Met ’n pasgebore baba in die huis kan jou emosies wissel van verwondering tot algehele paniek. Hier is raad: Pak die volgende paar weke dag vir dag aan – en soms uur vir uur! Die volgende 21 dae gaan ’n tyd van aanpassing wees. Vergeet eers van die huis – dis tyd om jou baba te leer ken. Dis ’n tyd van harde werk, waarin jy gaan leer hoe om jou baba te hanteer, te bad en te voed, om doek te ruil, winde uit te vryf en hoe om jou nuwe lewe saam met jou pasgeborene in te rig. Nuwe ma’s word gewoonlik met goedbedoelde raad oorval. Dink mooi voor jy reageer. Volg dit net as dit sin maak en op jou situasie van toepassing is. Omring jou met ondersteunende vriende en familie wat kan help met huiswerk, maaltye en die versorging van jou baba, en wat jou die ruimte gun om te herstel en te rus. As jy nie hierdie luuksheid het nie, probeer om so rustig moontlik te wees wanneer jy kan. Slaap wanneer jou baba slaap. Moenie dié kosbare tyd gebruik om WhatsApps te beantwoord of huistakies te verrig nie. In hierdie tyd leer jy nie net meer oor jou baba nie, maar ook oor jouself en jou hanteringsvaardighede.

In die eerste dae huil ’n baba gewoonlik van honger of wanneer hy pyn het (soos brandboudjies).

Week 1

Bind met jou baba

Die hormone prolaktien, oksitosien (albei borsvoedhormone) en relaksien bereik net ná geboorte ’n hoogtepunt in jou liggaam en bevorder binding. Jy sal ’n groot voorraad daarvan hê as jy besluit om te borsvoed, maar selfs ma’s wat nie borsvoed nie, kry hul dosis net ná die geboorte in. Dit sal jou help om met jou baba te bind. As jou baba in die hoësorgeenheid is, voel jy dalk jy is van dié geleentheid ontneem, veral as dit lyk of die toerusting, verpleegsters en dokters jou rol as versorger oorneem. Dit help dan om gereeld vel-tot-vel-kontak met jou baba te hê. Die meeste hospitale moedig kangaroemoedersorg aan, maar jy sal dalk toestemming daarvoor moet vra.

Bors bo!

In jou baba se eerste week het hy elke twee tot vier uur voeding nodig, gemiddeld dus drieuurliks. Dit kan tot nege of 10 voedings binne 24 uur beloop. Eksperimenteer met maniere om jou baba vas te hou sodat dit vir julle albei gemaklik is. Jy gaan nie dadelik borsmelk hê nie, maar eers kolostrum. Hierdie hoëkalorie-voeding is volmaak vir die behoeftes van pasgeborenes en vroeggebore babas en het ’n hoë voedingswaarde. Kolostrum help ook om jou baba se magie te laat werk en mekonium (sy eerste stoelgang) uit te skei. Dit dien daarby as voering vir sy dermkanaal en voorkom melkallergieë. Voor jou melk inkom, is jou borste sag en is dit vir jou baba makliker om te leer vasheg. Ná drie dae gaan jou borste voller voel en dit kan help om hulle in warm water te week voor jy voed. Maak seker dat jou bra gemaklik en ondersteunend is. Pak koolblare op ongemaklike of verstopte borste.

Slaap soos ’n baba

Melatonien is die slaaphormoon en omdat jou baba tot dusver net aan die donkerte van jou baarmoeder gewoond was, het hy baie min daarvan. Daarom registreer sy brein nog nie die verskil tussen dag en nag nie. In hierdie stadium moet jy hom nog eweveel gedurende die nag as in die dag voed. Teen ses weke oud het babas genoeg melatonien om tussen dag en nag te onderskei en party kan selfs deur die nag begin slaap. Baie babas begin egter eers heelwat later – op ses maande of daarna – deurslaap. Jou pasgeborene het 18 tot 20 uur slaap per dag nodig, maar hy sal dikwels wakker word om te voed – slaap dus maar wanneer hy slaap.

Só lyk baba

Jy is dalk aanvanklik besorg oor die vorm van jou baba se kop. Die kraamproses, die vorm van jou bekken en jou baba se sagte skedel dra alles by tot hierdie vreemde vorm, wat mettertyd vanself regkom. Jou baba se vel kan bedek wees met wit, romerige vernix en sagte, veeragtige haartjies kan sy skouers en arms bedek, veral as hy vroeg gebore is. Sy kleur sal ook in die eerste week verander. Die meeste babas se vel het ná die geboorte ’n blouerige ondertoon, maar dit word vinnig pienk met die eerste huil wanneer hul longe met lug gevul word. Babas met ’n donker vel kan aanvanklik baie lig voorkom tot hul lyfie genoeg melanien (velverkleuringspigment) produseer. Voltermynbabas se geslagsorgane kan buite verband groot en geswel lyk, of buitengewoon klein in die geval van vroeggeborenheid. Dit word deur jou hormone veroorsaak en jou dokter sal seker maak dat alles in orde is.

Die eerste vaksiene

Jou baba sal in die hospitaal ’n mondelikse poliovaksien asook immunisasie teen tuberkulose kry. Die verpleegster sal jou ’n immuniseringskaart gee waarop die voorgestelde datums vir sy toekomstige immuniserings aangedui is.

Mylpale in week 1

Jou baba moet dadelik ná sy geboorte leer om self asem te haal en onafhanklik te oorleef. Onbewuste reflekse help hom om melk te soek en hom aan ’n ander mens te heg wat hom sal beskerm. Hy word voorsien van ’n skrik-, gryp-, suig-, soek- en looprefleks wat binne die eerste jaar verdwyn. Ander reflekse, soos om oë te knip, te nies en te sluk sal ’n leeftyd hou.

Naelstringsorg

Voor jy die hospitaal verlaat, word die klampie verwyder wat jou baba se naelstring vasgeklem het. Die koord sal uitdroog en ná sewe tot 10 dae afval. Hou dit so droog moontlik. Laat die naelstring soveel lug moontlik kry en maak seker dat die doek weg daarvan gevou word sodat dit nie daarteen skuur nie. Maak die naelstring met elke doekruiling skoon. Doen dit so: Doop watte in ontsmettingsalkohol en tik die naelstring en die voutjies van die naeltjie skoon. Die naeltjie kan dalk af en toe ’n bietjie droë bloed wys, maar dit moet nooit bloei nie. Soek mediese hulp as sig uitloop of die naeltjie sleg ruik.

Troos my, mamma

Huil is jou baba se enigste kommunikasiemiddel en ma’s reageer instinktief op hierdie hulproep. Jou baba sal in die eerste paar dae huil wanneer hy honger is of pyn voel. Ma’s is dikwels ontnugter wanneer hulle agterkom dat hul baba by die huis meer huil as in die hospitaal. Dit beteken egter net dat jou baba in die hospitaal geleer het om jou te vertrou om op sy hulproep te reageer en daarom voel hy veilig om verskillende behoeftes aan jou te kommunikeer. Dis maklik om ’n pasgeborene te sus. Jou baba sal positief reageer op aanraking, veral vel-tot-vel-kontak en wanneer jy hom styf vashou; en ook wanneer hy ’n vriendelike stem hoor, veral sy ma s’n.

Basiese babasorg

Die meeste hospitale sal jou wys hoe om jou baba te bad. Dit sal help om meer as een keer te kyk hoe die verpleegpersoneel dit doen. Hulle sal jou wys hoe om hom veilig vas te hou en hoe om ’n glibberige babatjie in die bad te hanteer. As jy nog nie gemaklik daarmee voel om jou baba self tuis te bad nie, beproef die volgende:

  • Vra iemand om jou te help.
  • Koop ’n badstoeltjie. Dit sal jou baba veilig in die water hou terwyl jy albei hande tot jou beskikking het.
  • Jy hoef hom nie dadelik te bad nie. Sorg dat sy boudjies skoon is en dat jy die melk wat in sy nekvoue mors uitvee, en gun jou ’n paar dae om selfvertroue te kry voor jy hom die eerste keer bad.

Badtyd

Doop watte in afgekoelde kookwater (nie vuurwarm nie) en vee jou baba se ogies van die binnehoek af buitentoe. Gebruik ’n skoon stukkie watte vir elke oog. Vee die gesig saggies met watte of ’n waslap af. Laat hom in ’n posisie lê wat jou toelaat om maklik by die voue van sy nek en onder sy ken uit te kom en vee dit sagkens af. Maak hom sagkens maar deeglik droog. Vee agter sy ore af, want die melk wat hy nou en dan opbring, kan daar versamel. Lig elke armpie versigtig en vee sagkens daaronder, want die veloppervlakke vryf hier teen mekaar en kan gevoelig wees. Was onder en om jou seuntjie se geslagsorgane en was jou dogtertjie se boudjies van die geslag na die anus toe om infeksie te voorkom. Maak jou baba deeglik droog, wend boudroom aan en sit sy doek aan.

HET JY GEWEET? Deur die knus gevoel van die baarmoeder na te aap, kan jy sorg dat jou baba baie minder huil.
HOU JOU BABA DOP

Babageelsug

Pasgeborene-geelsug begin op die tweede of derde dag ná geboorte en is normaal, veral by vroeggebore babas. As jou dokter bekommerd oor die bilirubientelling is, sal fototerapeutiese ligte dalk nodig wees. Borsmelkgeelsug is ’n skadelose, talmende geelheid wat teen 12 weke verdwyn. Patologiese geelsug begin soms vroeër en soms later en dui gewoonlik op ’n lewerprobleem, maar dit kom gelukkig baie selde voor.

Baba is baie slap

’n Baba se litte kan buitengewoon los wees weens geboortetrauma, vroeë geboorte of ’n toestand soos Downsindroom. ’n Baba wat heeltyd lomerig is en swakkerig huil, kan dalk te min bloedsuiker hê, of geelsug of ’n onderliggende infeksie. Raadpleeg jou dokter onmiddellik as jy sulke gedrag opmerk.

Baba slaap meer as vier uur op ’n slag

Hoewel jou baba vir die grootste deel van sy eerste week gaan slaap, is dit belangrik dat hy vir sy voedings wakker word – ten minste elke drie uur. Vroeggebore babas of babas wat koud kry of geelsug, lae suiker of ’n onderliggende infeksie het, kan baie slaperig wees en ’n voeding misloop. As dit gebeur, maak hom wakker om te voed.

Borrels by die mond

Die stof surfaktant, wat as voering van die longe dien, help jou pasgeborene om asem te haal. Oorvoorsiening daarvan in die eerste paar dae kan borrels by jou baba se mondjie veroorsaak of hom selfs laat stik. As jy dit in die hospitaal sien, vra die verpleegster om sy mondjie uit te suig. Draai hom intussen met sy kop na onder sodat die swaartekrag help om sy mond te dreineer en sy lugweg oop te maak.

Hoë huilgeluid

Elke baba maak ’n tipiese huilgeluid wat mettertyd uniek word. Jy sal jou baba se huil vinnig leer ken en dokters kan mediese probleme diagnoseer deur daarna te luister. As jou baba skril begin huil, veral as hy vroeggebore is of in hoësorg was, of as daar geboortekomplikasies was, laat jou dokter weet sodat hy of sy kan vasstel of daar ’n mediese probleem is.

Week 2

Hoe gaan dit met jou?

Jy het die eerste week saam met jou nuwe baba oorleef en het nou ’n bietjie meer selfvertroue as ’n nuwe ma. Jy raak gewoond daaraan om 24 uur van elke dag op bystand te wees vir ’n klein hulpelose wesentjie wat geheel en al van jou afhanklik is. Soms kan dit oorweldigend wees en sommige ouers voel selfs skuldig omdat hulle nie onmiddellik op hul baba verlief is nie. As jy so voel, weet dat jy nie alleen is nie. Dink na oor jou swangerskap (was dit fisiek of emosioneel moeilik?), die geboorte, jou baba se gesondheid, jou ondersteuningsnetwerk en ander spanninge soos jou werk en finansiële perke. Bespreek dit met iemand met ’n simpatieke oor wat jou sal help om veranderings te maak om jou nuwe lewe beter te hanteer. Onthou, nageboortelike depressie is vir baie ma’s ’n werklikheid.

Hou baba gesond

In hierdie vroeë stadium moet jy besoekers liefs tot onmiddellike familie beperk. Jou baba se immuunstelsel is nog onderontwikkel en jy het jou energie nodig om hom dag en nag te versorg. Jou baba se naelstring lyk uitgedroog en swart en is dié week gereed om af te val. Maak dit met elke doekruiling mooi skoon. Jou baba se vel moet aanpas by ’n nuwe omgewing; kies daarom geurlose sepe, waspoeiers en skoonmaakmiddels waar jy kan. Wit puisies kan op sy neus en wange uitslaan. Dis skadeloos, word deur verstopte kliere veroorsaak en verdwyn vanself. As jou baba geelsug gehad het, begin dit nou vervaag.

Borsvoeding

As jou baba korrek aanheg en vassuig, kan jy borsvoeding regtig geniet. Hier is ’n paar stappe wat jou daarmee sal help:

  • Hou jou baba vas dat hy na jou toe kyk, verkieslik met vel-tot-vel-kontak.
  • Stimuleer sy soekrefleks deur sy wang en mond met jou tepel te kielie.
  • Wag tot jou baba sy mond op sy grootste oopmaak voor jy vir hom die bors bring.
  • Wanneer jou tepel in jou baba se mond is, sal dit sy suigrefleks stimuleer. Sy lippe moet aan jou areola vassuig om ’n suigseël te skep.
  • As jou baba korrek heg en vassuig, voorkom dit bykans enige borsvoedingsprobleem soos gebarste of bloeiende tepels, oorvol borste, ’n honger baba en te min melk.

Jou baba se slaap

Pasgebore babas ontwikkel stelselmatig ’n slaappatroon. Daar is vyf slaapstadiums en dis tot jou eie voordeel om jou baba nie te pla voor hy in ’n diep slaap verval nie. In die eerste dae sal jou baba vinnig deur die stadiums tot in ’n diep slaap beweeg. Later duur dit langer, maar die voordeel is dat hy dan vir langer rukke op ’n slag slaap. Die stadiums is:

  • Wakker staat. Baba se oë is oop en hy reageer op oogkontak en is wakker.
  • Rustige staat. Baba lê rustig, maar is steeds waaksaam. Hy kyk na jou uitdrukkings en luister na jou stem.
  • Vaak staat. Jou baba beweeg baie min en knip sy oë stadig wanneer daar geraas of stimulasie is.
  • Ligte slaap. Jou baba slaap met vinnige oogbewegings (REM) en sal soms rondbeweeg en suig. ’n Skielike klank soos ’n deur wat klap, sal hom wakker maak.
  • Diep slaap. ’n Baba wat diep slaap sal swaar in jou arms word omdat hy heeltemal ontspan. Sy oë is styf toe en beweeg nie, sy asemhaling is reëlmatig en huisgeluide sal hom nie wakker maak nie. Ouer babas wat sukkel om hulleself tot bedaring te bring en wat in hul ligte slaap gesteur word, sal vinnig weer heeltemal wakker wees en hul slaap sal vir die volgende paar uur versteur wees.

Wat sê jou baba?

Jy leer jou baba nou om jou te vertrou en as jy op sy gehuil reageer, stel dit hom gerus dat jy hom nie in die steek laat of weggooi nie. Sy eerste behoefte is kos en babas hou nie van hongerpyne nie. Voorkom ’n groot kabaal deur sy volgende voeding betyds aan te bied, nog voor hy histeries begin huil.

Hoe lyk jou baba nou

In die tweede week herstel jou baba se lyf waarskynlik nog van die geboorte. Die swelsel om sy kop sak en sy kopvorm is besig om te herstel. Die brug van sy neus word meer prominent en enige kollerigheid op sy vel begin vervaag – hy lyk nou baie oulik! Sy hande kan styf toemaak en omdat sy bene nog meestal uit kraakbeen bestaan, kan sy liggaam in enige posisie vou en weer terugvou na die fetusposisie. Sy magie kan opgeblaas lyk weens sy oorgroot lewer. In teenstelling daarmee is sy arms en bene klein en dun.

HOU JOU BABA DOP

Hou sy temperatuur stabiel Hy kan in ’n motor vinnig oorverhit, maar kan weer vinnig hitte verloor in ’n oop bedjie of teen ’n koue muur.

Sorg dat jou baba se lyfie simmetries is Lê hom op sy magie neer en gaan na of al die voue aan albei kante in lyn is.

Onderskei tussen melkvlekke en sproei Sproei versprei vinnig na die tandvleis en wange.

Naelstring-kwessies Neem baba dokter toe as sy naelstring teen die einde van die tweede week nog nie afgeval het nie of as daar sig, ’n onwelriekende afskeiding of ’n rooi ring om die naeltjie is.

Gesonde geslagsdele Maak seker dat jou babaseuntjie deur die punt van sy penis piepie en dat die voorvel nie ontsteek is of tydens urinering opblaas nie.

Getty Images

Week 3

Ek word mens

Jou baba word ál meer aan sy nuwe omgewing gewoond. Aanvanklik kan ligte, geraas en naaktheid jou baba onseker laat voel. Dis hoekom hy dit gerusstellend vind om styf in ’n kombersie toegewikkel te wees en sagkens gewieg te word. Teen drie weke oud sal jou baba na jou toe draai as hy jou stem hoor en ligte en ander geluide sal hom nie meer laat skrik nie. Jou baba word ook nou meer sosiaal en raak daaraan gewoond om deur ander mense vasgehou te word. Party babas hou daarvan om drukkies te kry, maar ander kan kla. Beproef verskillende posisies en susmetodes, en jou baba sal mettertyd leer om deur aanraking getroos te word. Ma’s met nageboortelike depressie kan die toestand nou op sy ergste ervaar. Versteurde slaap, die eise van voeding, aanpassingshormone, die spanning van ouerskap en ander onderliggende kwessies begin hul tol eis. Bespreek jou gevoelens met jou dokter, want vertraagde binding met jou baba kan later ’n probleem wees. Dit help om met iemand te praat.

Jou baba se gesondheid

In die eerste weke kan die kleur en die aanhoudendheid van jou baba se stoelgang jou verbyster. Sy eerste stoelgang is ’n dik, taai, swart slym genaamd mekonium. Wanneer borsmelk makliker verteer word, verander baba se poef na enigiets van olyfgroen tot helder mosterd. Dis dikwels sag en skuimerig – so raak die natuur van die ekstra bilirubien in jou baba se stelsel ontslae. Bottelbabas het ’n fermer poef wat taamlik sterk ruik en soos ’n groen pasta lyk. Dis normaal dat ’n bottelbaba net een vuil doek per dag het, en hulle raak ook makliker hardlywig. Vra eers jou dokter of suster voor jy enige boereraat volg.

Spesiale tyd

Maak voedings spesiaal. Sorg dat jy gemaklik in ’n wiegstoel of ander geriefstoel sit. Ondersteun jou rug met ’n kussing en plaas jou voete op ’n voetstoeltjie. Hou ’n paar tydskrifte, iets om te drink en ’n gesonde peuselhappie byderhand. Geniet die oog-tot-oog-kontak met jou baba, wat jou stem ken en graag daarna luister. As jy bottelvoed, onthou om kante te ruil soos met borsvoeding. Dit stimuleer jou kind se koördinasiesin.

Baba lyk nou só

Jou baba se oë is blou, blougrys of swart. Sy permanente oogkleur word eers teen drie maande sigbaar. Baba knip van tyd tot tyd sy oë tot sy oogspiere sterker is.

Jou baba se slaap

Navorsing wys jy moet jou baba op sy rug aan die slaap maak. Jy kan hom met ’n wig of opgerolde handdoek in posisie hou. Die voorkoms van wiegiedood het aansienlik afgeneem sedert ma’s hul baba so aan die slaap begin maak en babas nie op hul magie laat lê het nie. Baba het nie kussings of duvets nodig om op te slaap nie. Hou knuffelspeelgoed met linte en knope uit die wiegie; dis ’n veiligheidsgevaar. Hou die kamer se temperatuur tussen 20 en 22 grade C en skuif die bedjie weg van die muur en venster. Kies ’n ferm matras met ventilasiegate. Gebruik komberse en lakens van suiwer katoen en stel die matras ’n paar uur per week lank aan vars lug en sonskyn bloot.

Wat beteken jou baba se huil?

Noudat jy jou baba beter ken, kan jy ook sy huilpatrone onderskei:

  • Die hongerhuil is ontroosbaar.
  • Die pynhuil is hartroerend en jou baba kan so huil wanneer hy te styf toegedraai word, die motorstoeltjie se gordel in sy vel insny, of wanneer luieruitslag sy boudjies brand.
  • Die skrikhuil is skielik, ’n dringende hulproep (soos as ’n hond skielik blaf en hy skrik). Jou baba word ewe vinnig getroos wanneer ’n volwassene hom “red”.
  • Die moeghuil is rusteloos, gefrustreerd en hou aan en aan. Wieg jou baba aan die slaap.
  • Die frustrasiehuil kan voorkom wanneer dit te lank duur om hom aan te trek of sy doek te ruil.
  • Die siekhuil klink asof dit te veel moeite is om te huil – selfs onervare ma’s sal dadelik weet iets is verkeerd. Jou baba sal nie trane huil voor hy sowat vier weke oud is nie.

Mypale in week 3

Jou baba se bewegings is reeds meer gekoördineerd en minder rukkerig. Hy kan sy arms en bene onafhanklik en vrylik in sirkels beweeg en geniet dit om te skop en in die bad te spat. Jou baba leer ook om hom self te troos deur sy vuisie of vingers te suig of dit naby sy gesig te hou.

RAAKGEKOOP
Cowshed se suiwer organiese babaprodukte is geskik vir die delikate vel van pasgeborenes en peuters. Baby Cow Organics Buttery Bottom Balm R222 (75 ml) en Baby Cow Organics Frothy Hair and Body Wash R268 (200 ml) is aanlyn by beautifulage.co.za, sekere Woolworths-takke en alle Melissa-takke in Kaapstad te kry.
Cowshed