VRAAG: My baba is amper 10 maande oud en eet al ’n verskeidenheid vaste kosse. Ek sluit ’n bietjie kaas by haar maaltye in en jogurt is reeds ’n groot gunsteling. Nou wonder ek oor koeimelk. Ek het al gelees dat koeimelk te veel minerale bevat vir ’n baba en nie goed is vir die niere nie. So baie mense is deesdae ook laktose-onverdraagsaam – moet ek op die uitkyk daarvoor wees?

MARETHA VERMAAK ANTWOORD: Die gebruik van koeimelk voor die ouderdom van ses maande word glad nie aanbeveel nie, aangesien die niere van babas jonger as ses maande nog nie gereed is om die hoë proteïenkonsentrasie van koeimelk te hanteer nie. Dit word ten sterkste aanbeveel dat eksklusiewe borsvoeding toegepas word vanaf geboorte tot ses maande. Ná ses maande kan mammas met vaste kos begin, maar onthou om steeds met borsvoeding voort te gaan. As jy nie kan borsvoed nie, word spesiaal geformuleerde babamelk, wat vir babavoeding aangepas is, aanbeveel.

Op ses maande het ’n baba nog 150 ml melk per kilogram liggaamsgewig nodig. As jou baba dus 6 kg weeg, het sy 1 liter melk per dag nodig. Dit kan in vier of vyf porsies oor ’n tydperk van 24 uur verdeel word.

As jou baba egter gereeld genoeg dierproteïen in die vorm van vaste kos kry, het sy sowat 200-400 ml melk per dag nodig.

Sou jou baba egter nog nie genoeg pro-teïene soos vleis, hoender of lewer inneem nie, behoort haar melkinname 300-500 ml per dag te wees. Aanvaarbare melkbronne van ses maande af sluit in borsmelk, volroommelk (koei-, bok- of skaapmelk), langlewemelk en gefermenteerde melk (amasi) of jogurt.

Teen 12 maande behoort kinders dieselfde soort kos as die res van die gesin te eet. Hou die volgende in gedagte:

  • Vleis, pluimvee, vis, eiers en melk moet daagliks, of so gereeld as moontlik, ingeneem word. Dis ryk bronne van verskeie belangrike voedingstowwe, soos yster en sink van ’n hoë gehalte. Melkprodukte spesifiek bevat baie goed absorbeerbare kalsium.
  • Vitamien A-ryke vrugte en groente moet daagliks geëet word. Dit is donkerkleurige vrugte en groente soos botterskorsie, patat, beet, wortels, spinasie, mango, appelkose en spanspek.
  • Voorsien ’n dieet met ’n voldoende vetinhoud: sluit gemaalde neute en sade, grondboontjiebotter, avokado, botter of plantaardige olie in.
  • Vermy drankies met ’n lae voedingswaarde soos tee, koffie en versoete koeldranke. Kinders onder vyf jaar behoort ook glad nie plantaardige alternatiewe vir melk soos amandelmelk te drink nie. Plantaardige melkalternatiewe bevat baie min proteïen, is meestal versoet en bevat nie al die noodsaaklike aminosure en vetsure wat nodig is vir optimale groei en ontwikkeling nie.
  • Beperk die hoeveelheid sap wat jou baba drink om te keer dat dit haar versadig maak en so die plek inneem van belangrike voedingryke kos.

Wat van laktose-onverdraagsaamheid? Alle babas kan laktose verdra. Moedersmelk bevat trouens ’n baie hoë konsentrasie laktose in vergelyking met koeimelk en dié van ander soogdiere.

Dis belangrik om te weet dat laktose- onverdraagsaamheid nie ’n melkallergie is nie, maar bloot ’n spysverteringsteurnis wat ontwikkel wanneer meer laktose ingeneem word as wat die liggaam kan hanteer.

Laktose is ’n samestelling van twee suikerkomponente: glukose en galaktose. Die liggaam produseer normaalweg ’n ensiem genaamd laktase om dié twee van mekaar te skei sodat hulle in die bloed opgeneem kan word. Wanneer die liggaam egter nie genoeg laktase produseer nie, kan die suikerkomponente nie geskei word nie.

Omdat die melksuiker dan begin gis, kan dit tot opgeblasenheid, winderigheid, los stoelgang en maagkrampe lei.

’n Mens se laktasevlak verander gewoonlik deur die loop van jou lewe. Dit styg vinnig in die eerste week ná geboorte en begin van drie tot vyf jaar oud daal. In die later kinderjare kan dit moontlik nog verder verlaag.

Dis dus belangrik dat babas en kleuters wat gespeen word, gereeld koeimelk kry sodat hulle ’n verdraagsaamheid vir laktose kan opbou. Jou liggaam oefen dus om steeds die natuurlike melksuiker af te breek. Navorsing wys ook vir ons dat mense van Europese afkoms van nature ’n groter verdraagsaamheid vir laktose het.

Die meeste mense wat laktose-onverdraagsaam is, kan 6 tot 12 g laktose in ’n enkeldosis hanteer sonder om simptome te voel. ’n Koppie melk bevat tipies 12 g laktose. Suiwelprodukte verskaf belangrike voedingstowwe, soos proteïene, kalsium en kalium. Almal – jonk en oud – het dié voedingstowwe vir goeie voeding nodig.

Moenie dat laktose-onverdraagsaamheid keer dat julle ’n gesonde, gebalanseerde dieet volg wat melk en suiwelprodukte insluit nie. Maak só om laktose beter te verdra:

  • Neem klein hoeveelhede melk of suiwel op ’n slag in en versprei jou inname deur die dag. Volroommelk word beter verdra as laevet- of vetvrye melk.
  • Gebruik melk en suiwelprodukte saam met ander kos. Gooi byvoorbeeld melk oor graankos of pap, roer ongegeurde jogurt by sop in of eet kaas op brood. So word die vertering van laktose vertraag en ongemaklike simptome dus bekamp.
  • Kaassoorte soos cheddar, gouda en mozzarella bevat baie min laktose (minder as 1 g laktose in ’n porsie van 40 g) en word oor die algemeen maklik verdra.
  • In gefermenteerde suiwelprodukte soos jogurt en maas is die laktose reeds gedeeltelik afgebreek. Boonop bevorder die lewende kulture in gefermenteerde suiwel laktosevertering en is jogurt en maas daarom ’n ideale keuses as jy laktose-onverdraagsaam is.
  • Jy kan ook laktosevrye produkte beproef.

Het jy 'n vraag?
E-pos jou vrae na sharing@ypbmagazine.com. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.