Naweekslapies 'n nagmerrie

akkreditasie
Sy slaap snags goed. Is die middagslapies nog belangrik?

Vraag:

My kind is 18 maande oud en weier om smiddae te slaap, al weet ek sy het dit nodig. Snaaks genoeg slaap sy wel smiddae ’n uur en ’n half lank wanneer iemand anders haar oppas, maar naweke en dae wanneer ek tuis is, kan ek maar vergeet om haar aan die slaap te kry. Dan is sy teen laatmiddag so moeg dat die hele aand verwoes word deur woedebuie. Sy slaap snags goed. Is die middagslapies nog belangrik? Ek hoop so, want ek het ook daardie tyd nodig om ’n bietjie te rus en voor te kom met die huiswerk.

Antwoord:

Kinders van 18 maande is in ’n baie interessante fase van hulle lewe. Hulle is besig om te ontdek wie en wat hulle wil wees en kom agter dat hulle ’n identiteit het wat nie net ’n uitbreiding is van hul ouers nie. Op die vooraand van kleuter wees is hierdie peuters baie eiesinnig en ’n mens moet hulle die ruimte daarvoor gee. Etes en slaap is juis die plekke waar hulle hul mag en keuses wil uitoefen.

Soos jy self sê, moet ’n mens soms die ouer in die situasie wees omdat babas nog nie self besef hoe belangrik dinge soos slaap en gesonde kos is nie. Onthou dat hulle in dié stadium ook al goed kan manipuleer en hulle ken hul slagoffers goed! Dis waarom ouers dikwels meer as ander mense sukkel.

Op 18 maande moet jou kleinding liefs teen twaalfuur nog ’n middagslapie inpas en een tot drie uur lank lekker slaap. As sy dit nie doen nie, sal sy teen die aan oormoeg wees en in die nag ook nie te goed slaap nie.

Kinders slaap dikwels beter by ander mense omdat hulle sensitief vir hul ouers se gevoelens is. As jy reeds angstig oor die middagslapies voel, sal jou kind dit aanvoel en daarop reageer. Wees dus ferm maar rustig.

Dit is baie algemeen dat kinders teen 18 maande slaapregressie ervaar en daarom hoef jy nie bekommerd te wees as jou kind se slaappatroon skielik verander nie. Bly net rustig en hou vol met jou benadering.

As dit by die skool is waar jou kleinding maklik in die middag slaap, is dit bloot omdat kinders doen wat hul maats doen. Dit het ook te doen met die baie vaste roetine wat skole handhaaf en daarom weet jou kleinding presies wat om wanneer te verwag.

Probeer dit by die huis ook doen deur in die laaste halfuur voor slaaptyd altyd dieselfde stappe te volg. So weet jou kleuter wat om te verwag en dit laat haar veilig voel. ’n Vaste roetine op hierdie ouderdom is baie belangrik.

Probeer ook om ’n omgewing te skep wat goeie slaap bevorder: ’n donker kamer wat effens verkoel word, ’n rustige omgewing, nie te veel stimulasie nie en gemaklike klere. Maak seker jou peuter is nie honger of dors nie.

Stimulasie en die regte hoeveelheid daarvan is ook belangrik. Kan dit wees dat jou kind by die huis nie gestimuleer word soos by ander mense nie?

Dit is goed om aandag te gee aan aktiwiteite soos om tromme te slaan vir bilaterale integrasie, op ’n swartbord te teken en/of met klei te speel vir die fyn motoriese vaardighede.

Die grootste fout wat ouers maak is om hul kinders in hierdie stadium na ’n groot bed te skuif omdat hulle dink dit sal die slaapgewoontes verbeter, maar omdat kinders nog nie die vryheid van verantwoordelik kan toepas nie, sal dit goeie slaaphigiëne verwoes.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees