Slaap is die kragbron van ’n wakker en kalm verstand. ’n Gebrek aan slaap takel jou immuniteit, jou seksdrang, jou denkprosesse en emosionele aanpasbaarheid af, skryf Ann Richardson en Megan Faure in hul boek Slaap, kindjie, slaap (Metz Press).

Ook babas en kinders ly: Min slaap kan hulle klouerig, krapperig en geneig tot woedebuie maak. Hulle kan dit moeilik vind om hulle self te kalmeer en dit tas uiteindelik hul leervermoë aan.

Genoeg slaap is nie ’n luukse nie, dis ’n noodsaaklikheid. Maar minder slaap is onvermydelik met ’n baba in die huis – wanneer word dit dan ’n probleem?

“Wanneer ’n gesonde kind ná ses maande steeds nie ’n goeie nag se slaap inkry en nie doeltreffende dagslapies het nie,” sê die slaapkenner dr. Alison Bentley van die Universiteit van die Witwatersrand se slaaplaboratorium. “Ouers beskou dit dalk nie as ’n probleem nie, maar die een of ander tyd word dit een.”

Babas slaap anders

’n Volwassene het ’n slaapsiklus van sowat 90 minute, wat beteken dat sy elke 90 minute wakker word, waarna sy omdraai en verder slaap. Daarenteen het ’n baba ’n slaapsiklus van 45 tot 50 minute, en ’n peuter ’n slaapsiklus van sowat ’n uur.

In jou baba se slaapsiklus beweeg hy deur drie stadiums: eers ’n ligte, lomerige fase, waarin sy liggaam hom as’t ware voorberei op slaap; dan ’n ligte slaap; en daarna diep slaap.

Hy slaap sowat 50 persent van die tyd lig, terwyl volwassenes net 20 persent van die tyd lig slaap. Alle babas en peuters word dus vir kort rukkies in die nag wakker.

Die verskil tussen goeie en slegte slapers is dat sommige babas weer self aan die slaap raak, terwyl ander hulp daarmee nodig het. En hierin lê die geheim van goeie slaapgewoontes opgesluit: Jy moet jou baba leer om mettertyd sonder hulp self aan die slaap te raak.

Hoeveel slaap?

Navorsing wys die hoeveelheid slaap wat babas en kinders inkry, wissel geweldig. Megan en Ann het die volgende gids van gemiddelde slaaptye opgestel:

0 tot 2 weke Jou baba se dag- en nagpatroon is baie dieselfde. Hy slaap van voeding tot voeding.

2 tot 6 weke Jou baba kan ná ’n nagvoeding een lang slaapsessie van vier tot vyf uur inwerk (gewoonlik die eerste deel van die aand) en daarna enigiets van twee tot vier uur op ’n slag slaap. Hy slaap altesaam 18 tot 20 uit 24 uur.

6 tot 12 weke Jou baba kan een slaapsessie van ses tot sewe uur tussen slaaptyd en die eerste nagvoeding inpas, en daarna tussen drie en vier uur lank op ’n slag slaap. Altesaam slaap jou baba nou tussen 16 en 18 uur uit 24 uur.

3 tot 6 maande Vanaf sowat vier maande oud kan jou baba begin deurslaap, oftewel agt tot 10 uur ononderbroke van slaaptyd tot die vroeë oggendure slaap, en daarna drie tot vier uur. Jou baba slaap nou 14 tot 18 uur.

6 maande tot 2 jaar Jou kind kan nou 10 tot 12 uur aanmekaar slaap, van slaaptyd tot die eerste oggendvoeding. Hy slaap altesaam 12 tot 16 uur.

3 tot 5 jaar Kleuters kan 11 tot 12 uur per nag dwarsdeur slaap. Dagslapies val nou gewoonlik weg.

Waar moet hy slaap?

Daar is nie ’n regte of verkeerde plek nie, maar begin liewer soos jy wil aanhou.

Almal saam in een bed As sekere veiligheidsmaatreëls gevolg word en jy en manlief albei daarmee gediend is, kan jul baba by julle in die bed slaap. Dit vergemaklik borsvoeding en jy hoef nie op te staan nie. Alison sê wel as ’n baba gewoond is aan sy ouers se bed, kan dit moeilik wees om die patroon later te verander. “Die enigste maklike tyd om dit te verander is rondom drie jaar oud.”

In ’n kot in jul kamer Die meeste ouers verkies hierdie opsie in die eerste vier maande. Dan is baba byderhand vir voedings, maar jy kan slaap sonder om te vrees dat jy dalk oor jou baba rol.

In sy eie kamer Babas slaap dikwels beter in hul eie kamer. Dit gaan wel beteken jy moet vir nagvoedings opstaan.

Op ’n matras voor jul bed Dis veral geskik vir ’n ouer kind wat by julle wil kom inkruip.

Getty Images
DÍT KAN SLAAP BEÏNVLOED
  • Vroeë geboorte ’n Baba wat te vroeg gebore is of met geboorte baie min geweeg het, sal waarskynlik later as ander babas begin deurslaap.
  • Siekte As jou kleinding siek is, kan sy slaappatroon verander.
  • Dieet Dieet het ’n invloed op slaap. Nuwe navorsing wys kos wat met triptofaan verryk is, kan ’n kind help slaap. Kalsium help ook met die omsetting van triptofaan na serotonien en melatonien, wat slaap aanhelp. Magnesium is nog ’n belangrike mineraal, aangesien dit met spierverslapping help. Let ook op jou kind se ysterinname, aangesien ’n ystertekort hom snags gereeld kan laat wakker word. Baie ma’s glo kinders slaap beter as hulle vroeër vaste kos begin eet, maar dit werk nie so nie, sê Alison.
  • Dagslapies Dit werk nie altyd om jou kind in die dag minder te laat slaap sodat hy in die nag beter slaap nie, want hy kan maklik oorgestimuleer word. Beperk middagslapies egter tot voor halfvyf.

Leer baba self slaap

Kry jou baba in ’n lomerige staat deur hom te wieg of te voed, beveel Ann en Megan aan. Sodra hy amper aan die slaap is – maar nog nie slaap nie – moet jy hom versigtig neerlê.

Sit jou hand met ’n effense drukking op hom en sê “sjj-sjj” tot hy slaap. Maak seker sy koppie is nie laer as sy lyf wanneer jy hom neerlê nie.

(Wenk: Dit help soms om ’n warmwatersak vir ’n kort rukkie op sy lêplek te plaas sodat dit nie yskoud is waar jy hom neerlê nie.) As jou baba teëstribbel, kan jy hom optel, weer lekker styf toedraai en hom dan weer neerlê terwyl jy saggies met jou hand op hom tik.

Veral babas jonger as drie maande baat daarby om knus toegedraai te word in ’n kombersie sodat hulle nie wakker skrik weens hul eie lyfbewegings nie.

Hou die ligte gedemp, die kleure neutraal en speel strelende musiek of witgeraas in die agtergrond. Lê jou baba verkieslik op dieselfde plek neer.

Vestig ’n goeie roetine voor slaaptyd: badtyd, voeding, koestertyd (waar jy hom net vashou en streel) of storietyd as jou kind ouer is, en dan slaaptyd.

Roetine help jou baba om ’n vaste patroon te verwag en hy weet dan wat van hom verwag word. Slaapassosiasie is ’n maklike manier om jou kleinding sielkundig daarop voor te berei dat dit byna slaaptyd is – hy sal weet dat wanneer jy sy spesiale slaap-CD opsit, dit byna bedtoegaan-tyd is.

Gee jou ouer baba of peuter ’n troosvoorwerp wat hy altyd by hom kan hê en wat hom gerus kan stel, soos ’n spesiale kombersie.

Jou probleme – opgelos!

Baba ruil dag en nag om Pasgebore babas kan dag en nag soms verwar. Maak die verskil baie duidelik. Moenie snags doeke ruil tensy dit noodsaaklik is nie, moenie met jou baba gesels of speel as jy hom in die nag voed nie, en hou die ligte gedemp.

Hy word elke 15 minute wakker Omdat jou baba vir sulke lang tye lig slaap, skrik hy maklik wakker, dikwels weens die skrikrefleks. Draai hom in ’n kokon toe sodat sy eie armbewegings hom nie wakker maak nie. Lê hom neer in ’n dof beligte vertrek en speel strelende musiek om skielike harde geluide uit te skakel.

Hy veg teen die slaap ’n Baba of peuter wat sukkel om te slaap, is dikwels oorgestimuleer. Tekens van oorstimulasie is dat hy sy ogies vryf, sy kop wegdraai, sy oortjies trek of sy lyfie agteroorgooi. ’n Rustige slaaptydroetine met geluide en ’n omgewing wat hy met slaap verbind, kan hom lomerig help kry.

Hy is douvoordag wakker Veral peuters is geneig om ure voor opstaantyd wakker te word. Maak seker sy kamer het donker gordyne sodat die son hom nie wakker maak nie.

Hy is in die middel van die nag wawyd wakker As jou kleinding dink middernag is speeltyd, wees ferm: Sê dis slaaptyd en gaan sit hom in sy bed. Jy kan ’n speelding by hom neersit en sê hy mag daarmee speel tot hy vaak is, maar hy mag nie uit sy bed klim nie. Neem hom ferm terug bed toe as hy na jou toe kom.

Slaapafrigting

As jou kleinding verkeerde slaappatrone geleer het, is slaapafrigting soms die enigste uitweg. Alison sê dis ’n goeie plan as die ouers so min slaap dat hulle nie behoorlik kan funksioneer nie.

Slaapafrigting is ook ’n plan as jou baba bedags prikkelbaar en hiperaktief is weens te min slaap. Die meeste kenners beveel nie slaapafrigting voor ses maande aan nie.

Daar is baie opsies; kies een waarmee jy en jou maat gemaklik is. Doen dit net as jou baba gesond is en julle nie te veel werkdruk het nie. As jy eers begin, wees konsekwent – moenie die afrigting halfpad laat staan nie, want al wat jy dan vir jou kind leer is dat hy net lank en hard moet huil om jou te laat toegee.

Alison stel dié plan vir slaapafrigting voor: Lê jou kleinding in sy kot of bed neer. Dit kan geduld verg omdat hy kan teëstribbel, maar bly hom ferm neerlê as hy wil opstaan.

Bly in die vertrek, maar sit op ’n stoel. Jy kan aan hom raak as hy huil en met hom praat tot hy kalm is en stil in sy kot lê. Moet hom nie optel nie.

Laat hom aan die slaap raak sonder hulpmiddels wat hy nie heelnag by hom kan hê nie. Hy kan wel ’n teddiebeer of kombersie in die nag by hom hou.

Pas hierdie metode een keer per nag toe; verkieslik die eerste keer wanneer hy wakker word. Die res van die nag kan jy doen wat jy wil om hom weer aan die slaap te kry.

Ná vier nagte behoort jou kind nie meer teë te stribbel nie en kan jy die metode geleidelik na ander nagtelike wakkerwordsessies uitbrei. 

HET JY GEWEET?
Moenie dadelik reageer as jy jou baba hoor roer nie; gee haar kans om self weer aan die slaap te raak. Soms hoef jy haar net liggies op die rug te tik tot sy weer slaap.

Resep vir elke ouderdom

Jou pasgeborene

Pasgebore babas slaap die meeste van die tyd. Die meeste pasgeborenes is net sowat 45 minute tussen slaaptye wakker – net lank genoeg om doek te ruil, te voed en windjies uitgevryf te kry.

Moenie jou baba nou oorstimuleer omdat jy met haar wil speel nie. Jou bondeltjie het gereelde voedings nodig, ook in die nag. Dis werklik uitsonderlik dat ’n baba van hierdie ouderdom deurslaap.

Moenie jou baba snags wakker maak vir voedings tensy jou gesondheidsraadgewer dit voorgeskryf het nie.

6 weke tot 6 maande

Jou baba het nou ’n meer gevestigde voedingspatroon, maar sal steeds dikwels in die nag wakker word. Sy kan al in een sessie van ses tot agt uur aaneen slaap sonder om vir ’n voeding wakker te word, sê Ann.

Haar dagslapies begin ’n vaste ritme ontwikkel (sy kan tot vier keer in die dag slaap), maar sy kan steeds nie lang wakker tye goed hanteer nie.

Teen twee maande is haar wakker tyd tussen slapies sowat 60 minute en op vier maande is dit sowat 90 minute. Babas wat al maande deurgeslaap het, kan nou skielik in die nag begin wakker word.

Dis deels omdat hul voedingsbehoeftes begin verander. Oorstimulasie kan ook ’n rol speel. As jy jou baba uit jou kamer na haar eie kamer wil skuif, is dit nou ’n goeie tyd.

Ná vier maande word dit ál moeiliker en kan jy protes verwag. Doen baie moeite om voor vier maande vir haar te leer om self aan die slaap te raak, want daarna vorm slegte slaapgewoontes.

6 maande tot 2 jaar

Jou baba slaap tussen ses en nege maande bedags gewoonlik twee of drie keer vir kort rukkies en een keer vir langer. Ná nege maande val een van dié slapies weg en teen ’n jaar oud slaap sy net twee keer per dag.

Kort voor haar tweede verjaardag kan sy haar daarteen begin verset en sal een lang oggendslaapsessie genoeg wees. Omdat jou baba nou die wêreld verken, is oorstimulasie algemeen en kan sy woes teen die slaap baklei.

Voor slaaptyd is ’n goeie rustigword-roetine wat baba help ontspan belangrik. As jou baba haar self nog nie teen hierdie tyd kan troos nie en sukkel om deur te slaap, kan jy nou slaapafrigting oorweeg.

Sy behoort nie meer snags bottel te drink nie. Skeidingsangs kan ’n probleem word. Jou kleinding kan ook begin nagmerries kry. Sy sal getroos en rustiger voel as jy haar vashou of by haar sit en dalk ’n nagliggie aanlos.

Twee jaar en ouer

Jou kleinding het nou net een dagslapie nodig en dit sal mettertyd ook wegval. ’n Goeie aandroetine is baie belangrik. Sy sal jou met allerhande versoeke voor slaaptyd probeer manipuleer.

Wees liefdevol, maar ferm. Jou spruit kan nou haar kot vir ’n bed verruil. As sy gedurig uit die bed klim, neem haar ferm terug. Sit by haar tot sy rustig is en verlaat kort-kort die vertrek.

Omdat jou kind se verbeelding sterk word, kan vrese met slaaptyd inmeng. As sy saans by jou wil inklim, kan jy ’n matrassie voor jou bed oorweeg.