Ogies wat traan

akkreditasie
My baba se oë traan aanhoudend. Wat kan ek doen?

Vraag:

My dogtertjie is drie weke oud en haar oë traan aanhoudend. Dit is glad nie rooi nie en dit lyk nie of dit haar pla nie. Ek wil nie heeltyd haar ogie afvee nie. Moet ek pediater toe gaan, of is daar spesi¬eke oogdruppels wat ek oor die toonbank kan koop?

Antwoord:

’n Verstopte traanbuisie is baie algemeen by pasgebore babatjies en kom by tot 6 persent van geboortes voor. Traantjies vorm in die traanklier net onder die boonste oogkaste aan die buitekant van die ogie. As sy haar ogies knip, versprei die trane oor die oogbal sodat die oogbal te alle tye nat gehou word. Die trane versamel aan die binnekant van die ogie en dreineer deur die traanbuisie na die neus.

Nie alle babatjies se traanbuisies het met geboorte al volledig ontwikkel nie en daarom kan baba nog ’n rukkie lank ’n nat ogie hê.

Die goeie nuus is dat hierdie proses vanself voltooi word en teen ’n jaar oud is die probleem gewoonlik iets van die verlede.

Jy kan intussen help deur die traanbuisie 10 keer per dag liggies te masseer. Beweeg met jou vinger van die binnehoek van die oog af in die rigting van die neus. Dit sal die buisies help dreineer. Solank die ogie nie rooi is nie, is dit nie iets waaroor jy bekommerd hoef te wees nie.

As daar ’n taaierige afskeiding is, kan jy dit net liggies met ’n nat stukkie watte skoonvee.

As die wit van die oog rooi word en die afskeiding uit die oog etterig is, is daar ’n infeksie en sal sy ’n spesiale antibiotiese oogsalf of druppel nodig hê.

As daar ná ’n jaar nog geen verbetering is nie, sal die pediater jou na ’n oogspesialis (oftalmoloog) verwys wat ’n klein prosedure sal uitvoer en die buisie met ’n baie dun draadjie sal oopmaak.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees