book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

’n (Oulike) vlooi in jou kooi

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Min dinge is so lekker soos ’n warm babalyfie wat in die waai van jou arm aan die slaap raak. En as jy daardie lyfie nie alleen in ’n wiegie in die babakamer wil neerlê nie, is ’n gesinsbed – waar ouers en kinders saam in die kooi kruip – dalk die oplossing. Sommige mense trek hul wenkbroue hiervoor op omdat hulle glo dis die eerste stap in die kweek van bedorwe brokke. Watwou, sê Erica Neser, ’n kundige oor babaslaap en skrywer van Slaapgids vir babas en kleuters (Protea). Sy meen ’n gesinsbed moedig die hegte band tussen ouers aan wat noodsaaklik is vir kinders se gesondheid en geluk. Ander kritici sê dit kan die begin van slaapprobleme wees, maar Erica sê navorsing het die teendeel bewys. “Die oorgrote meerderheid van babas en kinders op moederaarde slaap in die eerste paar jaar langs hul ouers en dit is nié die mense wat met die meeste slaapprobleme sukkel nie,” sê Erica. “Dit is juis moderne Westerlinge wat behep is met onafhanklikheid en daarom meen dat kinders heelnag alleen moet slaap, wat die meeste met slaap sukkel!” Daar is ook mense wat glo ’n baba sal versmoor as hy in sy ouers se bed slaap, maar dié teorie is nog nie deur navorsing korrek bewys nie. As jy veiligheidsmaatreëls toepas, kan jou baba met gemak in jou bed slaap.

“Die beste tyd om ’n kind van die gesinsbed na sy eie bed te laat trek, hang van elke gesin se unieke omstandighede af,” sê die slaapkundige Erica Neser. Die Amerikaanse slaapnavorser dr. Richard Ferber waarsku egter ouers moenie aanneem die reëling gaan ’n natuurlike einde hê nie. Hy stel voor julle besluit vooraf al wanneer jul kind in sy eie bed moet begin slaap. Erica sê die aanbeveling is deesdae dat babas minstens in die eerste ses maande in dieselfde kamer as hul ouers slaap. Teen dié ouderdom is skeidingsangs nog nie ’n probleem nie. Ander mense meen jy moet wag tot jou kind gespeen is. Hoe ouer die kind, hoe moeiliker word dit om hom te oortuig om in sy eie bed te slaap, maar lekkernye vir ontbyt is dalk net die aanmoediging wat jou teësinnige driejarige nodig het om alleen te begin slaap, sê die Johannesburgse slaapnavorser Alison Bentley. Pak die skuif na ’n kind se eie bed en kamer geleidelik aan, is Erica se raad. Jy kan die oorgang vergemaklik deur jou kind eers op ’n matras op die vloer langs jou bed te laat slaap. Wanneer die groot trek plaasvind, kan jy weer langs jou kind se bed op die vloer slaap. So kry hy kans om gewoond te daaraan te raak om alleen in sy eie bed te slaap sonder dat hy van dag een af stoksielalleen is.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees