As jou baba gereeld op haar magie lê, versterk dit haar nek-, rug- en skouerspiere en help dit die romp, skouers en heupe stabiliseer. Jou kind leer om haar lyfie in die omgewing te beheer en dit help weer met balans, koördinasie en liggaamsbeheer, wat die grondslag van alle bewegings vorm.
Ons word al jare lank vertel dat die beste manier om wiegiedood te voorkom, is om baba op haar rug te laat slaap – en dit is waar. Maar dié veldtog was nie sonder sy nadele nie: studies het gewys babas wat op hul rug slaap, is geneig om motories stadiger te ontwikkel as babas wat op hul magie slaap. Rugslapers begin eers later sit, omrol en kruip.
Dié wat in hulle wakker tye meer tyd op hul maag deurgebring het, het egter heelwat beter gevaar in toetse van motoriese vaardighede as dié wat min of geen wakker tyd op hul maag was nie. Babas wat min op hul maag neergelê word, kan ook vir ’n korter tydperk kruip, wat middellynkruising beïnvloed.