Babas ontwikkel ’n reeks vaardighede in hul vroeë lewensjare, van sit en kruip tot loop en later selfs hardloop en trappe klim. Al dié vaardighede vereis postuur- en motoriese beheer. Hoe ryper jou kind se sentrale senuweestelsel word, hoe verder ontwikkel sy motoriese gedrag, sê Anro-mari Cohen, ’n fisioterapeut van Vredendal in die Wes-Kaap. “Jou baba se brein, skelet, gewrigte en senuweestelsel moet goed kan saamwerk en daarom ontwikkel elke bewegingsmylpaal teen ’n spesifieke ouderdom,” sê sy. Wanneer jou baba een mylpaal bemeester het, moet hy eers nuwe vaardighede aanleer voor hy die volgende mylpaal kan aanpak en oorwin. “Hy moet byvoorbeeld eers leer kruip en hom tot in ’n staande posisie kan optrek voor hy kan loop,” verduidelik Anro-mari. Ontwikkeling vind gewoonlik van bo na onder plaas. Jou baba leer eerste om sy koppie te beheer en daarna volg die res van sy lyf. “Elke mylpaal wat hy baasraak, bou op die vorige mylpaal wat behaal is,” verduidelik Anro-mari.

1. Sit

Jou baba behoort tussen ses en nege maande oud onafhanklik te begin sit. Voor sy kan sit, is dit belangrik dat sy eers die nodige spiertjies bou wat dit vir haar moontlik maak om regop te bly en haar balans te handhaaf. Doen die volgende oefeninge met jou kleinding om haar te help.

Oefenbal Plaas jou baba op haar magie op ’n groot oefenbal en rol die bal stadig in verskillende rigtings terwyl jy haar vashou – dit sal haar balans oefen. Beproef die volgende oefening as jou baba al met steun kan sit: Laat haar op die bal sit terwyl jy haar stadig vorentoe, agtertoe en kante toe wieg sodat sy haar lyfie daarby moet aanpas om haar balans te handhaaf. Hou haar heupe ferm vas.

Magietyd Versterk die spiertjies deur jou baba so gereeld moontlik op haar maag neer te lê en aan te moedig om haar kop op te lig sodat sy haar nek- en rugspiere kan oefen. Laat haar op haar magie op jou maag lê terwyl julle met mekaar gesels, of sit haar op die grond neer en lê voor haar en gesels.

Wys hoe Hierdie oefening werk van omtrent vier maande af: Sit plat op die vloer met jou bene wyd oop voor jou. Plaas jou baba tussen jou bene sodat sy met jou ondersteuning in die sirkel van jou arms en jou lyf kan “sit”. Plaas haar handjies voor haar op die grond sodat sy kan sien hoe dit haar help om haar balans te hou.

In ’n boks Tel jou kleinding in ’n boks of mandjie met kussings agter en aan die kant om haar te ondersteun. Moet haar nie alleen laat nie, maar sit by haar en gesels. Sit speelgoedjies neer waarna sy kan reik – dit ontwikkel ook haar spiere en help haar om haar balans te verbeter.

Skootspeletjies Sit op ’n stoel met jou kleinding op jou knieë terwyl sy na jou kyk en jy haar handjies vashou. Kantel haar baie effens sywaarts deur jou knieë te beweeg sodat sy haar lyfie daarby moet aanpas. Verbeter ’n ouer baba se balans deur haar op jou knie te hou terwyl jy “hop, perdjie, hop” speel.

Ekstra sterk Goeie rompbeheer is belangrik vir al jou baba se groot motoriese mylpale. Dié oefening is geskik vir babas van ses maande oud af: Tel jou baba op en hou haar onderstebo vas met haar gesig wat weg van jou wys. Jou voorarm moet dus horisontaal oor jou lyf en jou kind se lyf strek aan die bokant van haar bobene. Hou met jou ander arm jou kind se bene vas, wat nou uitgestrek en min of meer teen jou skouer behoort te wees. Draai nou jou voorarm sodat jou duim nader aan jou maag beweeg en druk jou baba effens teen jou vas. Jou baba sal probeer om regop te kom – amper soos ‘n “sit-up” – en haar kop op te lig. Aanvanklik sal sy net haar kop kan lig, maar namate haar rompbeheer verbeter sal sy haar bolyf oplig. Doen dit elke dag.

2. Kruip

Jou kleinding behoort tussen nege maande en ’n jaar oud te begin kruip. Moenie te haastig wees om hierdie fase verby te kry nie. Die oorkruisbeweging van kruip speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van jou baba se breinpaadjies en terselfdertyd ontwikkel sy fyn motoriese vaardighede, leer hy van verskillende teksture en versterk sy rug-, skouer- en nekspiere. Hier is ’n paar planne om hom aan die kruip te kry.

Kamma-kruip Sit op die grond met jou bene voor jou uitgestrek. Laat jou baba met sy magie oor jou bobene lê, met sy arms en bolyf aan een kant van jou bene en die bene aan die ander kant. Dit help hom om sy natuurlike kruipposisie in te neem en ook ’n bietjie gewig op sy arms en knieë te dra. Sit gerus ’n speeldingetjie net buite sy bereik om hom aan te moedig om daarheen te wriemel.

In die bokskryt Laat jou baba op sy ruggie lê terwyl sy handjies jou duime vashou. Buig eers die een armpie terwyl jy die ander een reguit hou, dan andersom. Begin stadig en werk ál vinniger, byna soos boksbewegings maar vloeiend. Dit help baba kruipgereed maak deur sy arms, skouers en hande te versterk.

Hang-pret Vou ’n handdoek of klein kombersie so dat dit ’n lang, dunnerige vorm aanneem. Sprei die kombers plat op die vloer en laat jou baba met sy magie dwarsoor lê, met sy bene en voete aan die een kant en sy kop, arms en bolyf aan die ander kant. Lig nou die twee kante van die kombersie stadig op sodat jy jou baba net ’n klein entjie van die grond af lig. Dit sal hom help om die natuurlike kruipposisie in te neem. Laat sak die kombers geleidelik en trek dit weer op sodat jou baba ál meer gewig op sy arms en beentjies moet dra.

Speelgoed-nuuskierigheid Laat baba op sy magie lê en sit ’n speelding net ’n entjie buite sy bereik neer. Help hom aanvanklik deur ’n opgerolde handdoek onder sy arms in te druk om hom te help om sy bolyf te lig.

3. Loop

Die meeste babas begin tussen nege en 15 maande oud loop. Omrol, sit en kruip is belangrike boublokke vir loop omdat dit al die nodige spiertjies daarvoor ontwikkel. Help hom so:

Trap-trap Laat jou baba op sy rug lê, neem sy voetjies en laat hom sagkens fietsrybewegings uitvoer deur die een beentjie te buig terwyl jy die ander een reguit maak. Dit laat die heupe ontspan.

Opstaantyd As baba al gemaklik onafhanklik sit, kan jy hom aan sy handjies uit ’n sittende tot in ’n staande posisie optrek.

Op jou skoot Laat jou vyf maande oue baba ’n paar sekondes op jou skoot staan terwyl hy gewig op sy beentjies dra. Op ses tot sewe maande sal hy in hierdie posisie op jou skoot begin wip.

Op die knieë As jou baba omtrent agt maande oud is, kan jy hom vir kort rukkies op sy knieë laat staan terwyl jy hom ondersteun. Sit voor hom sodat hy aan jou knieë kan vashou of sit ’n groot oefenbal voor hom neer waaraan hy kan vashou.

Meubelloop Teen omtrent nege maande kan jy jou baba help om hom self teen meubels op te trek sodat hy kan staan. Maak seker die meubels is stabiel en plaas hulle so van mekaar af dat hy slegs ’n treetjie hoef te gee van die een meubelstuk na die volgende. Dit is ook ’n goeie idee om ’n speelding met wieletjies aan te skaf waarmee hy kan loop en wat nie maklik sal omdop nie.

Goeie balans As jou baba gemaklik kan staan terwyl hy vir ondersteuning aan iets vashou, kan jy die volgende beproef. Sit op die vloer en laat jou baba voor jou staan met sy voetjies skouerbreedte uit mekaar vir ondersteuning. Sit jou hand op sy heup en gee ’n vinnige, ligte stootjie – baba behoort nou sy ander voetjie te verskuif om sy balans te verbeter. As hy dit goed doen, kan jy agter hom gaan staan en albei heupe liggies vorentoe stoot – baba behoort een voet vorentoe te sit om sy balans te behou. Hierna kan jy voor hom gaan staan en hom agtertoe stoot. Hy behoort ’n treetjie na agter te gee.

Oefening vir jou & baba
Lê op jou rug met jou bene gebuig en laat baba met haar magie op jou bene lê en vir jou kyk. Hou haar hande vas. Maak jou bene reguit en lig haar lyfie so op. Buig jou bene weer. Dit maak jou baba se nek en rug sterker sodat sy kan begin sit. Jy kan jou bene ook stadig van kant tot kant en vorentoe en agtertoe kantel. Dit gee haar balanseervermoë oefening.
Het jy geweet?
Jou baba sal makliker balanseer en op die vloer vastrap as sy kaalvoet loop. Vergeet eers van skoentjies!

Raakgekoop

Beveilig jou badkamerkrane met dié oulike rob van Maxi Kidz. R120, maxi-kidz.myshopify.com.

Raakgekoop

Berei jou baba se kos met die NutriBullet Baby Bullet. Bêre dit in dié verseëlbare houers wat gevries kan word. R1 599 vir ’n stel van 22 stukke, nutribullet.co.za.