Vraag:

Ons het ’n ruk gelede ’n potjie aangeskaf. Een aand wys my 22 maande oue dogtertjie uit die bloute na die potjie. Ek tel haar toe op die potjie en tot my verbasing doen sy haar ding. Dit het drie weke lank goed gegaan, maar toe verloor sy heeltemal belangstelling. Het ek te vroeg begin? Moet ek die doeke terugbring of deurdruk?

Antwoord:

Sommige kleuters is al teen 18 maande gereed, ander weer op drie en ’n half jaar. As jou dogtertjie gereed is, sal sy:

  • Minstens twee uur lank of ná ’n dagslapie droog wees,
  • Weet dat sy urineer of ’n dermbeweging het,
  • Onafhanklik stap, afbuk, opstaan en haar broekie af- en optrek,
  • Eenvoudige aanwysings verstaan en haar liggaamsdele ken, en
  • Belangstelling toon in die potjie of toilet, jou naboots en gemotiveer wees om die potjie te gebruik.

Omdat sy reeds sukses behaal het, stel ek voor julle druk deur. Dit klink of jou dogter sensories gedrewe is. Sy stel belang in nuwe dinge, maar is ook geneig om verveeld te raak as die nuutjie verby is.

Sy het dus ’n omgewing nodig wat stimulerend en opwindend is. Maak ’n ophef van die potjie en suksesvolle pogings, maar hanteer glipsies met empatie en ’n traak-my-nie-agtige houding.

Plaas die potjie op ’n plek waar sy dit maklik kan raaksien. Plak prentjies teen die muur en sit ’n mandjie met boeke, musiekinstrumente en haar gunstelingspeelgoed binne bereik van die potjie.

Gebruik sterkaarte, plakkers, lekkers of klein speelgoed om haar te motiveer. Sodra sy weer belangstel, kan jy die belonings uitfaseer. Let wel op dat dié benadering nie vir alle kleuters sal werk nie.

* Lees gerus Lizanne se boek Maak gelukkige kinders groot en besoek haar blog by www.lizanneduplessis.com.