’n Baba & Kleuter leser vra:

"Ek borsvoed my baba van sewe maande en is van plan om so lank moontlik daarmee aan te hou. Ek wil egter nie nou weer swanger raak nie en het gehoor dat voorbehoedpille melkproduksie kan onderdruk.

"Hoekom? Wat kan ek gebruik?"

Lisanne du Plessis antwoord:

Dis ’n goeie plan om jou dokter se mening oor al die beskikbare voorbehoedmetodes in te win.

Eksklusiewe borsvoeding in die eerste ses maande van jou baba se lewe beskerm jou meestal teen ’n volgende swangerskap.

Dit word die laktasie-amenorreemetode (LAM) genoem.

Dit is 98 persent veilig as jou baba net borsmelk en geen ander vloeistof of vaste kos kry nie, as jou menstruasie nog nie teruggekeer het nie, as jou baba jonger as ses maande is en as sy bedags minstens elke vier en snags minstens elke ses uur drink.

Wanneer jou baba ná ses maande vaste kos begin eet, kan volgehoue borsvoeding ovulasie en menstruasie steeds onderdruk, maar is dit nie meer so doeltreffend soos in die geval van eksklusiewe borsvoeding in die eerste ses maande nie.

Kondome, diafragmas en ander toestelle kan ingespan word as jy ’n metode verkies wat nie hormone insluit nie.

Daarmee het jy ’n kans van sowat 90 persent om nie swanger te raak nie. As jy hormoonbevattende middels gebruik, beland daar klein hoeveelhede hormone in die borsmelk.

Kundiges is dit egter eens dat progestienbevattende pille versoenbaar is met borsvoeding.

Studies het gevind dat die Pil wat nét progestien bevat, min of geen uitwerking op borsvoeding het nie.

Daar word tans aanbeveel dat mense van ses tot agt weke ná geboorte met die progestienbevattende Pil wegspring.

Die Pil wat estrogeen bevat word egter nie as die beste keuse vir borsvoedende vroue beskou nie omdat estrogeen melkproduksie en duurte van borsvoeding kan verlaag.

Die nuwer soorte kombinasiemiddels wat progesteroon en estrogeen bevat, bevat egter deesdae minder estrogeen as in die verlede en kan met veiligheid gebruik word vanaf ses tot agt weke ná geboorte.

Die metodes hierbo genoem kan met die LAM-metode gekombineer word om beter beskerming teen ’n volgende swangerskap te verseker.

E-pos jou vrae na yolandi@babaenkleuter.co.za. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.