My kleine ogies

akkreditasie
Gaan hy 'n blouoog-hartebreker wees en sy 'n oulike bruinoog-meisie? Waardeur word jou baba se oogkleur bepaal?

Babas van nie-Koukasiese afkoms (wat onder meer ’n Afrika- of Asiatiese afkoms insluit) word meestal met donkergrys of bruin oë gebore wat die res van hul lewe donker bly.

Babas van die Koukasiese ras (met ander woorde dié met ’n ligte velkleur en hoofsaaklik van ’n Europese herkoms) word gewoonlik weer met donkerblou of ligte grys oë gebore wat verskeie kere van kleur kan verander tot die baba een jaar of ouer is.

Is dit oëverblindery?

Die hoeveelheid melanien in die iris (die gekleurde deel) van ’n baba se ogie bepaal hoe sy oogkleur gaan verander. Melanienvlakke word weer bepaal deur die gene wat ’n baba geërf het, en word deur ons selle geproduseer.

Dit is hierdie pigment wat verantwoordelik is vir die kleur van jou vel, hare en oë. Net soos sonlig ons velle laat verdonker, maak lig met die iris.

Die melanienproduksie van die iris van ’n pasgeborene skop al af in die teater of geboortekamer wanneer dit aan die eerste helder lig blootgestel word.

Met net ’n titseltjie melanien sal jou baba se dowwe grys ogies na blou begin neig. As daar meer melanien is, kan jou baba se oogkleur verander na groen of ’n haselneutbruin. Hoe meer melanien, hoe donkerder sal die ogie word wanneer dit aan lig blootgestel word.

Dit lê alles in die gene

Genetika speel verreweg die grootste rol in ons oogkleur. ’n Baie vereenvoudigde manier om na genetika en oogkleur te kyk is om te sê dat as:

  • albei ouers bruin oë het, hul kind ’n kans van 75 persent het om ook ’n bruinoog te wees,
  • albei ouers bruin oë het, en een van die oumas of oupas blou oë, die kind ’n klein kans het om ook blou oë te hê,
  • mamma blou oë het, maar pappa s’n is bruin, die kind ’n kans van 50 persent het om enige van die twee oogkleure te hê, of
  • albei ouers blou (of groen) oë het, die kans byna 100 persent is dat hul kinders ook ligte oë sal hê.

Om te verstaan hoe bogenoemde werk, moet ’n mens iets van die werking van gene verstaan. ’n Wetenskaplike verduidelik dit só: Gene kom in pare voor, maar elke geen in ’n paar kan effens verskil.

Gene kan ook dominant of resessief wees – die dominante geen oorheers altyd die resessiewe geen.

Resessiewe gene kan egter ook ’n bepalende faktor wees – dít is wanneer albei gene in ’n paar resessief is. Oogkleur is ’n goeie voorbeeld: Bruin (B) is die dominante geen, terwyl blou (b) of groen resessief is. As jou geen Bb is, sal jou oë bruin wees, maar as jy ’n bb-geen het, sal jou oë blou wees, want daar is geen dominante bruin geen om die resessiewe blou geen te oorheers nie.

Dinge begin ingewikkeld word wanneer een ouer blou oë het (en twee blouoog-gene het, oftewel bb) en die ander ouer bruin oë het (met ’n resessiewe blou-oog geen, oftewel Bb). In sulke gevalle erf die kinders elkeen ten minste een resessiewe blouoog-geen.

Afhangende daarvan of die ander geen in hul geenpaar dominant of resessief is, het só ’n paartjie se kinders ’n kans van 50 persent om bruin oë te hê.

Wanneer daar twee pare “gemengde” oogkleur-gene (Bb) betrokke is, het die kind ’n kans van 25 persent om twee resessiewe gene te kry en dus blou oë te hê, maar ’n kans van 75 persent om die dominante bruin geen te kry. Hierdie bruinoog kinders kan óf ’n paar dominante gene óf ’n paar gemengde gene hê.

Almal sal bruin oë hê, want elke kind het ’n resessiewe geen van die een ouer gekry en ’n dominante geen van die ander ouer. En die dominante geen sal altyd die resessiewe geen uitkanselleer.

Winde van verandering

Die mees dramatiese veranderinge in ’n baba se oogkleur gebeur tussen die ouderdom van ses en nege maande. Teen hierdie tyd het die iris genoeg pigment bymekaargemaak sodat jy ’n oogkleurvoorspelling kan maak. Jy kan egter nog steeds verkeerd wees, want baba se ware oogkleur sal eers teen ongeveer drie jaar duidelik wees.

Dit is egter baie fyn veranderings in kleur wat ná een jaar nog plaasvind, soos byvoorbeeld groen oë wat stadig maar seker ’n haselneutkleur verkry. Sowat 10 persent van mense se oogkleur kan egter nog tot in hul volwasse lewe verander.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees