'n Ma word gebore

akkreditasie
Voel jy oorweldig ná jou baba se geboorte? Troos jou daaraan, elke ma in die geskiedenis van die wêreld het al so gevoel. Niks kan ’n eerstekeer-ma voorberei op die emosionele wipwa-rit wat wag nie – maar dalk help die ervarings van hierdie regte ma’s ’n bietjie om jou minder alleen te laat voel, of help dit jou voorberei op wat wag wanneer jou baba eers daar is ...

Baie vroue fokus so op die uitdagings van swangerskap en kraam dat ons skoon vergeet om ons geestelik voor te berei op wat sal gebeur wanneer ons baba eindelik die lig sien. Onthou, jy gaan ’n ma word, jou man ’n pa en daar gaan ’n regte-egte lewende wesentjie wees wat vir alles en nog meer op julle aangewese gaan wees.

Het jy al gewonder hoe hierdie groot rolverandering jou gaan laat voel? Die meeste ma’s verwag ekstase en ’n gevoel van oorweldigende liefde. Ander word bang gepraat met stories oor hoe handomkeer hul lewe gaan verander, hoe erg verwarrend daardie eerste paar maande is en dat hulle nie ’n oomblik vir hulleself gaan hê nie.

Dis die twee uiterstes van die wipplank, maar daar is ook ’n hele register emosies tussenin wat jou kan verras en onkant kan betrap.

Dis 'n aanpassing

Navorsing waaroor twee jaar gelede in die Britse koerant Daily Mail berig is, het gewys dat dit ma’s gemiddeld vier maande en 23 dae kos om by hulle nuwe rol en lewensituasie aan te pas.

Byna 50 persent van nuwe ma’s ervaar die een of ander vorm van bababloute en voel dikwels tranerig sonder dat hulle verstaan hoekom.

Daarna begin hul emosies stabiliseer namate mamma haar nuwe roetine vestig en die selfvertroue gekry het om die meeste nuwe situasies te hanteer. Sy leer hoe om haar baba se tekens te interpreteer, wanneer hy wat nodig het, en wat om in die doeksak te pak om die lewe vir hom en haar makliker te maak.

Goue raad

Die emosies wat ’n nuwe ouer beleef draai om:

  • die verlies van jou eie identiteit,
  • vrees,
  • selftwyfel, en
  • verhoudingspannig met die ander lede van jou familie.

Wees gerus dat niemand gebore word met die vermoë om doekinhoud korrek te lees, glibberige babas te bad en koliek te hanteer nie – dit moet alles aangeleer word. Ontspan en moenie so streng met jouself wees nie.

Jy gaan ook voel dat jy jou self in die behoeftes van jou baba verloor, dat jy heeldag in en om die huis besig is en nooit ’n blaaskans kry nie en niks het om aan die einde van ’n dag te wys nie.

Die goeie nuus is dat jy jouself weer sal vind sodra jy geleer het om jou baba se behoeftes beter te voorspel en daar ’n vorm van roetine gevestig kan word. Moet intussen nie huiwer om met ander nuwe ma’s te praat en ook uit hulle ervarings te leer en ondersteuning te put nie.

As jy ’n slapertjie op hande het en verveeld voel met al jou kraamverlof, sluit aan by ’n speelgroepie waar jy gereelde sosiale kontak met ander ma’s in jou skoene sal hê.

Nog ’n belangrike stukkie raad is om jou behoeftes en gevoelens met jou man te bespreek. Maak tyd om na mekaar te luister – jy na sy kantoorpolitiek en hy na jou pediaterkaskenades, al verveel dit julle albei.

Maak dan ’n vaste afspraak per week (al is dit die 20 minute wat julle om die blok kan stap terwyl ouma na baba kyk) wat aan volwasse geskelskap en gedeelde belangstellings gewy word, nie babapraatjies nie.

Moenie vergeet om vir jouself te sorg nie:

  • Slaap genoeg.
  • Knyp ’n bietjie tyd vir jouself af, al is dit net om alleen winkel toe te gaan om brood te gaan koop.
  • Wees daarop voorbereid om vir ’n paar weke/maande met onsekerheid saam te leef. Pasgeborenes is onvoorspelbaar!
  • Leer jou baba se tekens en hoe sy met jou kommunikeer ken, dan word dit makliker om haar behoeftes te bevredig.
  • Onthou dat ouerskap ’n nuwe werk vir jou en jou man is; dit kos tyd voor ’n mens gemaklik daarmee raak.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees