'n Handleiding vir jou pasgeborene

akkreditasie
Jou baba word nie met 'n handleiding gebore nie, maar dié babasorgwenke sal jou deur die eerste weke help.

Dis nie nodig om met elke doekomruil boudjieroom te gebruik nie,

veral nie as jou baba ’n borsbaba is nie. Boudjieroom kan die doeltreffendheid van die absorberende jel in die weggooidoeke fnuik. Ruil doeke die oomblik as jy ’n poef gewaar en moenie dat jou baba lank in ’n nat doek bly nie. Sodra dit egter lyk of daar ’n uitslag vorm, moet jy room aansmeer. ’n Bietjie tyd met ontblote boudjies in die vars lug verrig ook wondere.

Moenie bang wees vir jou baba se naelstring nie

Dis nie seer as jy dit skoonmaak nie. Gebruik watte en chirurgiese alkohol en vee goed rondom die naelstring elke keer wanneer jy jou baba se doek ruil. Die stompie sal binne tien dae afval. Gaan dokter toe as die naelstring vrylik bloei of ’n afskeiding het wat sleg ruik.

Baie babas word met lang naels gebore

en omdat die naels skerp is, kan jou baba haar lelik krap. Hou die naeltjies kort – dis meestal nie eens nodig om dit te knip nie; jy kan dit met jou vingers ná badtyd afrol as die naeltjies sag is. So nie, kan jy ’n vyl of naelknippertjie inspan wanneer sy slaap. As jou baba aanhou om haar te krap, kan jy vir haar klein handskoentjies aantrek.

Jou baba se vel

is nog baie dun en sensitief en geboortemerke is baie algemeen. Baie babas sal “ooievaarsbyte” op hul ooglede en agter hul kop net bo die nek hê. Dit sal vanself weggaan. Gebruik net velsorgprodukte wat goedgekeur is vir gebruik op pasgeborenes. Smeer jou baba ook ná badtyd in om te voorkom dat haar vel uitdroog.

Baba se neusie

hoef nie binne skoongemaak te word nie. As die neusie 'n bietjie verstop is, kan jy homeopatiese druppels gebruik of selfs 'n bietjie borsmelk daarin drup.

Jy kan jou baba se ogies

reinig met 'n klam wattebolletjie - een vir elke oog. Gebruik afgekoelde kookwate. Vee liggies van die binnehoek na die buitehoek om aanpaksels te verwyder. As die ogies skoon is, hoef jy dit nie te doen nie.

Babaskilfers

kom baie algemeen voor en dit beteken beslis nie dat julle vuil is nie. Moenie daaraan krap nie. Smeer liewer saans bietjie olyfolie wat die skilferkorsie sal help lig sodat jy dit die volgende dag met sjampoe kan afwas. Dit sal 'n paar dae duur. As die skilferkors erger word kan jy jou apteker vro om iets aan te beveel.

Jou baba se ore

is baie deklikaat en hoef nie binne skoongemaak te word nie. Jy kan die oorskulp en agter die oorskulp met 'n nat lappie vee as melk of spoeg daar opdam. Maak seker dat baba se oorskulp nie 'n knak het as jy haar op haar sy neerlê nie. Wees versigtig om met badtud nie water in die oortjies te laat inloop nie. 

Jou baba se mond

hoef nie skoongemaak te word nie. 'n Wit lagie op die tong en aan die binnekant van die mond kan dalk sproei wees. Jou pediater sal jou vertel wat om te doen.

Onthou om in die voutjies van jou baba se nek skoon te maak

Jou baba kan haar koppie nog nie lig nie, en melk en spoeg loop maklik in haar nekkie af en pak dan daar saam.

Jy hoef jou baba net elke drede dag te bad. Op die ander dae kan jy haar 'n bo-en-onder-bad gee.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees