’n Goeie nagrus is nie net vir jou goed nie: Jou baba het dit broodnodig. Tog duik daar gedurig dinge op wat met jou baba se slaappatroon inmeng.

Ons het hieroor gaan kers opsteek by Jolandi Becker, eienaar en besturende direkteur van Good Night, ’n onderne-ming wat oor slaap raadgee. Jolandi het al685 gesinne gehelp om beter te slaap en is ook Afrika se verteenwoordiger vir die internasionale vereniging van professionele slaapkonsultante. Hier is haar raad:

OLIKHEID EN TOE NEUS

’n Siek baba is ’n moeilike baba, ook met slaaptyd. Die fondament van ’n goeie slaappatroon is ’n goeie slaaptydroetine.

Spuit of suig jou olike baba se neus met slaaptyd mooi skoon sodat hy maklik kan asemhaal. Hou verder by jul normale slaap­tydroetine.

In die middel van die nag kan jy egter van jul normale roetine afwyk terwyl jou baba siek is. Met ’n siek baba in die huis vlieg alle reëls by die venster uit. Dan kan jy maar uitsonderings maak, want jou baba moet weet jy is daar vir hom.

Vir daardie drie of vier dae dat jou baba ongemaklik is, kan jy maar vinnig reageer as hy in die nag huil en doen wat gedoen moet word, al beteken dit jy moet hom by jou in die bed tel. Sodra hy weer gesond is, kan julle stelselmatig na jul gewone roetine terugkeer.

IS DIT TANDE WAT PLA?

’n Mens moenie jou baba se slaaponderbrekings voor die voet aan tandekry toeskryf nie. Die meeste babas slaap deur tandekry. Baie min babas se tandjies pla hulle so erg dat dit hulle wakker hou – maak dus seker die slaapprobleem lê inderdaad by die tande en nie dalk elders nie. Teen omtrent ses of sewe maande stop babas allerhande dinge in hul mond. Dit laat hul doeke vreeslik lyk en laat hulle baie kwyl; dan dink baie ma’s dis tande. Babas kry nie net in die nag tande nie. As hul tande pla, is hulle bedags ook ongelukkig.

Daar is natuurlik uitsonderings op die reël. Tande wat uitkom, kan jou baba dalk ’n paar dae lank pla, maar dit sal nie sy slaappatroon vreeslik beïnvloed of sy slaaproetine omverwerp nie. In hierdie tyd kan jy maar net ’n gepaste tandejel of -salfie voor slaaptyd aansmeer en verder by jou baba se gewone slaaptydroetine hou.

RASERIGE MEDESPRUITE

Dis omtrent ontmoedigend as jy jou baba pas met groot moeite aan die slaap gekry het en dan maak ouboet se bloedstollende gil al jou goeie werk ongedaan.

’n Mens se instink is om die slaapomgewing so stil moontlik te probeer hou, maar babas word eintlik te midde van geraas groot en die doodse stilte kan hulle soms paniekerig laat voel.

As jy heeltyd vir ouboet ”sjjt” sê, kan dit jou baba amper meer pla. Dit moenie te stil om hom wees nie.

Belê gerus in iets wat witgeraas maak. Witgeraas sluit in die geluid van ’n waaier of lugverkoelingstelsel. Dit help om die groot kontras tussen algehele stilte en ouboet se geraas te verminder en sal help dat die gejil nie so hard klink nie. Dit filtreer die harde knalgeluide effens uit.

Witgeraas moet egter dwarsdeur jou baba se slaaptyd duur en nie in ’n stadium gestaak word nie.

Gaan soek gerus op jou slimfoon – daar is heelparty witgeraas-toepassings wat jy kan aflaai en vir jou baba speel.

SKEIDINGSANGS

Slaapprobleme weens skeidingsangs is algemeen, veral rondom sewe maande oud. Waar ’n mens in die geval van kleuters streng by hul roetine moet hou om te keer dat hulle verkeerde gewoontes as gevolg van skeidingsangs aanleer, werk dit andersom met babas.

In die geval van babas moet jy met slaaptydroetine ekstra tyd inbou om jou baba se emosionele beker vol te maak. Dis meestal net ’n fase wat jou baba se slaap twee tot drie dae op ’n slag deurmekaarkrap en tot omtrent drie jaar oud kom en gaan.  Hou hom in hierdie tyd meer vas, troetel hom en troos as hy huil.

Moet hom egter steeds nie in jou arms aan die slaap maak nie, maar gee hom soos altyd met slaaptyd kans om self aan die slaap te raak.

As hy in die nag huil, gee hom sowat vyf minute kans en kyk of hy nie self weer aan die slaap raak nie.

TE LIEF VIR DIE BOTTEL?

’n Pasgeborene word op aanvraag gevoed, maar by ouer babas kan oorafhanklikheid van die bottel met slaap inmeng.

Hierdie probleem kan na slaaptyd teruggevoer word. Die fondament van jou baba se slaappatroon is slaaptyd. As hy slaaptyd met ’n bottel aan die slaap raak, kan jy nie verwag dat hy in die nag sonder ’n bottel sal gaan slaap nie. ’n Baba leer nie in die nag nie. Hy moet met slaaptyd leer om sonder ’n bottel aan die slaap te raak.

Een plan is om hom sy laaste bottel voor badtyd te gee – so skei jy die verband tussen drink en slaap.

Nog ’n plan is om in die nag eers ’n paar minute te wag voor jy jou baba voed. Dan kan jy hom voed en daarna eers sy doek ruil (al maak jy net die doek oop en toe wanneer doek ruil nie nodig is nie) om die voeding en slaaptyd van mekaar te skei. Die idee is dat hy ’n bietjie wakkerder word sodat hy leer om self, en sonder sy bottel, aan die slaap te raak.

MA IS MY WIEGIE

Wat doen jy as baba net in jou arms of teen pa se bors aan die slaap wil raak? Ook hier is jul slaaptydroetine die sleutel.

Dis dan dat jy jou baba wil leer om self aan die slaap te raak. Jy kan dit stelselmatig doen. As jou kind gewoonlik in jou arms aan die slaap raak, kan jy hom in sy bedjie lê terwyl hy al baie vaak is, maar nog nie vas slaap nie. Tik saggies op sy ruggie en sê ”Sjjj”.

As hy begin huil kan jy hom optel, maar lê hom weer neer voor hy heeltemal slaap. Herhaal dit tot hy self aan die slaap raak. Dit kan ’n rukkie duur en jy sal die eerste aand maklik ’n uur daarvoor opsy moet sit.

Jy kan nie van jou baba verwag om met slaaptyd in jou arms aan die slaap te raak, maar nie in die nag nie. Slaapafrigting gaan ook nie daaroor om jou kind op sy eie te laat huil nie; dit gaan oor die kweek van korrekte, positiewe slaapassosiasies.

AS JULLE MET VAKANSIE GAAN

Jy vrees dalk dat julle seevakansie jou baba se hele slaaproetine gaan omdolwe, maar in sulke omstandighede moet ’n mens om jou eie beswil buigsaam wees.

As julle vir net twee dae weggaan, hoef jy jou nie te veel te bekommer nie. As jy twee dae laat slaplê, gaan jy nie jou baba se hele roetine verander nie.

As julle egter vir twee weke weggaan, moet jy by baba se gewone slaaptyd hou en konsekwent wees, anders gaan jou kind teen dag drie moeilik begin raak.

As jou baba se roetine ná ’n vakansie deurmekaar is, moet jy dit bietjie vir bietjie regstel. Begin met slaaptyd en sy slaaptydroetine en kom terug in jul ritme. Slaaptyd moenie te laat wees nie – hou by omstreeks seweuur.


SLAAPTYD HET GEEN EINDE

As jou baba se slaaptydroetine ’n ewigheid duur, lê dit later soos ’n berg voor jou.

Die ideale slaaptydroetine duur 30 minute. In die geval van kleiner babas duur dit langer omdat voeding deel daarvan uitmaak.

Van ses maande af is ’n roetine van 30 minute egter haalbaar. Dis dan dat jy die laaste voeding voor badtyd al gee. Dan volg bad, doek en nagklere aantrek, boekie lees of sing, ’n bietjie vertroeteling – en dan bed toe.

Wanneer jou baba uit die bad kom, dien die temperatuurverandering as ’n sneller vir die vrystelling van die slaaphormoon melatonien. ’n Halfuur later is dit op sy hoogste en sal dit jou baba help om aan die slaap te raak. Probeer dus om die roetine nie tot langer as 30 minute te rek nie.