Pla die oortjies?

akkreditasie
Oorinfeksies is ongelukkig een van daardie nare dinge wat babas dikwels opdoen. Hoe weet jy as dit jou pienkvoet se probleem is?

Infeskie

Jou baba het koors, trek aan haar oor en is baie knieserig en huilerig. Sy wil nie eet nie, het diarree en braak. ’n Gelerige of wit vloeistof drup uit haar oor.

Wat om te doen

Dit kan ’n oorinfeksie wees wat die gevolg van ’n virus of ’n bakterieë is. Die buise van Eustachius, wat die middeloor verbind met die agterkant van die neus en keel, raak verstop en vog bou aan die binnekant van die oortrom op, wat lei tot infeksie.

Die verstopping kan veroorsaak word deur ’n verkoue of allergiese irritasie. Dis hoekom oorinfeksie so gereeld op ’n verkoue volg.

Dis belangrik om die dokter te raadpleeg om ’n deeglike diagnose te kry, asook antibiotika (indien nodig) en ’n pynverligtingsmiddel. As jou kind geneig is tot oorinfeksie, moet jy veral probeer om verkoue vroeg te behandel sodat die buisies nie kans kry om te verstop nie.

Maak seker jou baba se inentings is op datum. Borsvoed so lank jy kan. Hou jou baba weg van moontlike allergene in die omgewing, veral tabakrook.

Daar sit iets 

Jy kan sien daar sit iets in jou baba se oor vas, of jy sien bloed en die oor is rooi en geswel. Jou kind vryf aan sy oor.

Wat om te doen

Ouer babas en kinders steek graag goed in hul ore, soos ’n korreltjie rys, springmielies, ’n boon of ’n knoop. Moet maar liewer nie die voorwerp self met ’n knyptangetjie probeer verwyder nie, want meestal druk ’n mens dit net dieper in.

Dis beter om eerder dokter toe te gaan. Voorkoming is natuurlik beter – hou klein voorwerpies waar moontlik van jou baba af weg.

Rooi en rou

Jou baba vryf haar oortjies, of huil wanneer sy kou of wanneer jy liggies aan haar oor trek. Haar oor is rooi en skubberig en daar is ’n geel, waterige afskeiding. Die oortjies en die kliere in die nek is geswel.

Wat om te doen?

Swemmersoor is die naam van ’n infeksie van die buitenste laag van die oorkanaal. Dit ontstaan wanneer water in die oorkanaal opdam en die vel se beskermende laag verswak. Dit verander die suurbalans van die vel, wat bakterieë en swamme laat groei. Moenie ’n oorpluisie gebruik nie, want dit kan die vel seermaak en die kans op swemmersoor vergroot.

Vra jou dokter vir oordruppels om die ontsteking te verminder en die bakterieë dood te maak. Hou die oortjies droog, want water in die oor kan dit erger maak.

O, die snollies

Jou baba trek aan haar oor en het ’n loopneus en ’n hoes. Sy’s prikkelbaar en wil nie eet nie, en het lae koors.

Wat om te doen

Babas kry gereeld verkoue omdat hul immuunstelsel nog nie ten volle ontwikkel het nie. Maak jou reg vir tussen ses en 10 verkoues per jaar as jou kind al speelskool toe gaan. As die genies en gehoes voor die koors begin het, het jou kind waarskynlik eerder verkoue as griep.

Probeer jou baba altyd sover moontlik weghou van mense wat siek is. Rokers mag ook nie naby jou baba kom nie. Hou aan met borsvoed.

As ’n baba ’n hoë koors het, raadpleeg die dokter. Gaan ook dokter toe as jou baba se verkouesimptome langer as 14 dae aanhou of as die simptome erger word. Hoe kleiner die baba, hoe vroeër moet julle mediese hulp kry.

Toegeslaan

In ’n vliegtuig kan jou baba begin keel opsit wanneer julle opstyg en land. Dit is omdat sy ongemak of pyn in haar oortjies ervaar weens die lugdrukverskille. Volwassenes voel dit ook, maar dis erger vir babas omdat hul oorkanale soveel smaller is en hulle ore dus sukkel om by die veranderinge in lugdruk aan te pas.

Wat om te doen

Dit help om te gaap, kougom te kou of te sluk, maar natuurlik kan jy dit nie vir ’n klein babatjie sê nie! Probeer bors of bottel gee tydens opstyging en landing sodat jou baba aan die sluk is terwyl die lugdruk verander. Moedig jou baba ook aan om op die vlug fopspeen te suig. Drup voor die vlug ontstuwingsdruppels in ’n toe neusie.

Antibiotika?

Oorinfeksies kan maar ernstig opgeneem word. Gaan dus gerus dokter toe, want dis nie altyd duidelik uit die sigbare simptome of antibiotika nodig is of nie. Oorinfeksies kan baie seer wees, of soms glad nie seer nie. Maar as dit onbehandeld gelaat word, kan dit lei tot gehoorverlies, en selfs in seldsame gevalle tot meningitis of infeksie van die omliggende been.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees