book-icon Uitgawe Desember 2018 & Januarie 2019

Neem ’n sakkie slaapsand saam met vakansie

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Hoe maak jy as die vakansie jou kind se slaaproetine omvergooi? Babas se normale roetine word dikwels deurmekaargekrap as dit vakansie is of ’n mens van die huis af weggaan, sê Jenny Perkel, ’n Kaapstadse sielkundige en skrywer van Babies in Mind (Juta). “Enige verandering het ’n invloed op babas en as ’n mens van die huis af weg is, kan dit hulle onseker en onrustig laat voel. Om veilig te voel, het hulle dan hul ouers nodig.” As ’n baba in die middel van die nag in ’n vreemde omgewing wakker word, kan sy groot skrik en het sy waarskynlik haar ouers se vertroosting nodig. Berei jou dus maar voor op meer slaaponderbrekings en wees effens buigsaam sodat jou baba op haar eie manier by die verandering kan aanpas. Sy sal dalk in dieselfde kamer as jy wil slaap of jou anders ’n paar keer in die nag wil sien. Sy kan meer borsvoedings of bottels vra of haar fopspeen meer gereeld wil hê.

Die eintlike vakansie-slaapprobleem is nie die baba of kind nie, maar die ouers wat húl roetine verander, sê Ann Richardson, ouerafrigter en medeskrywer van Slaap kindjie, slaap (Metz Press). “Uiteraard is ’n vakansieroetine anders. Die ouers is heeldag daar en die gesin bring dalk meer tyd buite of in motors deur. Dikwels vlieg ’n gebalanseerde dieet ook by die venster uit omdat ’n mens meer ontspanne is oor wat jou kind eet en jy maklike, vinnige maaltye kies, asook wegneemetes, restaurantkos en hope lekkergoed. Kinders is gevoelig vir dié soort verandering en dit kan hulle moeilik maak.” Ann se raad is om waar moontlik by jul bestaande roetine te hou, al wil jy juis in die vakansie van jou roetine wegbreek. Jou kind se liggaamsritme is ingestel op vaste slaaptye en as jy daarvan afwyk, kan jy moeilikheid verwag. Hou dus maar by jul gewone aandpatroon: badtyd, eettyd, storietyd, slaaptyd. “Klein kindertjies verstaan nie hoekom dinge een dag sus en die volgende dag so is nie,” verduidelik Ann. “Hulle hou van roetine en konsekwentheid en wil weet wat volgende kom. Verander hul verwysingsraamwerk en hulle raak angstig en klouerig.” Die kuns is om so georganiseerd moontlik te wees en almal kans te gee om aan die nuwe omgewing gewoond te raak. “Dit kan beteken dat jy nie dadelik kan afhardloop strand toe nie, of liewer ’n dag later moet vertrek sodat jy nie in die aand by ’n bestemming uitkom nie.” Dit maak nie saak waar jou baba slaap nie, solank haar roetine min of meer dieselfde bly, sê Ann. “ ’n Vakansiehuis is net ’n ander stel stene en sement. As julle móét uitgaan om te eet, bad jou kleinding voor die tyd, neem haar saam en maak seker jy neem haar spesiale kombersie saam, asook haar stootwaentjie sodat sy kan slaap wanneer sy moeg is.”

Met vakansie kan jy maar meer buigsaam wees, sê Ann. Hou baba se slaaptydroetine so normaal moontlik, maar kom haar tegemoet deur te verstaan dat sy dalk meer liefde en koestering as normaalweg nodig het. Dit kan beteken dat jy haar om die braaivleisvuur in jou arms aan die slaap sal laat raak of ’n rukkie by haar lê tot sy slaap. “Die kuns is om haar te laat besef dis net omdat julle op ’n ander plek is, en dat julle na jul normale roetine sal terugkeer sodra julle weer tuis is.”

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees