Daar’s is min dinge wat ’n baba so van die plesier kan laat jil as wanneer hy hom teen volle spoed in sy loopring wegskiet en die wêreld uit ’n heerlike hoogte kan verken. Nog lekkerder is dat jou hande losgemaak word om gou kos te kook of die wasmasjien te laai.
Aan die een kant waarsku ontwikkelingskenners teen die gebruik van loopringe, maar aan die ander kant vertel jou skoonma dat haar kinders almal in loopringe rondgewoerts het en kyk net hoe oulik is hulle vandag.
Die eerste ding wat jy moet weet is dat ’n loopring jou kind nie gouer gaan laat loop nie. Om die waarheid te sê, in studies is gevind kinders wat dikwels in ’n loopring was, het gemiddeld later gesit, gekruip en geloop as dié wat nie loopringe gehad het nie.