Mylpale wat mamma gelukkig hou

akkreditasie
Ons kyk deur ’n ma se oë hoe ’n baba in die loop van sy eerste jaar ontwikkel. Ons gee slim wenke om hom te stimuleer, en die belangrikste van alles… om hom sommer net te geniet.

Maand 1

Is daar ’n groter oomblik as om jou baba die eerste keer vas te hou? Jou volmaak geskepte handjie krul styf om my vinger. As ek aan jou wangetjie raak, draai jy jou kop outomaties daarheen, soekend na my bors.

As jy dit kry, suig jy instinktief en sterk. Reeds met geboorte het jy gereageer op skerp lig deur jou gesiggie op ’n frons te plooi, en harde geluide laat jou jou arms wyd oopgooi en huil. Maar as ek jou styf teen my vashou, word jy rustig.

Jy ontwikkel letterlik elke dag: Ná die eerste week kan jy jou koppie vir enkele sekondes effens skuins lig terwyl jy op jou magie lê, hoewel maar taamlik bewerig! Ek hanteer jou soos iets broos wat maklik kan breek, want jou nekspiere is nog nie sterk genoeg om jou kop regop te hou nie. Maar elke week sien ek hoe dit sterker word.

Soms speel ek met jou deur ’n ratel so 20 cm van jou ogies te hou – dan kyk jy ’n paar sekondes lank stip daarna. As ek dit van kant tot kant beweeg, volg jou ogies dit gewoonlik. Terwyl ek jou borsvoed, kyk jy stip na my gesig asof jy wil peil hoe hierdie vrou lyk wat jou ma is.

As ek met jou praat of vir jou sing, luister jy aandagtig of beweeg jou arms en bene opgewonde. Kenners reken jy kan my en jou pa van ander mense begin onderskei en herken ons reuk. Jy slaap nog die meeste van die tyd en word elke drie tot vier uur wakker om te drink.

Maand 2

Jy het hierdie maand jou eerste glimlaggie gegee! My hart wou sommer smelt. Jy lig reeds jou kop sowat 45 grade wanneer jy op jou magie lê en kan dit 10 sekondes so hou.

As jy sit, kan jy jou kop sowat vyf sekondes lank regop hou. Jou handjies is al meer oop en jy begin jou vingers beweeg. Soms sal jy per ongeluk iets vasgryp en dit in jou mond probeer druk, gewoonlik sonder sukses.

Jy raak ál meer bewus van jou omgewing en skrik nie meer so maklik vir geluide nie, maar luister eerder belangstellend na die klanke. Jy bestudeer dit wat jy sien met belangstelling. Ek kan sien jy weet wanneer pappa praat en wanneer dit mamma is.

As ek met jou gesels, gesels jy lekker terug met aaa- en eee-klankies. En jy hou baie fyn dop wat ek doen. As dit amper badtyd is, word jy vreeslik opgewonde.

Jy bly al ’n bietjie langer op ’n slag wakker en is dol daaroor as iemand met jou speel en gesels.

Maand 3

Jou nekkie is nou al lekker sterk! Wanneer jy op jou maag lê, hou jy dit maklik ’n minuut lank regop teen ’n hoek van 90 grade, met jou armpies voor jou uit om jou te stut. As jy regop sit, kan jy jou kop al ’n hele ruk regop hou, maar jou ruggie is nog krom gebuig.

Ek sit graag ’n speelding in jou handjie; dan hou jy dit styf vas en probeer dit in jou mond sit of met jou ander hand gryp. Jy volg voorwerpe ál makliker met jou ogies.

En is jy nie ’n vriendelike mensie nie! Jy glimlag graag en gesels ook ál lekkerder, met ’n groter verskeidenheid klankies.

Maand 4

Dis te oulik: Wanneer ek jou nou op jou magie neerlê, gedra jy jou soms soos ’n hobbelperdjie, want jy lig jou bene en jou arms in die lug en wieg heen en weer op jou maag! As ek jou uit ’n lêende posisie optrek, hou jy jou koppie mooi styf en regop.

Jy het nou jou hande ontdek en speel graag daarmee: Jy bring dit voor jou gesig, bekyk dit, en soms kry jy dit per ongeluk bymekaar. En jy raak ál beter daarmee om goed in jou mond te sit – ek moet net keer, want partykeer is dit my hare wat jy daar wil indruk!

Jy kan nog nie sit nie en as ek jou heupe vashou, hel jy oor na die kant toe. Maar ek kan sien jy’s amper daar. Dis vir my so lekker as jy so opgewonde raak en lekker lag wanneer ek jou kielie of met jou gesels.

Maand 5

Jy het dié maand die eerste keer self van jou maag na jou rug omgerol! (Dit was wel per ongeluk, maar darem.) Wanneer ek jou regop op my skoot laat staan, kan jy jou gewig ’n paar sekondes lank op jou beentjies dra.

Jy is dol daaroor om onder jou babagim te lê en uit te reik na die speelgoed – dit gee my darem ’n blaaskans. Jy kan al mooi uitreik en raakvat. Ek sien ook dat jy ál fyner ingestel raak op geluide in die omgewing.

En as ek kwaai met jou praat, lyk dit of jy verstaan want jy frons! Nadat jy maande lank lekker gesels het, voel dit nou asof jy minder kan sê as voorheen, maar die klinieksuster sê dis normaal.

Maand 6

Jy stoot jou al met jou arms op met jou hele bors gelig. As ek ’n speelding voor jou neersit, kan jy selfs die gewig verplaas na jou een hand en met die ander hand daarna uitreik. As die voorwerp iewers voor jou lê, sal jy albei arms daarna uitsteek en vorentoe probeer wieg – ek dink jy begin oefen om te kruip.

Jy hou daarvan as ek jou op my skoot regop trek om te sit – jy probeer jou sommer self optrek en hou jou koppie mooi regop. Jy staan al langer en stewiger op jou beentjies. As ek nou ’n speelding bo jou hou, vat jy dit maklik raak met jou een handjie. Dit gaan natuurlik heel eerste mond toe!

Jou oortjies is fyn en selfs as ek saggies in die kamer werk, hoor jy my. Jy gesels ook weer fluks en maak nou “sinne” van dadada en mememem, teen allerhande toonhoogtes en volumes.

Dis musiek in my ore wanneer ek soggens wakker word! Dit was dié maand tyd vir jou eerste vaste kos – jy geniet hierdie nuwigheid sommer baie!

Maand 7

Jy rol nou van jou magie af tot op jou rug – en dis nie meer per ongeluk nie. En jy het jou voete ontdek. Watter heerlike speelgoed is dit nie, veral as jy dit in jou mond kan druk.

Jy is gek daaroor om op my skoot rond te bons as ek jou in ’n staande posisie hou. Boonop kan jy deesdae ’n blokkie in elke hand vashou sonder om dit te laat val. Mooi so! Jy kan ook ’n blokkie nader bring en met albei handjies omdraai en oor en weer aangee terwyl jy dit van naderby bestudeer.

En jy het ontdek dat daar dinge in die wêreld bestaan wat jy nie kan sien of hoor nie. As jy ’n speelding laat val, soek jy dit (of verwag van my om dit te soek). Ons speel alte lekker kiekeboe.

Dan skater jy soos jy lag wanneer ek weer verskyn! Jy sê allerhande klankies – maar ek verstaan niks!

Maand 8

Jy sit alleen, weliswaar net ’n paar sekondes lank. Aanvanklik het jy jou nog met jou handjies ondersteun, maar nou kry jy dit reg om jouself heeltemal regop te hou.

Dit lyk vir my asof jy al jou vorige vaardighede hierdie maand verder verfyn, soos om met blokkies te speel. Jy probeer nou jou bes om vorentoe te beweeg – en soms beweeg jy in ’n sirkel om jou eie as.

Iets nuuts hierdie maand is dat jy ewe skielik skaam is vir vreemdelinge. Om die waarheid te sê, jy wil omtrent na niemand anders toe gaan nie! Jou ouma is nie baie gelukkig hieroor nie.

Ek geniet dit dat jy nou belangstelling toon in alles wat ek doen, van skryf tot huiswerk. Jy het die spieël in ons kamer ontdek en dit het jou ure se plesier verskaf. En gister het jy agtergekom jy kan fluister!

Maand 9

Jy seil op jou maag rond deur jou aan jou armpies vorentoe te trek. En jy sit al gemakliker op jou eie, hoewel jy
soms omval as jy konsentrasie verloor, maar dan ondersteun jy jou met jou arms sodat jy nie val nie. Jy kan al regop staan as ek jou handjies vashou – maar ná ’n kort rukkie sak jy weer grond toe.

En jy maak my moeg met jou nuwe speletjie: Jy het mos nou ontdek dat jy iets doelbewus kan laat val. En nou laat val jy alles – en ek moet dit optel. Vandag het jy die eerste keer “mamma” gesê. Ai, ma se kind!

Maand 10

Jy wieg al heen en weer in ’n kruipposisie, maar dit lyk of jy nog nie lekker weet watter arm en been eerste moet wees nie. Jy kan al self van ’n lê- tot ’n sitposisie verander.

Verder trek jy jou gedurig teen die meubels op tot in ’n knielende of staande posisie. Soms laat los jy die meubels en staan ’n lang ruk op jou eie. Jou handjies werk al beter saam en jy kan die kleinste, fynste goed tussen jou wysvinger en duim optel. En goed rondgooi – ’n heerlike speletjie.

Dis ’n stryd om jou van die radio af weg te hou, want jy wil net knoppies druk. En jy is ’n regte na-apertjie – waai al oulik tot siens en sê tatta, of klap jou handjies wanneer ek myne klap. Dis lekker as ek agterkom dat jy al verstaan wat ek vir jou sê en jou naam herken. Jy praat baie en dit klink soos sinne, maar dis steeds vir my Grieks.

Dis vir my interessant om te sien dat jy jou ál langer kan besig hou. En jy gee die heerlikste drukkies.

Maand 11

Jy kruip! En vinnig ook! Jy loop ook ál met die meubels langs of as ek albei jou handjies vashou, maar het nog nie
die moed om dit alleen aan te durf nie. As die afstand tussen meubels vir jou te groot lyk, sak jy af grond toe en val met ’n sagte plof op jou sitvlak.

As jy iets kleins op die grond sien lê, tel jy dit op tussen jou duim en voorvinger, en jy is gek oor speletjies waar ek iets wegsteek en jy dit soek.

Jy begin nou ook gereedskap gebruik – soos om jou bal met die stok nader te hark, of die tafeldoek te trek omdat jy iets bo-op die tafel wil bykom! As ek jou vingerkos gee, eet jy dit self en jy hou ook jou drinkbekertjie met albei handjies vas.

Jy maak ál meer klankassosiasies en “praat” al met sekere klanke in sekere situasies. Dis brrr vir kar en njam-njam vir kos. En dan natuurlik mamma en pappa! Jy verstaan nog veel meer as wat jy kan sê. Jy weet beslis wat “nee!” beteken.

Maand 12

Ek kan skaars glo dat ek ’n jaar gelede met jou in die hospitaal gelê het. Dit voel soos gister dat ek nog so onseker oor jou was! En daar verras jy ons vandag met jou eerste treetjies! Dit het maar sukkel-sukkel gegaan, maar jy het weer en weer probeer.

Ouma het vir jou ’n vormsorteerder gegee – en jy plaas die vormpies al presies daarin, sonder huiwering. Dis ongelooflik om te sien hoe akkuraat jy kan vat en plaas.

Jy sê al ’n hele paar woordjies mooi, soos “woefie” vir Wagter, en as ek jou stuur, luister jy tog te mooi en voer my opdraggie uit – as jou aandag nie langs die pad deur iets interessanters afgelei word nie!

Jy deel graag drukkies uit en kry al soms vloerstuipe wanneer jy nie jou sin kry nie (definitief pa se kind!). Vandag het van jou maatjies kom kuier en dit was duidelik dat jy dit baie geniet het, al het julle nie regtig met mekaar gespeel nie.

Hoe jy kan help?

0-3 maande

Die eerste paar maande is jy jou baba se beste stimulasie: Gesels met haar, maak oogkontak, sing vir haar, hou haar vas, troos haar as sy huil, dans met haar op die maat van musiek, dra haar teen jou lyf, laat lê haar op jou bors, masseer haar lyfie.

Jy kan haar ogies oefen deur haar stadig bewegende voorwerpe te laat volg, en haar interessante patrone te gee om dop te hou. Babas kyk aanvanklik langer na soliede kleure as effekleure en veral sterk kontras sal hul aandag hou.

Maak verder seker jy gee jou baba baie magietyd om haar nek- en rugspiere te help ontwikkel.

3-6 maande

Met dié dat jou baba ál wakkerder is, kan jy meer stimulerende aktiwiteite aanpak wat haar aanmoedig om haar lyfie te gebruik in strek- en uitreikbewegings.

Maak seker sy het ’n bewertjie bo haar bed of stootwaentjie wat sy kan dophou, sing vir haar liedjies, gee haar blootstelling aan verskillende teksture, laat lê haar onder haar babagim. Speel met haar op jou skoot en op die grond. Sit sokkies met klokkies aan haar voete en stut haar in ’n sittende posisie sodat sy die wêreld kan sien.

Gaan stap gereeld met haar in die stootwaentjie. Speel lyfspeletjies en -rympies, geeen- neem-speletjies en kiekeboe.

6-12 maande

Sodra baba begin rondbeweeg, gaan ’n hele nuwe wêreld om te ontdek vir haar oop. Moedig haar vaardighede aan met vormsorteerders, sagte boublokkies of houtblokkies, tyd in die sandput, eenvoudige houtlegkaarte met knoppies aan, en speelgoed wat reageer wanneer sy dit aanraak. Gun haar dit om jou plastiekkas uit te pak.

Lees boekies met eenvoudige prentjies en benoem wat julle sien. Laat haar ontdek en klim en seil. En prys haar oorvloediglik!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees