Refluks is nie vir sissie nie

akkreditasie
'n Baba met refluks kan 'n nagmerrie wees - die geheim is om betyds 'n diagnose en hulp te kry.

Min mense verstaan regtig wat ’n refluksmamma deurmaak. Hulle kritiseer, oordeel en dink jy is ’n slegte ma wat nie jou kind se probleem kan hanteer nie. Hulle dink dis jou skuld en nie die refluks s’n nie, want hulle ken nie die siekte nie.

Liezel Mills-Cable van Kaapstad verstaan presies waarvan ons praat: Haar dogter, Leila (nou nege), het kwaai reflukssiekte gehad, terwyl haar seuntjie, Luke (19 maande), matige stilrefluks gehad het (blaai om om meer oor dié vorms van refluks te wete te kom).

Liezel vertel hulle het aanvanklik gedink dit is gewone ‘oorkook’ toe Leila melk opbring, maar toe sy nie gewig aansit nie, het die klinieksuster gesê daar is fout.

“Leila is eers as ’n koliekbaba gediagnoseer. Op vier maande het die pediater aanbeveel dat sy na vaste kos oorskakel, maar sy het toe nóg minder gewig aangesit. Sy het daarna begin weier om te eet: Alles het haar keel gebrand en sy wou dus glad nie eet nie.

En as sy wel geëet het, het sy agterna met ’n boog gebraak. Mettertyd het sy as gevolg daarvan tasdefensief begin raak en alles het haar later laat opgooi.

“Op ses maande is sy na die Rooi Kruis-kinderhospitaal verwys en ons het daar geboer. Sy het ’n bariumsluk en teensuurmedikasie gekry, maar sy wou nie gewig aansit nie en het bly projektielbraak. Ons het ander hulpmiddels ook gebruik, maar dit het nie veel gehelp nie want teen daardie tyd het sy reeds alle kos probeer vermy.

Sy kon eers op 18 maande haar kos begin inhou. Teen dié tyd het sy maar ’n skrale 7,2 kg geweeg, al was sy met geboorte ’n groot baba van 3,75 kg.”

Met Luke, vertel Liezel, het hulle baie meer geweet en onmiddellik hulp gesoek by ’n pediater wat in refluks en melkallergieë spesialiseer. Luke is gediagnoseer met stilrefluks en het dit teen ’n jaar ontgroei. “Dit was baie makliker om te hanteer. Ek dink met Leila was dit baie slegter omdat dit so lank geneem het voor ons ’n diagnose gehad het.”

Die refluks het ook op hul gesin ’n geweldige invloed gehad, vertel Liezel. “Die eerste jaar met so ’n kind is baie, baie moeilik. Jy sit in ’n restaurant en ewe skielik gooi jou baba oor die hele tafel op. Dit was vir my en my man moeilik, en ek het regtig nie baie ondersteuning gehad nie. ’n Mens se huwelik en sosiale lewe kry ’n hengse knou. Jy kan nêrens heen gaan nie, want jy is te bang jou baba gaan voor of op mense opgooi.

“Baie mense maak asof refluks niks is nie en sê dit gaan verby. Ja, dit gaan verby, maar as jy in die situasie is en jy probeer jou kind voer en alles kom uit ... En as jou kind weier om te drink, hoe dwing jy hom? Jy is heeltyd bekommerd, want jy probeer 30 ml in jou baba se keel afkry en dit gebeur nie.

Dis later al waarom jou lewe draai: Hoe kry jy jou kind sover om gewig aan te sit? Jy voel geïsoleer. Jy voel of jy nie weet wat jy doen nie, want ander mense se kinders huil nie so nie.

Jy dink ‘ek moet iets verkeerd doen’, al sê jou instink daar moet iets anders verkeerd wees. Ek het gevoel asof ek
geen idee van ma wees het nie. Om uiteindelik uit te vind daar is iets fout, was amper ’n verligting.”

Haar raad aan ma’s van refluksbabas? “Soek ’n steungroep, of iemand wat verstaan wat jy deurmaak. Ook iemand wat soms die baba by jou kan neem en jou ’n bietjie eie ruimte kan gee, want dit oorheers alles.” Sy beveel verder aan dat ma’s aanklop by pediaters wat in refluks spesialiseer.

“As jy nie ’n pediater het wat refluks verstaan nie, is jou paadjie nog swaarder. Baie dokters dink dis net ’n bietjie opgooi en dat jy oorreageer, en dan voel jy nog meer onbekwaam.

As jy ’n dokter vind wat verstaan en sê: Jou kind het stilrefluks en dis hoekom hy heeltyd skree, help dit baie!”

Wat is refluks?

Met refluks is die kleppie tussen die maag en slukderm nog onderontwikkel, wat veroorsaak dat die maaginhoud in die keel opstoot. Dit kan tot in jou baba se mond opstoot sodat hy klein bietjies melk opbring of selfs in ’n boog braak.

Dit begin gewoonlik met geboorte, is die ergste rondom vier maande, en verbeter dan geleidelik tot dit by die meeste babas teen ’n jaar opklaar. Daar is verskillende grade en soorte refluks:

Refluks (gastroësofageale refluks) Tot 70 persent van babas bring in die eerste maande bietjies melk op, maar by die meeste babas pla dit nie en het dit geen invloed op hul voeding of gewig nie.

Stilrefluks Jou baba bring nie melk op nie, maar die maaginhoud stoot in sy keel op en brand die slukderm, wat seer is. Jy kan dus nie sien dat hy refluks het nie, maar hy is moeilik, huil baie, slaap sleg en drink of eet moeilik. Hy kan ook gereeld longinfeksie kry of hoes omdat van die kos in sy lugpyp beland.

Reflukssiekte (gastroësofageale reflukssiekte) As baba se refluks ’n invloed op sy welsyn het, praat dokters van reflukssiekte.

As die suur maaginhoud gereeld in die slukderm opstoot, kan dit sy slukderm brand, wat pyn en infeksie kan veroorsaak. Dit kan mettertyd ernstige skade aan die slukderm aanrig en veroorsaak dat babas weier om te eet, swak groei, sleg slaap en borsinfeksies kry.

Behandeling

Jou pediater se eerste stap sal waarskynlik wees om sy diagnose van refluks te bevestig.

Dit kan behels ’n bariumsluk, waar x-strale geneem word terwyl jou baba ’n spesiale vloeistof drink; ’n melkskandering, as vermoed word dat die melk in jou baba se longe beland; ’n pHstudie, wat die suurgraad en graad van refluks help bepaal; ’n impedansstudie, wat meer inligting as die pH-studie gee; of ’n gastroskopie, waar ’n kamerabuis in baba se keel afgevoer word om na die slukderm en maag te kyk.

Elke metode bevestig ’n ander aspek van reflukssiekte, dus kan jou dokter ’n kombinasie van hierdie metodes gebruik. Behandeling sal afhang van die graad van refluks. Die eerste stap is leefstylaanpassings, soos om jou baba regop te hou ná ’n voeding en sy bed-kopstuk te lig.

Die volgende stap is die gebruik van melkverdikkers soos Nestargel of Thick & Easy, wat by die bors- of formulemelk gevoeg kan word. Jy kan ook verdikte formulemelk soos Infacare AR of Novolac AR gebruik. Dit sal help dat jou baba minder gereeld melk opbring.

Die pediater kan ’n teensuurmiddel soos Gaviscon voorskryf, wat ’n lagie bo-op die maaginhoud vorm en help keer dat dit in die keel opstoot. Party pediaters sal prokinetiese medikasie voorskryf wat die maag help om vinniger te ledig, soos Motilium, sodat daar nie so baie kos in die maag is wat dalk kan opstoot nie. Daar is egter newe-effekte.

Vir reflukssiekte word protonpomponderdrukkers soos Losec of Nexium voorgeskryf. Dit onderdruk suurproduksie in die maag.

’n Operasie, die Nissen-prosedure, waar die boonste deel van die maag om die onderste deel van die slukderm gevou word, word slegs vir ’n klein persentasie kinders met reflukssiekte oorweeg en is ’n laaste uitweg.

Tuisraad

  • Beproef kleiner voedings meer gereeld deur die dag en hou baba regop as hy voed.
  • Vryf sy winde elke twee tot drie minute gedurende die voeding uit met ferm opwaartse vryfbewegings.
  • Hou baba sowat 30 minute ná die voeding regop (jy kan hom in ’n babasak saamdra).
  • Lig die bokant van sy bed sowat 30 grade sodat hy met sy kop hoër as sy voete slaap. Moenie baba op ’n kussing laat slaap nie!
  • Maak seker sy doek sit nie styf om sy magie nie. Vermy styfpassende klere wat teen die magie druk.
  • Maak jou baba half aan die slaap voor jy hom voed – dit werk veral goed vir babas wat nie wil drink nie.
  • Probeer wit geraas om baba beter te help slaap.
  • Maak seker jy het ’n goeie voorraad spoegdoeke (een in elke vertrek) en as jy baba voed, gooi ’n handdoek onder hom oop sodat hy daarop kan opbring. Dit help met die skoonmaakslag.
  • Sommige ma’s het gevind ’n fopspeen help met refluksbeheer.
  • Die webtuiste www.babycalm.co.za is ‘n wonderlike bron van inligting rakende refluks.

Die simptome

Daar is nie ’n eenvoudige manier om refluks te diagnoseer nie, veral nie stilrefluks nie. Die volgende simptome kan jou twee keer laat dink:

  • Jou baba is besonder prikkelbaar en huil baie, dikwels tydens of ná ’n voeding.
  • Jou baba bring gereeld bietjies melk op, gooi groter volumes melk op of gooi op met ’n boog (tensy hy stilrefluks het).
  • Jou baba sukkel om lang tye aanmekaar te slaap.
  • Hy is ongemaklik wanneer jy hom voed en kan sy ruggie agtertoe kromtrek.
  • Dit lyk of klink of hy pyn ervaar tydens of ná voedings. Hy trek sy beentjies op of skree skielik sonder ooglopende rede.
  • Jou baba wil heeltyd rondgedra word en verkies ’n regop posisie bo plat lê.
  • Sy asempie ruik suur.
  • Hy is baie vatbaar vir oor-, keel-,of longinfeksie.
  • Hy weier voedings al is hy honger, of hy wil heeltyd voed.

*NB

Baie van hierdie simptome kan ook deur ander toestande veroorsaak word (soos projektielbraking wat kan dui op piloriese stenose, ’n potensieel lewensbedreigende toestand). Moet dus nie self probeer diagnoseer en behandel nie, maar neem jou baba pediater toe.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees