Klein kwaatjie

akkreditasie
Jy gaan skrik wanneer jou baba die eerste keer 'n woedebui beleef. Sy gaan ook skrik! Omdat sy nog klein is, moet jy haar onsteltenis anders hanteer as 'n kleuter s'n.

Dis nie net jou baba se ly¬e wat ontwikkel nie, maar ook haar emosies – en drifbuie waartydens sy skreeu, stamp, slaan en styfskop is deel daarvan. Moet dit nie as ’n persoonlike aanval beskou nie; babas se drifbuie het nie met jou te doen nie. Dit gaan nie eens regtig oor woede nie; jou baba is nog nie oud genoeg om werklik kwaad te word nie. Briesende babas is anders as briesende kleuters en moet anders behandel word.

Wat beleef jou baba?

’n Baba se woedebui spruit uit ’n skielike en onverwagte verlies van emosionele beheer. Dit het verskillende oorsake en as jy kan agterkom wat tot die ontsteltenis aanleiding gegee het, kan jy haar help bedaar. Beter nog, jy kan die volgende ontplof¬ng vermy.

Voorkoming is beter as genesing

’n Mens kan dikwels voorkom dat ’n baba beheer oor haar emosies verloor deur situasies te vermy wat dit veroorsaak. Beproef gerus dié wenke.

  • Lê jou baba neer vir ’n slapie sodra sy moeg is. Oormoegheid is die hoofoorsaak van emosionele ineenstortings.
  • Voed jou baba gereeld. Babas het klein magies en het gereelde voeding nodig. Wanneer ons bloedsuiker weens hongerte daal, raak ons almal kort van draad. Babas ook. Hou ’n snoephappie of iets te drinke byderhand.
  • Gee jou baba speelgoed wat by haar ouderdom en vermoë pas. Speelgoed bo haar vuurmaakplek gaan haar frustreer. As dit lyk of sy daarom beheer wil verloor, trek haar aandag af met iets wat haar interesseer.
  • Waarsku jou kleinding voor jy van aktiwiteit verander (“Nog een swaai, dan gaan ons huis toe”).
  • Wees geduldig wanneer jou baba in ’n vreemde omgewing kom of wanneer sy aan nuwe mense blootgestel word. Angs is ’n teken dat sy normaal ontwikkel. Stel haar gerus en hou haar ’n paar minute vas terwyl sy aanpas. As dit lyk of die nuwe omgewing regtig vir haar te veel is, verwyder haar.
  • Help jou baba om nuwe vaardighede te leer soos om trappe te klim of eenvoudige legkaarte te bou.
  • Hou jou verwagtinge realisties; moenie meer verwag as waartoe jou baba in staat is nie.
  • Hou waar moontlik by ’n voorspelbare en gereelde roetine.
  • As jou baba ooremosioneel is, bly so kalm as wat jy kan. Onthou, sy kon nog nie vir jou sê wat die probleem is nie en soms is oorkook al manier waarop sy met jou kan kommunikeer. Probeer vasstel wat sy wil hê en moedig haar kalm aan om jou te wys.
  • ’n Kalmerende stemtoon en sagte aanraking sal jou baba help bedaar. Sy kan dit nie self doen nie; sy het jou hulp nodig.
  • Waak teen oorstimulasie. Babas word gou moeg as hulle heeltyd aan die gang is. Sorg vir genoeg rustige tyd by die huis tussen bekende mense en dinge.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees