Terwyl jou baba drink, sluk sy gewoonlik ’n bietjie lug wat vassteek en haar ongemaklik laat voel. Die gevolg: windjies, krampe en soms genoeg pyn dat sy begin huil. Sommige babas sukkel met hewige winderigheid terwyl ander omtrent nie daardeur geraak word nie. As jou baba ’n wind sluk, sal sy waarskynlik ophou drink. Dis omdat die vasgekeerde wind haar versadig laat voel nog voor sy genoeg melk kon drink om haar aptyt te bevredig. Sy kan selfs huil, ’n gepynigde uitdrukking op haar gesig hê of kriewel as jy probeer om haar ná ’n voeding neer te lê. Gelukkig is daar baie wat jy kan doen om jou baba meer gemaklik te help voel.

Tydens voedings

Dié posisie is belangrik. Of jy nou borsvoed of bottelvoed, jou baba se kop moet hoër as haar maag wees. Dit laat die melk tot op die bodem van die maag beweeg terwyl die lug boontoe beweeg. So is dit makliker om van winde ontslae te raak.

Ná voedings

Daar is heelparty posisies wat jy kan beproef om jou baba te help om van ’n vasgekeerde wind ontslae te raak. Eksperimenteer met elk van die onderstaande metodes om vas te stel wat die beste vir julle werk. Oor die skouer Plaas jou baba teen jou skouer terwyl jy haar boudjies met jou arm ondersteun. Klop of vryf haar rug sagkens met jou ander hand. Dit is meestal die maklikste posisie omdat jou baba gestrek en regop is. Sit regop Sit met jou baba op jou skoot sodat sy vooroor leun. Ondersteun haar hand met joune terwyl jy haar verste skouer vashou. Klop op of vryf haar rug. Gesig na onder op jou skoot Plaas jou baba so dat haar gesig na jou skoot wys. Hou haar met een hand ferm vas terwyl jy haar rug sagkens klop of vryf. Gun jou baba ’n bietjie tyd. Dit kan ’n paar minute duur voor sy ’n wind opbreek – wees geduldig! Ander aktiwiteite wat ook kan help, is magietyd en om jou baba se beentjies te laat fietsry: Laat haar op haar ruggie lê en beweeg haar beentjies op en af asof sy fietsry. Gee jou maat ook ’n beurt om winde uit te vryf – dit is ’n goeie manier om binding aan te moedig.

Wanneer word dit ’n probleem?

Somtyds kan winde en maagkrampe ’n teken van spysverteringsprobleme wees. As jou baba enige van die volgende simptome het, moet jy liewer dokter toe gaan.

Diarree of hardlywigheid Hoewel albei dié simptome taamlik algemeen by babas is, kan dit op ’n onderliggende probleem dui. ’n Groot aanduiding is ’n verandering in jou baba se stoelgang, soos die inhoud van jou baba se vuil doeke en hoe gereeld jou baba ’n vuil doek het. As sy skielik baie meer gereeld poef of skielik baie minder, is dit iets wat ondersoek moet word. Pasgeborenes poef wel partykeer vir dae aaneen glad nie en maak graag gromgeluide – die beste aanduiding van hardlywigheid is dus klein, harde, ronde poefkorrels in haar doek.

Emosionele veranderinge As jou baba gewoonlik kalm en tevrede is en skielik opstandig word en nie wil eet of slaap nie, kan iets fout wees. As jy vermoed dat jou baba koliek het, laat ’n dokter haar liewer ondersoek sodat ander oorsake uitgeskakel kan word.

Ander simptome Bloed in die stoelgang van ’n pasgeborene dui op ’n probleem en moet onmiddellik deur jou dokter ondersoek word. Die meeste van die tyd hoef jy glad nie oor winderigheid bekommerd te wees nie. Beproef die verskillende metodes en kies wat ook al die beste werk en jou baba die kalmste hou.

Raakgekoop

Telament Paediatric Colic Drops (R118,99, 30 ml) en Gripe Water (R37,99, 150 ml) help om verligting te bring vir pyn en winde. By alle groot kleinhandelaars en babawinkels te koop.

Telament

Getty Images

IS DIT KOLIEK?

As jou baba gesond is maar steeds elke dag ontroosbaar huil, kan die probleem koliek wees. Koliek begin meestal in die eerste vier weke van lewe en hou teen 16 weke op. Dit word gewoonlik beskryf as ’n gehuil wat minstens drie uur of langer per dag voortduur, meer as drie dae per week voorkom en minstens drie weke lank aanhou. Dit kan baie ouers van pure wanhoop selfs in trane hê. Hou in gedagte dat dokters en kundiges almal meen dat koliek nie so algemeen is as wat die meeste ma’s glo nie. As jy dink jou baba het koliek, is dit wys om haar te laat ondersoek sodat die dokter die diagnose kan bevestig.

Wat is die simptome?

  • ’n Harde, intense en ontroosbare gehuil wat ure lank aanhou en gewoonlik laatmiddag of vroeg saans begin.
  • Jou baba trek haar knieë tot teen haar bors of trek haar rug in ’n boog.
  • Jou baba se maag voel hard en kom geswel voor.
  • Baba hou haar asem op of word rooi in die gesig.

Wat veroorsaak koliek?

Die presiese oorsaak is nie bekend nie, maar kundiges reken dat dit van baba tot baba verskil. In ’n artikel in Acta Paediactrica, ’n joernaal oor pediatriese geneeskunde, word die volgende koliek-oorsake genoem: laktose-onverdraagsaamheid of allergie, spysverteringsprobleme, hormone, voedingskwessies en sielkundige faktore. In ’n artikel op die mediese webtuiste webmd.com skryf dr. Harvey Karp, ’n professor in pediatrie aan die Universiteit van Kalifornië: “Daar word al lank vermoed dat die hoofoorsaak van koliek spysverteringsprobleme is, maar dit is moontlik nie altyd die geval nie. Pediaters sê ook dat dit te wyte is aan temperament, die omgewing en ’n onvolwasse immuunstelsel.”

Vyf stappe wat help

Styf toedraai Draai jou pasgeborene knus toe. Dit herinner aan die baarmoeder en laat haar veilig voel.

Sy-vertroosting Lê jou baba op haar sy neer.

Witgeraas Die klank van ’n haardroër, stofsuier of motorrit is kalmerend.

Swaai Dra jou baba in ’n drasak rond. Die ritmiese bewegings is kalmerend.

Suig Gee jou baba ’n foppie. Suig aan die bors help ook.