, want so verseker jy dat die middagete gebalanseerd is, maar ook interessant bly.

Wees versigtig vir happies wat ’n baba kan laat stik, soos heel druiwe, neute en springmielies.