Pak jou doekesak

akkreditasie
Hier's 'n volledige lys van alles wat jy in jou doekesak moet hou om seker te maak jy is paraat vir elke verrassing wat opduik.

Vir die volgende twee jaar van jou baba se lewe gaan jul doekesak min of meer oral saam met julle gepiekel word. Kies dus een (of twee) met die volgende eienskappe:

  • Dit moet groot genoeg wees sodat álles daarin kan pas.
  • Onthou, pappa gaan ook soms die sak help dra en sy macho ego kan dalk net vasskop teen ’n skelpienk sak met blommetjies en bytjies op.
  • Kies een met stewige, verstelbare bande wat jy oor jou skouer kan hang sodat jou hande los is. Deesdae is lieflike rugsakke ook beskikbaar.
  • Die materiaal van die sak moet wasbaar wees; jy gaan dit nog baie moet was. Baie doekesakke het hul eie ruilmat – maak seker dié mat is ook wasbaar.
  • Dis nuttig as die sak verskeie klein sakkies aan die binne- en buitekant het. So kan jy verskillende artikels op verskillende plekke bêre en selfs vuil doeke en klere eenkant hou.
  • Kies ’n sak wat wyd is pleks van diep. Dis moeilik as ’n mens in die donker moet skarrel om vinnig ’n afveedoekie raak te vat.
  • Hou altyd ’n paar doeke en afveelappies in ’n aparte sakkie in jou motor vir uitstappies wat onbepland en op die nippertjie geskied.

Gewone uitstappie

  • Minstens vyf doeke
  • Boudjiesalf wat jy sommer altyd in die sak hou
  • Afveedoekies of ’n nat waslap wat jy in ’n verseëlde plastieksakkie hou
  • Gegeurde plastieksakkies om vuil doeke in te hou en vuil klere in te bêre
  • Twee klein pakkies sneesdoekies
  • Sonroom
  • Een ekstra stel kleertjies en iets warms, winter en somer
  • ’n Ekstra frokkie in die winter
  • ’n Ekstra hemp vir jou
  • As jy bottelvoed, twee tot drie gesteriliseerde bottels en mineraalwater
  • ’n Houertjie met afgemete formulemelk in
  • ’n Klein kombersie
  • ’n Ruilmat
  • Twee verskillende speeldinge
  • As sy ’n fopspeen suig, ’n ekstra fopspeen en ’n sakkie waarin dit gehou word
  • As sy al eet – ’n botteltjie babakos en borslappe (’n Mens kan wonderlike weggooibare borslappe koop.)
  • ’n Telefoonlysie met noodnommers
  • ’n Paar rand vir ’n noodgeval

Baba slaap uit

Om vir ’n baba te pak wat een nag moet oorslaap, kan ’n hele Groot Trek afgee. Hier is ’n paar inpakwenke:

  • Die doekesak!
  • Genoeg babakos vir die tyd wat julle weggaan
  • Bottels en formulemelk
  • Genoeg doeke vir die tyd wat julle weggaan
  • Minstens twee stelle slaapklere
  • Minstens twee of drie stelle klere vir die volgende dag
  • Iets warms, selfs in die hartjie van die somer
  • Toiletware soos seep, sjampoe, poeier en lyfroom
  • Medisyne soos ’n stroop vir pyn en koors en rehidreermiddel vir as sy magie skielik kwaai begin werk
  • Muskietweerder soos Mike Mozzie
  • Sy gunsteling-knuffelbeertjie of speelding wat hom op ’n vreemde plek sal troos
  • Skoene en pantoffels as hy reeds loop

Motor-uitstappie

’n Ver rit in ’n motor kan soms beproewend wees. Hier is ’n lys goed wat jy gerus altyd in die motor kan hou.

  • Afveelappies. Om die een of ander rede is kinders se gesigte áltyd vuil teen die tyd dat julle jul bestemming bereik.
  • ’n Groot ou handdoek. Dit kan vir soveel verskillende doele gebruik word: ’n kussing, ’n kombers om jou kind mee toe te gooi laat in die aand, ’n opveelap vir daardie bottel wat op die sitplek uitgeloop het. Dit kan selfs oor warm karstoeltjies gedrapeer word.
  • Eethappies wat nie oud word nie, soos koekies wat afsonderlik verpak is en sap in kartonboksies.
  • Speelgoed
  • ’n Nood-doekesak met doeke, afveedoekies, formulemelkpoeier en ’n bottel mineraalwater
  • ’n Sonskerm: ’n groot lap vir die venster om die son uit jou kind se gesig te hou

Ekstras

  • 'n Koorspen
  • 'n Klein botteltjie Panado- of Calpol-stroop
  • Vingerkoekies (veral vir babas wat besig is om tande te kry)
  • 'n Plastiekbakkie en 'n babalepeltjie 
  • Antibakteriese handewasseep
  • 'n Sagte haarborseltjie 
  • Lipstiffie vir jou
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees