Die eerste drie maande van jou baba se lewe word dikwels die vierde trimester genoem. Dit is die tyd wanneer jou baba by sy nuwe omgewing moet aanpas.

Die helder ligte, harde geraas, uiterste temperature, honger, dors en stampe en stote van die wêreld is alles dinge wat hy glad nie in die baarmoeder geken het nie.

Vanweë die grootte van ons brein moet babas die wêreld trotseer nog voor hulle regtig daarvoor gereed is – as hulle langer in die baarmoeder sou bly, sou hul kop te groot gewees het om deur die geboortekanaal te pas.

Sodra jou baba gebore word, word hy blootgestel aan swaartekrag, koue, helder ligte en baie geraas. Om alles te vererger, word hy in die meeste gevalle van sy ma geskei en in ’n vreemde omgewing geplaas wat vir hom heeltemal onbekend is en waarskynlik ook skrikwekkend. Daar is net te veel vreemde ervarings waarmee hy gekonfronteer word.

Baie hospitale doen moeite om dié enorme aanval op pasgeborenes se sintuie te versag. Hulle hou die ligte gedemp, beperk geraas waar moontlik en lê baba dadelik teen sy ma se bors waar hy haar kan hoor en ruik, waar haar lyf hom kan warm hou en waar hy teen haar bors na vertroosting en voeding kan vroetel.

Ander hospitale is egter nie so sensitief nie en dit kan ’n groot invloed op die nuwe lewetjie hê wat hulpeloos en kwesbaar is, maar terselfdertyd ’n sterk begeerte het om te oorleef en floreer.

Gewone kraam berei die baba vir die wêreld voor, maar nie ’n induksie, keisersneegeboorte of aangehelpte kraam nie. Tange of ’n vakuumsuier op die kop is nog ’n konfrontasie wat dalk nodig is in die geval van komplikasies, en hy moet dit ook hanteer. Hy kan ook van sy ma se pynmiddel inkry wat tydens en in die minute ná die geboorte sy liggaam en vermoë om asem te haal, beïnvloed.

Babas kan hul geboorte-ervaring in hul lyfie en in hul geheue berg, en dit kan die begin van hul lewe beïnvloed.

Die vroeë ervarings en invloede wat ’n pasgeborene teëkom sal bepaal hoe maklik hy (en sy ma) by die lewe buite die baarmoeder aanpas. Elke baba se geboorte-ervaring is uniek; party is goed en party is sleg – en dis deel van die lewe.

Jy kan dit alles beter maak deur te sorg dat die mensie wat jy op hierdie planeet verwelkom, deur ’n plek van liefde begroet word. Babas leer by hul ma om lief te hê – teen haar bors en in haar arms. Ons kinders gaan so baie uitdagings in die gesig moet staar. Ons begin hulle van dag een af al daarvoor toerus deur te sorg dat hul aankoms in die wêreld koesterend en met respek gevul is.

Die baarmoeder teenoor die wêreld

Baarmoeder

  • Donker
  • Volgehoue warm temperatuur
  • Kaal
  • Aanhoudende voeding
  • Gedempte klanke

Wêreld

  • Lig
  • Wisselende temperature
  • In klere
  • Hongerte
  • Duidelike, harde geraas

1. Probeer vel teen vel

Gesels voor jou verwagte kraamdatum al met jou versorger oor vel-teen-vel-aanraking onmiddellik ná die geboorte – selfs nog voor al die roetinetoetse wat jou baba moet ondergaan.

Vra of hulle die toetse kan doen met jou baba op jou bors. Dis nie nodig om jou baba dadelik ná die geboorte te meet en weeg nie; dit moet net binne die eerste uur gedoen word.

Enige medikasie wat jou baba moet kry, kan gegee word terwyl hy by jou is.

Sy hartklop, bloeddruk, suikervlak en asemhaling sal alles normaliseer wanneer hy in sy ma se arms is.

Jou baba sal warm en gelief voel knus teen sy ma in die omgewing wat hy ken.

2. Vermy skerp ligte

Beskerm jou baba se oë teen die helder ligte van ’n kraamsaal of teater deur ’n kombers of jou hand oor sy ogies te plaas.

Hy sal dikwels probeer om na jou te kyk as die ligte gedemp is. Hy sal stadig gewoond raak aan die helderder lig namate die tyd verbygaan.

3. Beperk geraas

Praat saggies en rustig met jou baba en beperk onnodige geraas. Namate die tyd aanstap, sal jou baba leer om die klanke van sy huis te herken, van die telefoon wat lui tot die hond wat blaf.

4. Draai hom liggies toe

Hy was nege maande lank in ’n piepklein ruimte; gee hom dus die geleentheid om stadig te strek. Jou baba sal soms bedaar wanneer hy liggies toegewikkel word omdat hy veilig voel en daaraan gewoond is, maar moet dit nie volgens ’n roetine doen nie. Jou baba moet sy arms en bene kan beweeg om agter te kom hy bestaan ook en hoe sy lyfie in die wêreld van swaartekrag werk.

5. Trek jou baba gepas aan

Maak seker dat jy hom nie te warm aantrek of te min klere gee nie. Probeer om die temperatuur om hom nie te veel te laat wissel nie.

6. Vertroos jou baba

In die baarmoeder hoef jou baba nooit vir kos te gevra het nie. Sy gehuil is ’n manier om jou aandag te trek wanneer hy honger, in pyn of ongemaklik is, of as hy liefde en aandag nodig het – selfs wanneer hy net verveeld is en die geselligheid van jou geselskap soek.

Onthou, hy het nog nie geleer om hom self te vertroos nie en hy maak op jou daarvoor staat. Hy sal mettertyd leer om hom self te help, maar nie in die eerste drie maande nie.

Hy is steeds ’n fetus wat ontwikkel en hierdie vierde trimester is die tyd wat hy nodig het om te groei en met jou en die wêreld te begin omgaan.

7. Gee borsvoeding ’n kans

Jou borsmelk is ideaal vir jou baba en is propvol bestanddele wat sy ingewande beskerm. Moedersmelk word maklik verteer en jou baba het altesaam 5 000 smaakknoppies in sy mond wat dol is oor die soet smaak van jou borsmelk.

Jou borsmelk word gegeur met dit wat jy eet en jou baba sal aanhou om die smake van jou kombuis te ervaar, soos hy gedoen het toe hy die vrugwater in jou baarmoeder gedrink het.

8. Teen jou lyf

Moenie dink jy bederf jou baba deur hom op te tel of teen jou lyf te koester nie. Die wande van jou baarmoeder het die heeltyd aan hom geraak en met Braxton Hicks- en ander kontraksies teen hom gedruk.

In die vierde trimester en vir so lank daarna as wat jy kan, moet jy hom teen jou lyf koester en vashou.

9. Rustige badtyd

Laat jou baba sonder te veel klere aan skop en beweeg sodat hy sy nuwe omgewing ten volle kan ervaar. Maak seker dat die kamer warm genoeg is en onthou dat badtyd die ideale tyd daarvoor is.

Die hitte en aanraking van die water sal ’n moeilike baba meestal kalmeer omdat dit hom herinner aan sy vorige tuiste in die baarmoeder.