Moet ek byvoeding gee?

akkreditasie
Hier's die antwoord.

Vraag:

Ek borsvoed my baba van drie maande. Ek het begin uitmelk om vas te stel hoeveel melk sy inkry. Daar het baie min melk uit my borste gekom, en my ginekoloog het toe ’n pilletjie voorgeskryf om my te help om meer melk te produseer.

Ná hierdie medikasie kon ek ’n bietjie meer uitmelk. Uit wanhoop het ek formule-byvoedings begin gee. Ek voel skuldig daaroor, maar wil nie hê my kind moet honger ly nie. Ek het nou gehoor dat babas meer melk uitsuig as wat ’n borspomp kan uitmelk. Is dit waar? Het ek my verniet bekommer en verniet formulemelk gegee?

Antwoord:

Alle ma’s wonder hoeveel melk hulle produseer en ’n ma kan bekommerd en angstig word as sy begin dink sy het nie genoeg melk vir haar baba nie.

Dis baie belangrik dat alle mammas verseker word dat hulle met ondersteuning en die regte inligting genoeg melk vir hul babas kan produseer.

Elke ma se melk het ’n unieke samestelling en unieke hoeveelhede daarvan word geproduseer na gelang van die baba se behoeftes.

Daar is belangrike tekens waarvan ’n mens bewus moet wees om te bepaal of jou baba genoeg borsmelk inkry. ’n Baba wat genoeg melk per voeding drink, sal:

  • gereeld voed – minstens agt tot 12 keer binne ’n tydperk van 24 uur,
  • die voeding self beëindig,
  • duidelik hoorbare slukgeluidjies maak,
  • vier tot ses nat weggooidoeke hê, behalwe in die eerste twee tot drie dae ná geboorte, wanneer dit net een tot twee nat doeke kan wees omdat kolostrum in klein hoeveelhede geproduseer en benodig word, en
  • genoeg gewig aansit, soos aangedui sal word op die groeikurwe in sy Pad na Gesondheid-boekie.

Die doeltreffendste manier om die bors leeg te trek en genoeg melk te produseer, is om baba aktief aan die bors te laat drink. Die gesuig aan die bors, die intimiteit daarvan asook die vel-teen-velkontak stimuleer borsmelkproduksie, iets wat nie heeltemal met ’n borspomp nageboots kan word nie.

Baie ma’s skrik dan wanneer hul aanvanklik baie min melk uitpomp. Party kry dit egter van die begin af reg om genoeg met ’n borspomp uit te melk. Ander het meer tyd nodig voor hulle doeltreffend en genoeg kan uitmelk.

Om meer doeltreffend uit te melk, moet jy diep asemhaal en ontspan, gereeld uitmelk en jy kan ’n foto of selfs ’n kledingstuk van jou baba byderhand hou terwyl jy uitmelk. Dit kan help om die hormone te stimuleer wat vir borsmelkproduksie nodig is.

Die middel wat die meeste deur dokters in Suid-Afrika voorgeskryf word om borsmelkproduksie ’n hupstoot te gee, is sulpiried (handelsnaam Eglonyl), ’n middel wat eintlik gebruik word in die behandeling van toestande soos skisofrenie en depressie.

Een van die newe-effekte van dié middel is dat dit die hormoon prolaktien stimuleer. Vir ’n borsvoedende ma kan dit dus prolaktienafskeiding aanhelp en so borsmelkproduksie opstoot. My ondervinding is dat ma’s nie weet waarvoor die middel eintlik bedoel is nie en ook nie hoe om gebruik later te staak nie. As hulle dit ophou gebruik, daal hul melkproduksie baie vinnig en baie drasties.

Omdat hulle nie daarop voorbereid was nie, begin hul óf weer die middel gebruik, óf hul glo hul borsmelk het opgedroog en dan hou hulle op borsvoed. Melkprodkusie kan egter verhoog word met verskeie natuurlike metodes, soos voeding op aanvraag eerder as volgens die horlosie, vel-teen-vel-aanraking, emosionele ondersteuning en ontspanningstegnieke.

Fenegriek kan saam met geseëndedissel gebruik word as tee ’n of aanvulling. Nog ’n manier om melkproduksie te verhoog is om bottels en fopspene te vermy en jou baba aan te moedig om al haar suigbehoeftes aan die bors te bevredig.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees