Dis ’n piepklein vuisie wat styf om jou duim klem asof sy lewe daarvan afhang. Daardie vasgryprefleks van jou pasgebore baba laat elke mammahart vermurwe, maar binne ’n jaar kan dieselfde klein handjie so raakvat en kwaaddoen dat jy met nuwe oë daarna kyk!
Jou kleinding se handgreep is nou net ’n refleks wat die gryprefleks genoem word. Die oomblik dat jy aan sy handpalm raak, sal die duimpie en ander vingers ’n paar sekondes om jou vinger sluit. In die eerste maand sal jou baba sy handjie meestal in ’n vuis hou.
Saamweespret Druk jou duim vier sekondes lank saggies op die sagte deel van sy palm. Dit sal hom aanmoedig om sy handjie oop te vou.