Kyk hoe groot raak ek!

akkreditasie
Jou baba se eerste lewensjaar is soos 'n geskenkpakkie vol allerhande heerlike verrassings.

Maand 1

My lyfie

Van bewegings wat hoofsaaklik deur reflekse beheer word, vorder jou baba hierdie eerste maand tot ’n mensie wat sy koppie vir ’n kort tydjie ’n paar sentimeters kan oplig as hy op sy magie lê en sy kop van kant tot kant kan draai.

Hy kan nog nie juis sy arms en bene se bewegings beheer nie, maar kan sy handjies naby sy gesiggie bring. Sy handjies is meeste van die tyd in stywe vuisies.

Jou pasgeborene kan net in swart, wit en grys sien en het perifere visie, maar sy sig ontwikkel vinnig in die eerste maand. Hy kan vir kort rukkies fokus op voorwerpe sowat 20 cm van sy gesig af en kan mettertyd voorwerpe volg wat ’n paar sentimeters sywaarts beweeg word. Hy kan uitstekend hoor.

My verstand

Jou kleinding is gek daaroor om sy omgewing te bestudeer en sal na voorwerpe naby haar staar. Sy kan al ’n voorwerp wat sy sekondes vantevore gesien het, onthou. Sy verkies swart-en-wit of hoë kontras patrone.

My menswees

Jou baba is reeds ’n sosiale wesentjie en reageer positief as jy met hom praat of vir hom sing. Hy begin ook binne die eerste maand jou stem onderskei van ander stemme.

Hy kan oogkontak maak en kommunikeer deur geleidelik ’n groter verskeidenheid huilklanke te gebruik om sy behoeftes weer te gee soos as hy moeg of dors is. Hy sal geluidjies maak om te wys hy is gelukkig. As jy jou tongetjie vir hom uitsteek, sal hy ook sy tongetjie probeer uitsteek.

Maand 2

My lyfie

Jou aspatat kan sy kop nou al vir ’n hele paar sekondes teen sowat 45 grade oplig as hy op sy magie lê en het al meer beheer oor sy nek en kop. Die sagte plekkie (fontanel) agter op sy kop groei nou toe. Die gryprefleks en Moro-refleks begin stadigaan verdwyn.

Hy kan al klein voorwerpe vir ’n oomblik vashou en sy handjies is nou meeste van die tyd oop. Hy sal sy handjies met groot belangstelling bestudeer!

My verstand

Baba beheer sy visie al meer akkuraat en staar na voorwerpe wat in ’n patroon voor hom beweeg. Hy hou daarvan om musiek te luister en wit geraas op die agtergrond kan hom help kalmeer.

As daar geraas is, sal hy met sy ogies soek na die oorsprong daarvan. As hy opgewonde is oor iets wat kom, wys hy dit deur lyfbewegings. Hy kan duidelik onderskei tussen mense, stemme en smake en gebruik self ’n verskeidenheid klanke om sy emosies weer te gee.

My menswees

Jy word verras met sy eerste glimlaggie! Hy geniet jou en ander mense se aandag. Jou baba sal nou herhalende koergeluidjies maak as hy ontspanne is en as jy hom alleen los sal hy sy omgewing bestudeer en na voorwerpe slaan. Hy raak stil as hy opgetel word. Hy hou jou lyftaal en gebare fyn dop.

Maand 3

My lyfie

Jou baba kan sy koppie nou goed beheer en sy kop en bors oplig as hy op sy maag lê terwyl hy hom met sy armpies ondersteun. Hy hou daarvan as jy hom in ’n sittende posisie vashou en kan sy koppie regop hou. Hy skop en strek fluks met sy beentjies en het al meer beheer oor sy ledemate.

As jy sy voetjies op ’n ferm oppervlak neersit, sal hy sy beentjies styf maak om gewig daarop te dra. Meeste van sy reflekse het verdwyn. Hy volg voorwerpe met sy oë en sal uitreik na voorwerpe naby hom en daarna slaan. Hy kan ’n speelding styf vashou as jy dit in sy handjie plaas. Hy bestudeer graag sy hande en bring dit na sy mond. Sy verbeterde visie laat hom voorwerpe van ’n agtergrond onderskei.

My verstand

As jy vir hom ’n boekie gee, kan hy na die prentjie daarin staar en sal hy dit probeer aanraak. Hy luister fyn na die verskillende klanke wat hy hoor en sal stil raak om iets beter te kan hoor of skrik vir harde klanke.

Hy begin verstaan dat daar ’n verband is tussen sy handbewegings en die speelding se reaksie, byvoorbeeld as hy ’n ratel skud. Baba kan al beter onthou en sal dus opgewonde raak by die vooruitsig van ’n voeding. Hy herken ook musiek wat hy voorheen gehoor het.

My menswees

Jou baba kan nou minstens twee verskillende klanke maak. Hy reageer opgewonde op enige volwassene wat aandag aan hom gee (maar veral op sy ouers) en floreer op enige aandag.

Hy kan onderskei tussen ’n man se gesig en ’n vrou se gesig. Hy gebruik ’n verskeidenheid gesigsuitdrukkings om sy gevoelens weer te gee en hou gesigte intens dop en boots gesigsuitdrukkings na. Hy begin minder huil en meer glimlag.

Maand 4

My lyfie

Jou baba weeg nou ongeveer dubbel sy geboortegewig, maar tel nou stadiger gewig op – net sowat 20 gram per dag. Hy sit graag regop met ondersteuning en kan kante toe draai sonder hulp.

Hy kan begin omrol van sy rug na sy maag en omgekeerd, en kan sy koppie moeiteloos in alle rigtings draai en beheer sonder ondersteuning. Hy kan sy kop 90 grade lig as jy hom op sy maag neerlê. Baba kan nou doelbewus uitreik na ’n speelding en dit raakvat en rondswaai – en weer laat los. Hy kan op naby en ver voorwerpe begin fokus (diepte-persepsie).

My verstand

Jou asjas sal kan onthou hoe om met ’n sekere speelding te speel, byvoorbeeld om ’n ratel te skud. Hy sal homself graag in ’n spieël bestudeer. Sy babbelklankies begin al meer soos gesels klink met ’n verskeidenheid klankies wat gebruik word – hoofsaaklik vokaalklanke.

My menswees

Jou kleinding kan hardop lag as iets vir hom snaaks is, en sal gedurig klankies maak om jou aandag te trek. Hy maak al meer oogkontak en reageer op veranderinge in jou stemtoon. Verskillende gesigsuitdrukkings word gebruik om sy emosies oor te dra. Hy luister aandagtig na veraf klanke. Hy kan begin “moeilik” raak om jou aandag te kry.

Maand 5

My lyfie

Jou kleinding kan sonder ondersteuning begin sit. Hy kan ook al fluks oor die vloer rondbeweeg deur sy lyfie te wriemel, rol en draai. As hy op sy rug lê, skop hy met sy beentjies en in die kot sal hy plesier put daaruit om teen die kante vas te skop en hom weg te stoot.

Hy begin meer akkuraat na voorwerpe uitreik en as hy ’n speelding laat val, sal hy daarvoor soek. Hy hou speelgoed in ’n ferm greep in sy handpalm vas sonder om sy duim te gebruik. Hy sien nou volkleur en sy visie is baie na aan dié van ’n volwassene.

My verstand

Jou baba het, danksy sy groter beweeglikheid, nou meer ontdekkingsgeleenthede. Sy ogies begin nou eers goed genoeg saamwerk om werklik goed driedimensioneel te sien.

Hy fokus goed op alle afstande, maar sal verkies om na voorwerpe binne ’n 1 meter radius te kyk. As iets hom interesseer, sal hy uitreik daarna om dit te ondersoek of in sy mond te sit. Sou hy iets anders sien wat sy oog vang, sal hy dit laat val en na daardie voorwerp uitreik. Hy kan die oorsprong van ’n klank vasstel deur sy kop daarheen te draai.

My menswees

Hy kan al op sy eie speel vir kort tydjies. Soms kan hy skaam wees vir vreemdelinge, maar hy glimlag en ‘gesels’ steeds om aandag te kry. Hy maak ’n al groter verskeidenheid klanke en sal drie of vier verskillende babbelklankies maak. Hy boots klankies na wat hy hoor, asook jou gesigsuitdrukkings en hy kyk hoe jy daarop reageer.

Maand 6

My lyfie

Jou japsnoet sit nou gemaklik op sy eie sonder enige ondersteuning. As jy hom op sy magie neerlê kan hy sy bors, skouers en kop lekker hoog opstoot en dit kan begin lyk of hy wil kruip deurdat hy sy een knietjie optrek tot by sy magie.

Hy rol maklik om en beweeg met energieke bewegings oor die vloer. Hy kan albei hande gelyk gebruik (soos ’n speelding in elke hand) en ’n speelding van een hand na die ander oorplaas. Die meeste babas kry nou hulle eerste tandjie.

My verstand

Jou kleinding verken nou nie meer net speelgoed nie, maar begin meer doelbewus daarmee speel. Hy begin verstaan dat as iets val dit steeds daar is, en sal groot plesier daaruit put om ’n speelding oor en oor te laat val en weer op te tel terwyl hy die speelding wat val fyn dophou.

Jou baba ontdek nou musiek en sal op bekende musiek reageer asook op die stemming van die musiek wat gespeel word. Hy kan homself in ’n spieël of foto herken. Hy kan twee voorwerpe afwisselend bekyk asof hy hulle vergelyk. Hy kan nou die betekenis van ’nee’ begin verstaan.

My menswees

Jou kleinding kan nou begin om ’n ‘gesprek’ met jou te voer waar julle beurte neem om te ‘praat’. Hy maak ’n verskeidenheid vokaal- en konsonantklanke saam soos dadada of mamama.

Hy reageer op sy eie naam deur sy kop te draai as jy hom roep. Hy reageer ook op ’n verandering in jou stemtoon. As hy gelukkig is, lag hy lekker en hy maak tevrede borrelgeluidjies as hy rustig is, maar as hy ongelukkig is, kan hy kliphard skree. Hy kan angstig raak in sekere situasies of tussen vreemde mense en kan begin huil.

Maand 7

My lyfie

Jou baba rol met selfvertroue om en begin al meer kruipbewegings maak. Hy kan sy magie oplig om ’n tipiese kruipposisie in te neem en heen en weer wieg. As jy hom in ’n staande posisie hou kan hy al sy gewig op sy beentjies dra.

Jou kleinding ontdek nou sy voete en dis reguit mond toe! Hy het ’n ferm greep waarin hy sy duim ook gebruik en sal nie sommer ’n speelding laat val nie. Hy begin soms sy wysvinger en duim in ’n knypergreep gebruik om klein goedjies op te tel.

My verstand

Jou klein mensie kan die gesigte van bekende volwassenes onthou, al sien hy hulle nie gereeld nie. Hy weet hoe om ’n speelding te skud om geraas te maak en verstaan dat hy die mag het om ’n voorwerp te laat beweeg. As jy vir hom ’n speelding wys en dit dan gedeeltelik bedek, sal hy daarna soek. Hy besef dat voorwerpe bestaan al kan hy dit nie sien nie.

My menswees

Hy sal reageer op woorde soos: “Kyk die kat!” Hy weet ook baie beslis wat ’nee!’ beteken! Hy hou daarvan om na liedjies te luister en dit lyk of hy jou verskillende stemtone verstaan. Hy floreer op roetine en geniet jou entoesiasme en prys as hy iets goed doen. Hy sal wel vir jou in geen onseker terme wys hy is kwaad of ongelukkig.

Maand 8

My lyfie

Jou asjas raak nou die uitdaging van kruip baas en leer vinnig hoe om vorentoe en agtertoe te kruip! Sy beentjies is al lekker sterk en hy kan staan, maar sal sukkel om homself te balanseer. Hy kan homself teen meubels optrek tot in ’n staande posisie. Sy knypergreep tussen duim en voorvinger is goed ontwikkel en hy maak sy handjies met gemak oop en toe om goed te vat.

My verstand

Jou baba se geheue raak al beter en hy sal ’n speelding herken wat hy weke laas gesien het. Hy is baie nuuskierig en sal nuwe eienskappe in sy ou speelgoed ontdek, soos dat dit ’n geraas maak as jy daarop druk. Hy sal moeite doen om by voorwerpe ver van hom af uit te kom sodat hy dit kan verken. Hy kan jou gedrag begin namaak en jou klanke probeer naboots. Hy sal dieselfde klank oor en oor herhaal. Hy kan uitroep om jou aandag te kry.

My menswees

Jou kleinding sal foto’s van familielede en bekendes baie interessant vind. Hy kan angstig raak in oorvol plekke en klouerig raak as vreemde mense hom wil optel. Hy beantwoord vragies met gebare of klankies. Hy geniet die geselskap van ander babas, maar gaan nie in interaksie met hulle nie.

Maand 9

My lyfie

Jou baba begin minder groei per maand – slegs sowat 15 gram per dag en 1.5 cm per maand. Hy kan nou soos blits deur ’n kamer kruip en sy lyfie manipuleer op die vloer. Hy kan selfs met trappe probeer opkruip. As jy hom onder sy armpies vashou, kan hy treetjies probeer gee.

Hy kan homself teen meubels optrek en probeer balanseer as hy alleen staan, maar kan onseker voel en amper onmiddellik afsak in ’n sittende posisie. Jou baba kan sy arm- en handbewegings al beter koördineer en selfs twee blokkies bo-op mekaar sit. Hy kan wys na ’n voorwerp wat hom interesseer.

My verstand

Sy eerste woordjie kan dalk onduidelik wees, maar dit sal jou hart laat blom! Hy kan nou eenvoudige woordjies soos ‘mama’ sê. As jy met hom praat, kan hy luister en eenvoudige instruksies uitvoer soos “Kom na Mamma toe!”

As hy ’n interessante geluid hoor, sal hy sy spel onderbreek om ondersoek in te stel. Hy verken graag verskillende teksture van voorwerpe en sal speelgoed teen mekaar kap om geluide te maak. Hy waai terug as iemand vir hom waai en geniet bekende lyfspeletjies en rympies.

My menswees

Jou kleinding is sensitief vir ander se emosies en kan huil as jy huil of lag as jy lag. Hy hou daarvan as jy hom prys en sal dan graag ’n aksie herhaal vir jou goedkeuring. Hy is baie nuuskierig oor ander babas.

Maand 10

My lyfie

Jou kleinding kan nou jou hart laat staan deur met trappies op te kruip en dan af te gly. Hy kan staan terwyl hy aan iets vashou om hom te help balanseer. Hy hou van speelgoed wat oor die vloer beweeg.

My verstand

Jou kleinding beweeg graag sy lyfie op die ritme van musiek. Hy kan lang gesprekke met jou voer wat klink soos woorde maar nie regtig enigiets beteken nie. Hy kombineer nou verskillende klanke in een woord soos ‘ba-me’.

Hy kan ook een of twee woordjies sê met betekenis, maar die uitspraak is nie altyd duidelik nie. As jy sy naam sê, sal hy stop waarmee hy besig is en vir jou kyk. Hy probeer jou aksies naboots.

My menswees

Jou klein wonderwerkie begin nou drukkies uitdeel en dis heerlik. Hy is gek oor enige interaktiewe speletjie soos ‘waar’s hy, daar’s hy’ of lyfspeletjies. Hy kan angstig raak in vreemde plekke.

Maand 11

My lyfie

Jou baba kan nou onafhanklik staan sonder enige ondersteuning. Hy kan begin om al met die meubels langs te loop. Hy kan homself maklik in ’n staande posisie optrek en weer gaan sit deur hom stadig en versigtig te laat afsak grond toe en die laaste entjie te ‘val’ tot op sy boudjies.

Terwyl hy staan kan hy oorleun om uit te reik na ’n voorwerp op die grond. Hy kan ook al blaaie in ’n boekie omblaai, veral kartonboekies. Hy kan al ’n klein blokkie-toring bou.

My verstand

As jy met hom praat, luister hy aandagtig wat jy sê en voer eenvoudige instruksies uit. Soms sal hy enkele woordjies met betekenis uiter, maar die meeste van sy woordjies is nog nie werklike woorde nie. Hy verstaan egter byna alles wat jy sê en sal voorwerpe uitwys in ’n boekie of die omgewing as jy dit vra of benoem, soos “waar’s die kat?”. Hy kan voorwerpe in ’n houer plaas en dit weer uithaal. Hy sal jou aksies in die huis naboots.

My menswees

Jou kleinding se frustrasievlakke raak gou hoog en hy kan sy humeur verloor as hy nie sy sin kry nie. Sy buie wissel vinnig tussen goed en sleg.

Maand 12

My lyfie

Jou baba is myle verwyderd van die pap klein bondeltjie wat hy 12 maande gelede was: hy weeg drie keer meer en is die helfte langer as sy geboortelengte. As jy sy handjie vashou, kan hy loop, en hy kan enige dag onafhanklik begin loop.

Hy kan klein voorwerpe optel met die punt van sy duim en voorvinger. Hy klim met selfvertroue en kan self op ’n stoel klim. As hy vanuit ’n staande posisie afsak na ’n sitposisie, doen hy dit nou meer beheersd sonder om die laaste entjie te ‘val’.

My verstand

Jou baba kan prentjies identifiseer as jy dit benoem. Hy begin gebruiksgoedere vir hul regte doel gebruik soos om sy hare te borsel eerder as om ’n borsel te kap om geraas te maak. As jy vir hom ’n kryt gee, kan hy merke maak op ’n stuk papier.

Jou baba let op wat jy sê en sê ’n paar woordjies met betekenis. Hy kan diergeluide namaak. Verder kommunikeer hy dikwels deur kopbewegings en gebare. Hy ken die name van sy gesinslede en bekende mense. Hy voer basiese instruksies konsekwent uit solank dit net een aksie bevat.

My menswees

Jou kleinding is gek oor enige speletjies wat interaksie tusssen julle verseker. Hy is liefdevol teenoor gesinslede en deel vrylik drukkies en soentjies uit. Hy help om homself aan te trek deur sy arms uit te steek.

Hy verkies om met kinders van sy eie geslag te speel as hy in gemengde groepe is. Hy speel aktief met ouer kinders, maar langs kinders van sy eie ouderdom. Verbeeldingspel begin al meer plaasvind. Hy raak gefrustreerd as hy sukkel met iets, maar het ook ’n baie goeie sin vir humor en kan uit sy magie lekker lag.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees