Wetenskaplikes glo al lank dat daar ’n venstertydperk kort ná ’n baba se geboorte is wanneer hulle en hul ma besonder fyn op mekaar ingestel is, en dat ’n baie sterk band tussen hulle in dié tyd gesmee kan word. Daar is intussen gelukkig ook bewys dat binding nie ’n nou-of-nooit-storie is nie.

Binding tussen ouers en hul baba – die opbou van daardie diep, emosionele band tussen julle – is ’n proses wat oor ’n lang tydperk en dikwels onbewustelik plaasvind. Dit kan inderwaarheid al lank voor baba se geboorte begin. Jy was dalk salig onbewus daarvan, maar daardie eerste keer toe jy sy hartklop in die dokter se spreekkamer gehoor of sy opgetrekte lyfie op die sonarskerm gesien het, het julle al gebind. Wanneer en hoe dit gebeur, is egter nie belangrik nie.

Dat dit wel gebeur is, want binding speel ’n groot rol in die emosionele ontwikkeling van kinders. As ’n sterk band tussen ’n ma en haar baba ontbreek, kan dit haar kind se vermoë benadeel om later met ander te bind, sê kenners. Ongelukkig bestaan daar geen towerresep vir binding tussen jou en jou baba nie.

Daar is egter maniere om die band tussen julle te vestig en te verstewig.

TERWYL JY SWANGER IS

Weet hoe baba groei. As jy meer weet van hoe jou ongebore baba op die buitewêreld reageer, sal jy baie meer in voeling met hom wees. Vind uit hoe hy van week na week groei en wat hy kan hoor, sien en proe.

Vryf jou magie. Masseer jou maag, hou jou hand daarop wanneer hy skop en speel met hom deur terug te druk wanneer hy skop.

Lekker om jou te sien! Sonarondersoeke is nie net daar om jou gerus te stel dat alles met jou swangerskap vlot verloop nie. Dit is ook ’n manier om met jou baba te bind.

Maak geselsies. Groet jou baba met opstaantyd, gesels deur die dag en sê nag. Mamma se stem is een van die eerste dinge wat ’n pasgeborene herken, en een van die dinge wat hom vir baie lank baie veilig sal laat voel.

Neem ’n blaaskans. Knyp ’n halfuur of wat elke dag af om rustig agteroor te sit of te lê. Hou ’n skoptelling deur jou hand op jou maag te hou en te tel hoeveel keer jou baba in daardie paar minute beweeg. Dit is uitstekende bindingstyd en sal jou boonop gerusstel.

Maak ’n dagboekinskrywing. Skryf dit wat jy vir jou baba wil sê in ’n dagboek of joernaal neer.

IN DIE HOSPITAAL

Vel-teen-vel. Vra die suster om jou pasgebore, ongewaste baba vir jou te gee om teen jou kaal bors vas te hou voor hulle hom wegvat om geweeg te word en ander roetine-toetse te ondergaan.

Borsvoed so gou jy kan. Borsvoeding stimuleer die vrystelling van hormone, wat jou versorginginstink nog gouer sal laat inskop. Babas is meestal maar te gewillig om dadelik aan hul ma se bors te suig en hul suigrefleks is baie sterk kort ná geboorte. As jy koesterend en gefokus borsvoed, met alle aandag by jou baba, het jy ’n wenresep vir binding. Borsvoeding bevredig jou kind se voedings- en emosionele behoeftes beter as enige ander vorm van babavoeding en dit help jou om jou baba se liggaamstaal te begin verstaan.

Verlief en verstom. Om gedurig met jou baba te gesels bly ’n fantastiese manier om ’n band tussen julle te smee, maar soms hoef jy nie ’n woord te sê nie. Oog-tot-oog-kontak bevorder ook binding.

Baba by jou. Vra die susters om jou baba by jou in die kamer te laat as hy gesond en jy nie te uitgeput is nie. Dis bewys dat babas in die moederomgewing wíl wees en daarin floreer.

TERUG BY DIE HUIS

Net ek en jy. Daardie eerste twee of drie dae by die huis is baie spesiaal. Koester dit en vergeet van opstaan en aantrek. Jy en jou baba kan heeldag in die bed lê terwyl jy vir hom drukkies gee, sing of lees. ’n Voortgaande kinderontwikkelingstudie in Kanada en China het lankal reeds bewys dat ongebore babas ’n ma se stem ken en van ander stemme kan onderskei.

Naguile. Koester die stil oomblikke saam met jou baba in die vroeë oggendure. Baie babas leer gou om sonder hul nagvoedings klaar te kom. Dit maak dus nie saak of jy nootvas is nie, trek jou wiegstoel nader en begin sing.

Babamassering. Dit is een van die beste maniere om met jou nuwe baba te bind en jy hoef nie lank te wag om te begin nie. Onthou net dat jou pasgeborene gou oorgestimuleer kan word. Moet ook nie ’n slapende baba masseer nie.

Naby slaap. Om jou bed met jou baba te deel, word vir borsvoedende gesinne aanbeveel, mits veilige slaapriglyne in ag geneem word. Naby slaap help besige, werkende ouers om deur die nag met hul baba te bind. As jou baba binne reikafstand van jou slaap, verlig dit sy skeidingsangs in die nag en leer dit hom dat slaap ontspannend en lekker is, ’n staat wat vreesloos behoort te wees. Babas word honger, alleen, bang en te koud of te warm in die loop van die nag. Wees buigsaam en begryp dat dit normaal en vanpas vir baba se ontwikkeling is dat hy deur die nag wakker word en kos en aandag vra.

WAT VAN PA?

Nuwe ma’s kan baie beskermend oor hulle kleingoed wees – hulle kan dit selfs moeilik vind om die nuwe baba met pa te deel. Dit is egter baie belangrik dat jou maat tyd met jul pasgeborene deurbring. Al drie van julle sal daarby baat. ’n Vroeë sterk band tussen pa en baba verseker ’n goeie verhouding namate jou kind ouer word. Moedig dit só aan:

Voorgeboorteklasse vir albei. By die voorgeboorteklasse leer pa tegnieke aan om die geboorte makliker te maak, en hoe meer inligting hy oor die geboorte het, hoe meer voorbereid sal hy wees. Hy sal daar ook leer wat om van die baba te verwag.

Jou geboortemaat. Laat jou maat jou baba kort ná geboorte vashou, selfs vel teen vel.

Gee die leisels oor. Moedig jou maat aan om betrokke te wees by baba se daaglikse roetine en dingetjies soos doeke ruil, voedings en badtyd. Dit sal hom goed doen om te weet jul baba het hom nodig, en dit gee jou tyd om te rus. Moet hom nooit kritiseer nie.

Kry ’n drasak. Skaf ’n drasak vir pa aan. Hoe meer jou man die nuweling dophou, hoe meer sal hy hom verwonder aan hoe jul kleinding elke dag verander.

Pa die masseur. Sy groot en ferm hande sal jou baba veilig laat voel. Laat hy ’n masseerkursus voltooi sodat hy dit met selfvertroue kan doen.

EK BIND NIE MET BABA NIE

As dit regtig vir jou baie moeilik is om met jou baba te bind – dae of selfs weke ná sy geboorte – moet jy die moontlikheid van nageboortelike depressie oorweeg. Dit is ’n ernstige toestand, maar dit kan genees word. 

Getty Images
Vroeggebore of siek baba

Hoe bind ’n ma met haar baba wat in die intensiewe eenheid lê? Vroeggebore babas is besonder sensitief vir hantering en geraas. Hulle hou byvoorbeeld glad nie van streling nie.

Dus word ma’s hier geleer om hul een hand op baba se kop en die ander hand onder sy boudjies te hou. Kangaroesorg is ’n ander baie doeltreffende manier om met vroeggebore babas te bind. Dit behels dat jou baba kaal, behalwe vir ’n doek en ’n mussie, in ’n regop posisie teen jou of jou maat se bors gehou word met direkte velkontak. Gewoonlik word daar ’n kombersie of hemp bo-oor julle twee gegooi.

Só kan ’n konstante temperatuur – net soos in ’n broeikas – gehandhaaf word. Navorsing het al gewys dat vroeggebore babas wat in die kangaroestyl versorg word, vinniger gewig aansit en minder onreëlmatige asemhalingsessies beleef. Ma’s van vroeggebore of siek babas word ook aangemoedig om op ander maniere by hul baba betrokke te raak.

Sodra die baba stabiel is, kan jy self die doeke begin omruil. Borsvoeding word ook sterk aangemoedig. Selfs al melk jy uit en bêre dit (jou baba kry die melk deur ’n neusbuisie), sal jy baie meer betrokke voel.

As jou baba nog baie siek is, word ma’s meestal toegelaat om so lank as wat sy wil by haar baba te sit. Dis ook baie belangrik dat jy dan met jou baba praat.