(Hierdie artikel is eerste gepubliseer in Baba & Kleuter, Jan 2015) 

Die vermoë om sy moedertaal gemaklik en korrek te gebruik, is noodsaaklik vir ’n kind se algehele ontwikkeling. Hoe goed hy eendag in die samelewing gaan funksioneer, gaan afhang van hoe doeltreffend hy sal kan kommunikeer. Kommunikasievaardighede gaan egter oor meer as net praat – dit gaan ook oor liggaamstaal en houding.

As jy met jou kind omgaan, gee jy vir hom baie niewoordelikse boodskappe, en dit laat hom op ’n bepaalde manier optree. Hoewel babas en kleuters kommunikasievaardighede oënskynlik moeiteloos aanleer, moet jy ook help sorg dat jou aapstert eendag geletterd en emosioneel volwasse is.

Sinvolle kommunikasie bevoordeel ’n kind se...

Emosionele welstand

Mamma se hande en liggaam praat baba se taal. Babas voel veilig wanneer hulle aangeraak en vertroetel word. ’n Ma se bekende en liefdevolle stem kan die ongelukkigste baba laat glimlag. Kleuters beleef baie emosies wat hulle nie altyd kan verwerk en bestuur nie. Hulle moet leer dat emosies deel van ons wese en alledaagse lewe is, maar ook hoe om dit te beheer en te kanaliseer.

Sosiale welstand

Wanneer jy met jou baba praat, leer hy die taalvaardighede wat nodig is om op ’n sosiaal aanvaarbare manier met mense om te gaan. Aanraking leer hom om die mense naaste aan hom te vertrou. In die kleuterjare begin hy etiket en sosiaal aanvaarbare gedrag leer deur te kyk hoe sy ouers optree, en deur met ander mense te doen te kry.

Intellektuele welstand

Wanneer ’n kind skool toe gaan, moet sy taalontwikkeling op ’n bepaalde vlak wees. Hy moet die gesproke woord begryp en korrek gebruik en hy moet leer lees en skryf. Verder moet hy liggaamstaal en ander niewoordelikse aanwysings oor wat van hom verwag word, verstaan en daarop reageer. As jy sinvol met jou baba en kleuter gesels en omgaan, kan jy hom hiervoor gereed begin maak.

Hoe om met jou baba te kommunikeer

In haar boek Taal en skoolgereedheid (Metz Press) sê die onderwyseres Martie Pieterse jou baba is die ontvanklikste leerling wat jy ooit sal hê. “Navorsing toon dat babas jonger as ’n maand ’n beeld of ’n klank 24 uur lank onthou, mits hulle dit oor en oor sien of hoor. Kan jy aan ’n beter motivering dink om sommer van die eerste dag af met jou baba te praat?”

Wenke:

  • Praat so dikwels moontlik met jou baba. Al verstaan hy nie nou alles wat jy vir hom sê nie, bêre sy brein die woorde in sy geheue.
  • Sing vir jou baba. Jou stem kalmeer hom, en klanke en ritme stimuleer sy intellek.
  • Raak jou baba baie aan. Babas wat net die nodigste versorging ontvang, floreer nie en dit benadeel hul totale ontwikkeling.
  • Reageer onmiddellik op jou baba se behoeftes. ’n Baba word nie bederf as jy hom optel elke keer wanneer hy huil nie. Inteendeel, hy voel ongelief en dat niemand vir hom omgee nie. As jy hom optel, vervul jou onmiddellike reaksie sy emosionele behoeftes.
  • Werk rustig met jou baba. Hy voel aan wanneer jy prikkelbaar of rusteloos is en reageer dieselfde daarop.

Hoe om met jou kleuter te kommunikeer

Gebruik woorde en taal wat jou kleuter se luistervaardighede versterk. “Goeie luistervaardighede is die voorloper van byna alle bevredigende lewensvaardighede,” sê die ouerskapskenner suster Ann Richardson in die boek Koester jou kleuter (Metz Press). Dié lewensvaardighede sluit natuurlik taal in, maar leer jou kind ook sinsvorming, konsentrasie en om opdragte uit te voer. Dit help hom goed voel oor homself en leer hom om agtergrondgeraas uit te skakel.

Wenke:

  • Volg gesprekke met jou kleuter met volle aandag. Hy sien wanneer jy halfhartig deelneem aan die gesprek en voel maklik afgeskeep.
  • Praat stadig en duidelik. Kleuters leer nog om wat hulle hoor te verstaan en fisiek of woordeliks daarop te reageer.
  • Herhaal en verduidelik moeilike woorde. Hy praat makliker oor dinge wat hy verstaan.
  • Die uitspraak van alle woorde moet korrek wees.
  • Vra oop vrae om hom te leer dink oor dinge en sy verbeelding te gebruik.  Dit sal ook sy redenasievermoë stimuleer en jul gesprek interessanter en sinvoller maak.
  • Moedig hom aan om vrae in volsinne te beantwoord.
  • Lees dikwels stories hardop voor. Dit bevorder nie net geletterdheid en intellek nie, maar ook emosionele nabyheid en samehorigheid.  Onver

Verbale kommunikasie:

“Taalvaardighede is die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee,” sê Martie. Maar hoe doen jy dit? Hier is ’n paar idees:

1. Praat oor...

Met jou baba

  • Praat oor waarmee jy besig is. “Ons bad jou nou lekker!” “Kom ons sit ’n skoon doek aan.” “Kom ons vee daardie pampoen van jou mond af.”
  • Moenie net in babataal praat nie, want jou baba moet ook die korrekte woorde en uitspraak leer.
  • Verwoord jou baba se emosies.
  • Erken dit deur te reageer op die emosie wat hy beleef en waar nodig liggaamlik te vertroos.

Met jou kleuter

  • Kleuters is babbelbekkies en geniet dit om te gesels oor alles wat hul sien en ervaar. Hulle is ook baie leergierig, daarom moet jy nie ongeduldig raak met jou kleuter se duisternis vrae en hoekoms nie. Antwoord hom so goed jy kan sonder om in onnodige besonderhede verstrengel te raak. Sê vir hom wanneer jy nie ’n antwoord het op ’n spesifieke vraag nie en doen moeite om die inligting te kry.
  • Moet nooit vir jou kleuter jok nie, dit sal sy vertroue in jou skend.
  • Laat hom praat oor emosies en gevoelens wat hy in sekere situasies beleef of beleef het.
  • Praat mooi met hom, soos wat jy met gaste of jou kollegas praat. Moenie sarkasties wees, vloek of jou kind afjak nie.

2. Gesels saam…

Met jou baba

  • Gesels spontaan en oor lawwe dinge met jou baba.
  • Gee jou baba kans om ook in babataal te gesels – so leer hy om nou al beurte te maak in gesprekvoering en om sosiaal aanvaarbaar te kommunikeer.
  • Maak oogkontak wanneer jou baba met geluidjies jou aandag trek en gee hom jou volle aandag.
  • Moet jou baba nooit ignoreer wanneer hy na jou uitreik nie.

Met jou kleuter

  • Gesels met jou kleuter wanneer hy soggens wakker word en vra uit oor sy nagrus.
  • Gesels oor sy dag by die kleuterskool of iets waarna hy uitsien wat die volgende dag gaan gebeur.
  • Ook sy negatiewe emosies moet erken en by die naam genoem word. Deur dit hardop te erken, leer jou kleuter dat dit natuurlik en aanvaarbaar is om gevoelens te hê, maar dat dit reg hanteer moet word.
  • Gesels met hom, maar luister ook. Wees ’n goeie luisteraar en luister met onverdeelde aandag. Die gesegde “waar die hart van vol is, loop die mond van oor” geld vir kleuters ook.
  • As jy mooi luister, sal jy heeltyd weet wat in sy hartjie aan die gang is. Wees ingestel op sy gemoedstemming. Soms wil jou kleuter gesels en is dit vir hom nodig dat jy luister. Daar is tye dat stilbly, ’n drukkie of ’n glimlag meer trefkrag het as ’n lang relaas deur jou nadat hy sy gevoelens gedeel het.

3. Vertel van…

Met jou baba

  • Vertel jou baba van jou liefde vir hom en hoe spesiaal hy vir jou is. Raak aan hom terwyl jy hom van jou liefde verseker.
  • Wys vir hom sy eie spieëlbeeld en gesels oor sy gesiggie. Dit help met liggaamsbeeldontwikkeling.

Met jou kleuter

  • Vertel jou kleuter van jou jong dae. Wys vir hom foto’s van jou toe jy klein was en vertel vir hom van jou pappa en mamma, wat nou sy oupa en ouma is.
  • Vertel hom staaltjies en stories oor jou kinderlewe.
  • Vertel ook waarmee en watter speletjies jy en jou medespruite (sy ooms en tannies) alles gespeel het toe julle kinders was.
  • Dit bring jou kleuter meer in voeling met jou en dit leer hom oor sy agtergrond en herkoms. Wys ook sy babafoto’s vir hom en verseker hom dat jy toe al baie lief vir hom was.
  • Gesels oor hoe groot hy geword het en alles wat hy nou kan doen wat hy as baba nie kon nie.

Nie-verbale kommunikasie:

“Het jy geweet dat ’n kind net ’n mens word op grond van sy interaksie met ander mense?” vra die breingimkenner dr. Melodie de Jager in haar boek Babagim.

Gryp dus elke geleentheid aan om jou kleinding mens te maak. Hier is idees.

1. Aanraking

  • Babas en kleuters floreer op soentjies en drukkies. Hulle geniet dit om mamma se hand vas te hou terwyl hulle in die winkel stap. Hulle voel geborge wanneer hulle toegelaat word om op pappa se skoot te sit.
  • Babas en kleuters voel ongelief wanneer daar nie genoeg velkontak tussen hulle en ander mense is nie. Dan kan hulle dalk deur middel van wangedrag uiting gee aan die leemte wat hulle voel, sonder dat hulle self verstaan hoekom hulle so optree.
  • Aanraking kan ook ’n gebaar van simpatie, begrip en liefde wees en sê soms meer as duisend woorde.

2. Gesigsuitdrukking en liggaamshouding

  • Pasop dat jy jou baba of kleuter nie die skrik op die lyf jaag met ’n harde uitdrukking in jou oë of dreigende liggaamshouding nie. ’n Kleuter voel soos ’n dwergie voor ’n reus as hy moet opkyk na ’n woedende pa of ma wat bo hom uittroon. Hy weet dat hy hom nie fisiek kan verdedig teen hierdie reus nie en dit kan veroorsaak dat hy vrees en wantroue tenoor die ouer begin voel, al is hy nie fisiek beseer nie.
  • Doen ook moeite om jou baba of kleuter se nie-verbale kommunikasie te verstaan.

Huil:

Daar is min dinge so pragtig as die geluid van ’n pasgeborene se bewerige (of kwaai) huilstemmetjie. Maar as dit eers verby is, doen ons alles in ons vermoë om te keer dat dit weer gebeur! Ongelukkig is huil die enigste manier waarop jou baba vir jou kan vertel dat hy honger, moeg, siek of eensaam voel. Reageer dus elke keer dadelik op sy gehuil. Dit laat hom geborge en veilig voel. Dit bou ook sy selfbeeld omdat hy besef daar is iemand wat hom liefhet.

As jy nie reageer nie, voel hy verwerp, eensaam en verlate. Jou kleuter het nog nie die vermoë om sy gevoelens in woorde uit te druk nie, veral nie terwyl hy angstig, moeg of onseker voel nie. As die trane dan vloei, is hy nie stout nie, hy prober net sy gevoelens met jou deel op die beste manier op daardie oomblik. As jy hom dadelik troos en kans gee om sy gevoelens onder beheer te bring, leer hy dat hy selfs deur te huil sy mening mag lug. As jy hom stil maak met ’n kwaai “Hou nou dadelik op huil!”, gaan hy net harder huil én die boodskap kry dat hy nie sy gevoelens mag wys nie.

Liggaamshouding: 

As jou baba gelukkig en tevrede voel, sal hy positief reageer op jou stem en pogings om met hom te gesels. As jy self dan ontspanne en rustig is, kry hy die boodskap dat jy sy geselskap geniet. ’n Siek of liggaamlik ongemaklike baba is knieserig en bedaar nie wanneer jy hom optel nie. Dis belangrik dat jy rustig bly, aangesien babas baie gevoelig is vir volwassenes se gemoedstemming.

Babas wat oorgestimuleer word in inkopiesentrums of tydens kuiers wys hul ontevredenheid ook sommer vinnig. Hul onvolwasse sensoriese stelsel is nog nie opgewasse teen te veel rumoer en liggaamlike kontak nie.

Jou kleuter se vloerstuipe en woedebui  is maar net ’n manier om te wys dat hy nie opgewasse voel teen die situasie waarin hy hom bevind nie, en nie in woorde kan sê hoe hy voel nie. Wanneer daardie lyfie op die vloer rondgegooi word en jy gee liggaamlike vertroosting, sal hy begin bedaar. ’n Kort, kragtige geselsie agterna oor wat hom so kwaad gemaak het, sal vir hom baie beteken.

Hoe gesels jy met jou baba en kleuter? Wat het jy al ontdek oor kommunikasie met jou kinders? Stuur gerus jou stories aan web@babaenkleuter.co.za en ons mag dit dalk publiseer.