Vraag:

My seuntjie (18 maande) het ’n toe neusie, maar is nie siek nie. Kan dit sinus wees op so ’n jong ouderdom? Kan ek iets doen of iets gee wat veilig is sodat hy makliker kan asemhaal?

Antwoord:

’n Konstante toe neusie by ’n peuter kan ’n teken van ’n allergie of intoleransie wees. ’n Allergie teen stowwe wat ingeasem word soos kathare, hondehare, huisstofmiete of stuifmeel kan jou kind se neus verstop. So ook ’n allergiese reaksie teen stowwe in kos soos preserveermiddels of kleurmiddels. ’n Gluten- of laktoseintoleransie kan ook dikwels bydra tot ’n toe neus.

Dit is die moeite werd om ’n allergietoets te laat doen by ’n dokter of homeopaat wat in allergieë spesialiseer. Indien dit nie moontlik is nie, stel ek voor dat jy vir ‘n week lank laktose uit die dieet verwyder en kyk of die simptome verbeter. Dit beteken dat alle melk, jogurt en kaas uit die dieet gelos word. Gebruik intussen laktosevrye melk soos Easygest van Parmalat.

Koring kan die week daarna uit die dieet gelos word, terwyl melk teruggebring word. Sny alle brood, koekies en pasta uit die dieet, terwyl daar meer aartappel, rys, hawermout en mielie geëet word.

As jou seuntjie ook nies, ’n droë hoes het, en oogirritasie ondervind, kan jy probeer om alle swaelpreserveermiddels uit sy dieet te haal vir die volgende week, terwyl koring weer teruggebring word. Swael kom voor in droëvrugte soos rosyne, vrugtesappe, biltong, droëwors, asyn en wyn.

As julle steeds sukkel stel ek voor dat jy jou homeopaat raadpleeg om medisyne te kry wat spesifiek is tot jou kind se simptome.

Probeer intussen “Cough and Cold”- weefselsoutkombinasie van Homeoforce. Dit help met swelling en inflammasie van die neus en sinuskanale.