Die brein bestaan uit miljarde klein senuselletjies wat inligting bêre en oordra. Tussen die selle is daar paad­jies waarlangs die inligting voortsnel. Die aantal selle en die organisasie van hierdie paadjies bepaal alles van jou kind se vermoë om eendag syfers te herken tot haar emosies. Van vroeg af sal haar sintuiglike ervarings, beweging, emosionele belewe­nisse en verstandelike blootstelling ’n rol speel in hoe haar brein ontwikkel.

20% Dis hoeveel kleiner die brein van mishandelde en verwaarloosde kinders is wat min aangeraak is, met wie min gepraat is en wat min geleentheid gehad het om te ontdek en verken.


Pap baba

Met geboorte is jou baba se brein nog onvoltooid. Die meeste breinselle is reeds daar, maar die paadjies tussen die selle moet nog gevorm en versterk word. Die deel van die brein wat verantwoordelik is vir doelbewuste gedagtes, gevoelens, geheue en doelbewuste aksies, het nog nie goed ontwikkel nie en jou nuwe baba is nog net in staat tot refleksbewegings.

’n Pasgebore baba se brein het ook nog baie min miëlien, die dik, vetterige stof wat die senuselle isoleer en help om bood­skappe vinniger en duideliker oor te dra sodat dit verwerk kan word. Dit is hoekom babas en jong kinders inligting stadiger as volwassenes verwerk.

WAT JY KAN DOEN

  • Jou baba sal dit geniet om stadig bewe­gende voorwerpe te sien, soos ’n bewertjie.
  • Jou gesig is ook ’n gunsteling – maak oogkontak en gesels.
  • Aanraking is geweldig belangrik.
  • Help jou baba sin maak van haar sintuiglike ervarings deur woorde, gebare en gesigsuitdrukkings in te span.

Onder 1 jaar

Jou baba begin van drie maande af dit wat sy sien, proe, hoor en voel bymekaar uitbring. Dit word sensoriese integrasie genoem.  Tussen ses en 12 maande ontwikkel sy vinnig en sien jy ’n groot verskil in haar begrip van wat jy sê, haar bewegings, leervermoë en sosiale interaksie. Dit is alles tekens dat haar brein besig is om nuwe verbindings te vorm.

Haar kop sal ook baie vinniger groei as die res van haar lyfie.

WAT JY KAN DOEN

Jou baba se nuwe vaardighede skep geleent­hede vir nuwe soorte stimulasie.

Onthou, alles wat sy ervaar, dra by tot die vestiging van nuwe paadjies in haar brein. Namate jou baba leer sit, kruip, staan en loop, word sy blootgestel aan nuweervarings (visueel, teksture, smake ens.) wat goed is vir haar brein­ontwikkeling.

  • Skep vir haar ’n liefdevolle, vei­ligeomgewing wat sy kan verken.
  • Gee haar soveel vryheid van be­we­ging as wat jy kan en probeer ál haar sin­tuie stimuleer.

Teen twee jaarhet jou kind se brein 50% meer verbindings as wat sy as volwassene sal hê.

Onder 2 jaar

Teen ’n jaar oud het die hippokampus (die setel van geheue) ontwikkel. Jou peutertjie onthou dinge ál beter en begin dit naboots. Sy leer nou deur te sien wat jy doen.  Nuwe paadjies word steeds gevorm om jou kind te help om meer gekoördineerd te beweeg, en die serebellum ontwikkel, wat help met tydsberekening. Jou kind se taalbegrip word beter en sy begin haarverbeelding gebruik.

Herhaling versterk die paadjies na onderliggende senubane en jou kind oefen haar breintjie deur dinge oor en oor te doen.

WAT JY KAN DOEN

  • Stimuleer probleemoplossing en denke deur belang te stel in wat jou kind doen en haar leiding te volg wanneer julle speel. ¦ Verskaf interessante voorwerpe wat sy kan manipuleer. Sy begin ál meer met voor­werpe eksperimenteer om te sien wat dit kan doen, en sal byvoorbeeld ’n bal met ’n stok nader haak.
  • Gee haar genoeg geleentheid om haar motoriese vaardighede te oefen en ’n veilige ruimte om in rond te hardloop en te verken.

Onder 3 jaar

Teen twee jaar het jou kind se brein 50 persent meer verbindings as wat sy as volwassene sal hê.

Terwyl nuwe paadjies gevorm word, vind snoeiwerk ook nou plaas: Oorbodige verbindings word verwyder sodat bestaande verbindings wat meer gebruik word, versterk kan word. So word jou kind se brein vinniger en doel­treffender.

Teen drie het jou kind se brein al so gevorder dat sy op ’n bepaalde manier kan optree en uiting aan haar emosies kan gee. Taal- en bewegingsvaardighede verbeter dramaties en dit steun jou kind se intellektuele en sosiale ontwikkeling.

Jou kind leer meer in veilige, koes­teren­de verhoudings, asook deur spel. Sy vaar beter met selfsorgtakies en takies wat motoriese ontwikkeling verg.

WAT JY KAN DOEN

  • Herhaling bly belangrik.
  • As jou kind self iets wil doen, laat haar dit toe, al sukkel sy aanvanklik.
  • Leer jou kind rympies, om te dans en sing, en klap saam op die maat van musiek.
  • Uitstappies stel haar aan nuwe ervarings bloot.

Boublokke van die brein

Slaap Die brein het genoeg ononderbroke slaap nodig om alles te verwerk wat in die dag plaasgevind het. Kinders wat nie genoeg slaap nie, vaar slegter met kreatiwiteit en hoërvlak-probleemoplossing.

Aanraking Aanraking stuur boodskappe na die brein oor hoe dit moet groei en verbindings bou. Dis is hoekom massering so waardevol is. Moenie ophou daarmee as jou baba groter is nie. Dit bly selfs vir kleuters belangrik.

Interaksie Om om te gaan met ander mense en voorwerpe, is net so belangrik soos ’n voedsame dieet. Babas met wie gepraat word, vir wie gelees word en wie se pogings om te kommunikeer beloon word, vaar beter.

Voeding Goeie voeding vir optimale brein­ontwikkeling begin reeds voor geboorte en is die rede waarom aanvullings met foliensuur, yster en omega-olies vir swanger vroue aanbeveel word. Borsmelk bevat al die amino- en vetsure wat nodig is vir breinontwikkeling, en ná ses maande word dit aangevul met ysterverrykte pap. Breinontwikkeling is in die eerste twee jaar die sensitiefste vir voeding. ’n Baba moet baie vet kry omdat die miëlinasie in haar breintjie teen so ’n vinnige pas plaasvind.

Beweging, aktiewe leer & spel ’n Kind moet van geboorte af vry wees om veilig te verken en soveel moontlik te beweeg. Spel word verbind met breinontwikkeling. Dis veel beter dat jou kind iets ervaar as dat sy byvoorbeeld televisie te kyk.