Lief jou, Mamma

akkreditasie
Hy kan dit nog nie sê nie, maar jou baba betoon wel liefde. Hier is ses tekens dat jy wél die mees geliefde persoon in jou japsnoet se lewe is.

1. Hy staar na jou

Wanneer jou pasgeborene na jou staar, laat dit jou voel of jy die enigste en die belangrikste mens in die wêreld is. Al kan hy net 20 tot 30 cm ver sien, staan jou oë uit as gevolg van die kontras met jou vel.

Dít is waarom jou nuwe baba gek is oor gesigte en verál joune. Moedig dit aan deur te glimlag, gesigte te trek en jou wenkbroue op en af te beweeg.

2. Hy herken jou geur

Is dit nie te dierbaar as jou nuwe baba met toe ogies na jou bors soek nie? Vir jou baba is daar geen lekkerder geur as jy en jou borsmelk nie, en daarom sal hy sy koppie gereeld teen jou bors en vel druk.

Daar is selfs navorsing wat wys dat babas reeds op twee weke oud hul ma se borsmelkreuk van ’n ander ma s’n kan onderskei. As jou baba sukkel om te slaap, kan jy gerus een van jou kledingstukke langs hom in die kot sit – dit sal hom kalmeer en rustig laat slaap. (Hou dit net om veiligheidsredes van sy gesig af weg.)

3. Hy glimlag vir jou

Jou baba se eerste glimlag is betowerend en een wat jy vir altyd sal onthou. Hierdie oulike gebeurtenis vind gewoonlik vir die eerste keer tussen ses en agt weke oud plaas. Dit is sy manier om vir jou te vertel hoe lief hy jou het.

Jou baba sal al van geboorte af probeer om al jou gesigsuitdrukkings na te boots; sorg dus dat jy gereeld glimlaggies uitdeel.

4. Hy koer vir jou

Jou baba se heel eerste babageselsies sal met jou wees. Hy gebruik sy tong, lippe, verhemelte en selfs tande om geluide te maak en klanke te oefen. Voer eenvoudige gesprekke met jou baba; só lê jy die fondament vir gesprekvoering.

Jou baba ken jou stem beter as enigiemand anders s’n – hy het dit ontelbare kere in die baarmoeder gehoor en onmiddellik herken die oomblik toe hy gebore is.

5. Hy soek jou naby

Gedurende jou baba se eerste jaar sal jy vinnig agterkom hoe ongelukkig hy raak as jy nie naby is nie. Jou stem, reuk, bewegings, ritme en die manier waarop jy stap is vir hom bekend – jou kleinding was immers nege maande lank binne-in jou gehuisves.

Wanneer jy die vertrek verlaat, sal hy dalk sy lippie trek of begin huil, en dan vreeslik bly wees om jou weer te sien as jy terugkeer om hom te troos. Dit is maar net die begin van sy gehegtheid aan jou.

6. Hy vertrou jou

Het jy al gesien hoe grootoog jou baba kan raak as jy die winkels invaar en hy al die vreemde gesigte om hom sien? Of hoe jou kind sy kop tussen jou bene indruk as hy iemand nuuts ontmoet?

Jou baba gebruik jou as skild om hom te beskerm en vertrou jou om hom veilig te hou. Hy voel jou kalmte aan en dit laat hom voel dat alles onder beheer is. Luister na jou moederinstink en verwyder jou baba uit ’n situasie wanneer jy dink hy het genoeg gehad.

Só werk julle as ’n span en dit laat jou baba besef dat dit jou prioriteit is om hom gelukkig te hou.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees