book-icon Uitgawe Junie tot September 2022
Deel

RAAD | Tien trooswenke vir jou baba

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Jou baba huil wanneer hy iets vir jou wil sê. As jy dus seker gemaak het sy doek is skoon, hy is nie honger nie, hy wys nie tekens van siekte nie en hy kry nie te warm of koud nie, kan jy die volgende raad beproef.

1. Draai hom toe

Jou baba was nege lange maande in die baarmoeder waar dit knus, veilig en warm was. As jou pasgeborene in veral die eerste paar weke omgekrap is, kan jy hom gerus in ’n kombersie toedraai sodat hy net so warm en gemaklik soos in die baarmoeder kan voel. Die kombers boots dus die wande van die baarmoeder na. Sus en wieg jou baba om die klanke en beweging van jou liggaam na te aap.

2. Stap dit beter

Tel jou nuwe baba in die stootwaentjie en onderneem ’n uitstappie. Die vars lug sal julle albei goed doen en die beweging kan hom dalk net genoeg kalmeer dat hy aan die slaap raak.

3. Borsel sy hare

As jou baba ’n bietjie ouer is, kan jy jou vingers deur sy hare borsel. Dit help om sy aandag af te trek. Staan voor die spieël en borsel sy hare liggies in verskillende style – hy sal sommer vinnig vergeet hy het gehuil.

4. Wees ’n nar

Trek snaakse gesigte of maak snaakse geluide. Jy kan lekker kreatief raak. Gewoonlik is pa’s of ouer medespruite meesters met hierdie soort aandagafleiding.

5. Liefdevolle aanraking

Om ’n pasgeborene te kalmeer moet jy hom gemaklik, gelief en veilig laat voel. Vryf jou baba se maag of masseer sy voete. Dit stel hom gerus as hy weet jy is daar vir hom.

6. Raasterapie

Die omgewing waaraan jou baba in die baarmoeder gewoond geraak het, is baie raseriger as wat jy dink. Doodse stilte kan hom dalk oorweldig. Skakel die wasmasjien of ’n waaier aan terwyl jy jou baba aan die slaap sus. Die witgeraas sal hom kalmeer en veilig laat voel.

7. Rustige omgewing

Jou baba sal soms huil weens oorstimulasie. Neem hom uit die kamer waar mense is, weg van die geraas van die televisie of radio af, of weg van sy speelgoed.

8. Wees ’n prima donna

Sing ’n kalmerende liedjie om jou baba rustig te kry. Moenie skaam wees nie, want jou baba sal mal wees oor jou stem – dit maak nie saak hoe jy klink nie! Onthou dat jou stem een van die eerste dinge is wat jou baba in die baarmoeder leer ken.

9. Kry ’n maatjie

Sit ’n skattige knuffeldiertjie waar jy en baba dit kan sien. ’n Troeteldier soos ’n hond of kat kan ook ’n ongelukkige baba se aandag aflei.

10. Neem ’n blaaskans

Gee jou baba vir iemand anders (soos jou man of ’n vriendin) sodat hulle hom ’n rukkie kan versorg. Dit gee jou kans om diep asem te haal en te ontspan. Verlaat die kamer waar jou kleinding huil – dit kan frustrerend wees om heeldag na ’n skreeuende baba te luister, veral as jy alles probeer het om hom te kalmeer. Aanvaar alle hulp wat jy van vriende en familie kry, want jy moet ook na jouself omsien. As jou instink vir jou sê dat iets nie pluis is nie, raadpleeg liewer die pediater. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees