'n Veilige huis

akkreditasie
Beveilig jou huis en omgewing só om ongelukke te voorkom

Peuters is gek daaroor om die wêreld te verken en ontdek, maar ’n onveilige huis en ’n woelige kleinding is ’n baie gevaarlike kombinasie. Al is klein stampies en stootjies ’n feit van die lewe, kan jy die voorkoms en erns van ongelukke dramaties help verminder deur ’n paar eenvoudige aanpassings in die huis te maak en basiese reëls in gedagte te hou. Hier, ’n volledige veiligheidsgids vir jou huis en omgewing.

1. Waterveiligheid

Elke dag verdrink daar minstens een kind in Suid-Afrika en kinders onder die ouderdom van 4 jaar verdrink twee tot drie keer meer as kinders in enige ander ouderdomsgroep.

Kinders verdrink nie net in swembaddens en die see nie. Hulle verdrink ook in dromme, emmers en baddens met water wat slegs 4 cm diep is.

Dis hoekom ons nooit ’n peuter alleen naby water mag laat nie, nie eens vir ’n oomblik nie. Dis ook nie ’n goeie idee om ’n ouer kind te vra om toesig oor die peuter te hou nie, want kinders se aandag kan maklik deur iets afgetrek word. Jou kind is selfs nie op haar eie veilig in ’n badring nie.

Leer dus gerus jou kind vroeg reeds om te swem, of anders oorlewingsmeganismes soos om op haar rug te draai wanneer sy in water beland. Swembaddens en visdamme moet bedek wees met veiligheidsnette. Tap die water uit wanneer julle klaar gebad het en seël die doekemmer dig.

2. Vergiftiging

Die groot sondaars hier is medisynes, paraffien en huis-skoonmaakmiddels. ?Sluit dus alles wat giftig is, veilig weg waar klein handjies dit nie kan bykom nie. Onthou ook om geen vloeistof behalwe koeldrank in ’n koeldrankbottel te gooi nie en skroef altyd kinderveiligheidsdoppies vas op bottels wat paraffien bevat.

Leer kinders so vroeg moontlik om nie bessies of plante in die tuin te eet nie, en maak jou tuin maar vir die volgende jaar of drie verbode terrein vir giftige plante.

Peuters word juis bekoor deur die helder kleure, soet geure en interessante verpakking van baie huishoudelike skoonmaakmiddels wat potensieel giftig is. Alle medisyne, oor-die-toonbankmiddels en vitamienstroop inkluis, moet buite bereik van kinders gebêre word. Onthou dat baie moderne kinderpille gemaak word om soos lekkergoed te lyk!

Hou ook ’n ogie op wat ander mense in jou huis inbring. Ouma se handsak kan ’n groot uitdaging vir enige peuter wees en haar pille kan vir lekkers aangesien word.

3. Brandgevaar

’n Brandwond wat binne sekondes plaasvind kan ’n kind lewenslank skend. Kinders brand maklik met warm vloeistowwe soos water, olie, paraffien, koffie en tee. Plaas dus altyd warm vloeistowwe buite die bereik van klein kinders en moet dit nooit hanteer terwyl jy jou baba vashou nie. Potte en panne se handvatsels moet na die agterkant van die stoof gedraai word.

Tap altyd eers die koue water in die bad en toets die badwater met jou elmboog.

Oop vure moet altyd afgeskerm word en onthou, ’n vuurskerm van glas kan derdegraadse brandwonde veroorsaak. ?Vuurhoutjies en sigaretaanstekers moet ook buite bereik gehou word, en ’n kind moenie alleen by ’n flikkerende kers of gas- of paraffienstofie gelaat word nie. Wees veral versigtig met verwarmers wanneer jy ’n peuter in die huis het.

Warm kos, vloeistowwe en glasbakke moet in die middel van die tafel of toonbank geplaas word en nie naby die rand nie. Die elektriese koorde van braaipanne, warm skinkborde of strykysters moet buite sig wees, want ’n peuter kan dit maklik op haar aftrek.

4. Verstikking en versmoring

Omdat peuters enigiets in hulle mond sit, kan hulle maklik aan iets verstik. Maak doodseker daar lê niks soos knope, juwele, skroefies en moertjies op die mat of vloeroppervlak rond nie.

Speelgoed vir peuters behoort geen klein onderdeeltjies te bevat wat kan loskom nie. As jou ouer kinders sulke speelgoed het, bêre dit liefs op ’n plek waar kleinsus dit nie kan bykom nie.?Kossoorte waaraan ’n kind maklik kan verstik sluit in harde lekkers, neute, druiwe, appels en springmielies.

Hou altyd plastieksakke buite die bereik van klein kinders.

Soveel kinders het al gesterf deur in ’n ou yskas te klim wat iewers oop staan. Wees bewus van enige plek waar ’n kind kan inkruip en versmoor.

5. Val

Peuters wat alleen speel kan maklik val. Wees op die uitkyk vir gevaarplekke. As julle trappe het, kan jy dit gerus beveilig deur onder en bo ’n hekkie aan te bring. Die spasies tussen traprelings moet verkieslik klein genoeg wees dat jou peuter se kop nie deur die opening sal pas nie.

Plaas bababedjies en ander meubelstukke weg van vensters af en hou die vensters op die boonste verdieping maar toe.

Kinders kan maklik verstrengel raak in ’n gordyn of gordynkoord, of by ’n venster uitval. ?’n Veiligheidsreling is ’n goeie idee vir die boonste stapelbed, maar vermy liewer heeltemal dat jou baba of kind ooit alleen op ’n hoë oppervlak is.

Wees bewus van veiligheid in speelparke, veral klim-en-klouterapparate en glyplanke waarvan ’n kind maklik kan afval.

Wenke:

Ondersoek jou kind se leefwêreld op haar vlak en bekyk alles vanaf jou hande en knieë. So sal jy gevaarplekke makliker raaksien.

Hou elektriese koorde kort en buite bereik. Vermy verlengkoorde omdat dit nie beveilig kan word nie.

Bedek muurproppe wat nie gebruik word nie.

Moenie enige elektriese apparaat in die badkamer los nie.

Beveilig kasdeure en laaie met knippies.

Bêre messe en ander skerp voorwerpe waar kinders dit nie in die hande kan kry nie.

Skuifdeure en groot glaspanele moet liefs veiligheidsglas hê. Merk alle glas op jou kind se vlak met ’n plakker. 

Dis belangrik dat die yskas ’n knip het wat deeglik sluit – Velcro word te maklik losgetrek.

Bêre alkohol ook maar ver weg; ’n klein hoeveelheid alkohol kan ’n kind baie siek maak.

Beveilig skerp hoeke en kante van meubelstukke.

Meer inligting

Besoek gerus die webwerf van die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Voorkoming van Ongelukke by Kinders (Kovssa) by www.childsafe.org.za of bestel ’n gratis pamflet oor veiligheid van Kovssa, Posbus 791, Rondebosch, 7701.

'Dit het met ons gebeur?'

Salome Strydom van Pretoria en haar gesin se lewe het vir altyd verander toe hul klein rooikop twee jaar gelede byna verdrink het. Sy vertel:

“Op 10 Julie 2005 het Bennemie, toe 14 maande oud, in die visdammetjie in my suster se huis beland.?“Ons het buite by die swembad vleisgebraai sodat ons die besige bytjie kon dophou. Toe dit skielik stil word, het ek die huis binnegestorm, waar ek haar soos ’n klein lappoppie met haar gesig na onder in die water sien dryf het.

“Sy het geen pols, hartklop of pupilreaksie gehad nie. Ben, my man, het onmiddellik met mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering begin.

“By die hospitaal het medici 20 minute lank gespook om haar hartjie weer aan die klop te kry. Sy is aan ’n hartlongmasjien gekoppel en was 9 weke lank in die intensiewe sorgeenheid.

“Volgens die verdoemende breinskandering sou Bennemie blind, doof en serebraal gestrem wees. Sy sou ’n maagbuis moes kry vir voedings en het ’n baie kort lewensverwagting gehad.

“Tog is sy danksy die Groot Geneesheer op ’n wonderbaarlike pad na herstel wat aangehelp word deur verskeie soorte terapie soos hiperbariese suurstofterapie en fisio-, spraak-, arbeids-, asook perdryterapie. Haar medikasie is vandag baie minder en in Augustus verlede jaar is haar maagbuis verwyder.

“Sy kry dit nou al reg om tussen 5 en 10 minute lank regop te sit en sê al ’n hele paar woordjies.

“Ons glo en vertrou dat Jesus die wonderwerk wat Hy reeds begin het, enduit sal voer.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees