As ma is jy geprogrammeer om fisiek te reageer op jou baba se gehuil. Jy sal vind dat jou bloeddruk styg, jou melk inkom en jou hart vinniger klop wanneer jou baba in trane uitbars.

Nuwe ouers is dikwels taamlik onvoorbereid op hoe baie babas huil en die gevoel wat dit by hulle wakker maak. Dit sal jou dalk verbaas om te weet dat jong babas (onder vier maande) gemiddeld elke dag vir tot drie uur lank huil!

In die stresvolle oomblikke wanneer jy jou huilende baba moet hanteer, het jy ’n eenvoudige driestap-plan nodig om die trane te tem.

Stap #1

Probeer met ’n proses van uitskakeling uitpluis wat jou baba ontstel. Stel vas of baba:

  • Honger is
  • ’n Wind het
  • Ongemaklik is
  • ’n Nat doek het
  • Ongemaklike klere dra
  • Te warm of te koud is
  • Siek is
  • Koors het
  • Pyn het

As jy al hierdie ooglopende oorsake uitgeskakel het en jou baba is steeds nie gelukkig nie, is dit tyd om stap 2 in werking te stel.

Stap #2

Beproef strelende sensoriese strategieë

Sensoriese bewustheid

Wees ingestel op jou baba se sensoriese wêreld en sy sensoriese lading. Wanneer hy knieserig begin word, is dit tyd om aandag te skenk aan die reuke wat hom omgewe en die dinge wat hy kan sien. Lê hy al langer as 10 minute onder sy bewertjie? Onthou, hy kan nie ontsnap nie en 10 minute kan genoeg stimulasie vir hom wees.

Moenie oorweldigende parfuum of naskeermiddel in die vroeë dae dra nie. Onthou ook babas is sensitief vir baie harde en skielike geluide.

Wees bedag op jou baba se wêreld sodat hy nie aan te veel stimulasie blootgestel word nie. Namate die jaar vorder, sal jou baba meer stimulasie kan hanteer.

Dis maklik om te dink dat meer stimulasie beter is. As jou baba egter die volgende tekens toon, het hy genoeg gehad en moet jy hom of die oorsaak van die stimulasie verwyder:

  • Hy vryf sy oë.
  • Hy suig sy hande.
  • Hy trek aan sy ore.
  • Hy kyk weg.

As jy wil keer dat jou ouer peuter hom swak begin gedra, hou die sosiale situasies waaraan jy hom blootstel goed dop. Dis vir peuters ’n tawwe taak om met mekaar te sosialiseer omdat hulle as groep bra onvoorspelbaar is. Hulle val op mekaar, raak aan mekaar met taai hande en sal sommer sonder rede byt of klap.

’n Goeie reël is om die tydsduur van sosiale uitstappies, soos partytjies, te beperk tot een uur per jaar van lewe. ’n Eenjarige sal net ’n uur of wat kan hanteer, en ’n driejarige sowat drie uur. Maak seker jou peuter is goed uitgerus voor verjaardagpartytjies en hou jou eie partytjies klein en beheerbaar.

Slaaptyd

’n Baba van enige ouderdom wat oormoeg is, sal knieserig word. Wees bedag op jou baba se wakker tye om koliek, ’n gehuil en ’n chaos te vermy.

’n Baba onder drie maande kan net vir kort rukkies wakker wees: 40 minute op ’n slag in die eerste paar weke, en dan tot so 90 minute op ’n slag teen drie maande oud. Vanaf drie maande sal jou baba ’n dagslaaproetine van sy eie begin ontwikkel.

Moedig die roetine aan, want dit sal trane en oorstimulasie keer. Peuters behoort steeds bedags te slaap. Maak seker jou peuter kry ’n goeie middagslapie in om ’n chaos te voorkom.

Selfkalmering

Met geboorte is die meeste babas se selfkalmeringstrategieë grootliks onderontwikkel. Een van hul eerste take in die eerste drie maande is om te leer hoe om hulself tot bedaring te bring. Hoe lyk ’n self-kalmeringstrategie?

  • Hande gaan mond toe
  • Baba kyk weg
  • Baba kyk na ma
  • Baba gryp na ’n troosvoorwerp
  • Baba suig fopspeen of hand
  • Handjies word na die middellyn gebring

Wat kan jy doen? Gee jou baba genoeg ruimte om selfkalmeringstrategieë te ontwikkel deur nie dadelik die fopspeen of bors in sy mond te druk net om hom stil te kry nie. As jou baba egter so erg huil dat hy hom nie meer self kan kalmeer nie, veral as hy pasgebore is, sal jy hom moet help om aan iets te suig, want suig is ’n wonderlike strategie vir kalmering.

Maak seker jy herken selfkalmering sodat jy nie dink jou drie maande oue baba kry tande wanneer hy aan sy handjies suig nie. Heel waarskynlik probeer hy hom self kalmeer sodat hy al die stimulasie om hom kan hanteer.

Leer jou baba hoe om hom self tot bedaring te bring deur hom styf toe te wikkel met sy handjies naby sy gesig, of hou sy handjies vir hom naby sy gesig.

Strelende aanraking

Dit werk goed om jou pasgebore baba styf toe te wikkel, of om diepdruk op ’n ouer baba toe te pas. Ons weet almal hoe goed en kalmerend ’n drukkie voel en hoe ontspanne ons ná ’n diep massering is. Daardie soort diep aanraking is wat babas nodig het.

Stywe toewikkeling is een van die beste maniere om die strelende diepdrukking van die stywe baarmoederwand na te boots en jou nuwe baba kalm te hou.

Namate jou baba ouer word, sal hy dalk nie meer daarvan hou om so styf toegedraai te wees nie, en sal hy dalk sy arms loswikkel. Met slaaptyd kan jy egter steeds sy arms toedraai. Massering is ook wonderlik in hierdie tyd, want jou baba sal stil lê en sommer baie voordeel uit jou aanraking trek.

Vir peuters, kleuters en selfs tieners werk niks so goed soos ’n stywe drukkie van ma nie. Wanneer jou peuter lyk of hy wil ontplof, slaan jou arms om sy lyf en gee hom ’n hartlike drukkie voor die slegte gedrag inskop.

Strelende klanke

Klanke is ’n uitstekende manier om ’n knieserige baba en peuter te kalmeer. ’n Nuwe baba reageer wonderlik op die bekende geluide van die baarmoeder.

Witgeraas, soos die binnebaarmoedergeluide, vermom die lawaai van die res van die wêreld en kalmeer dus ’n moeilike baba. In onlangse navorsing is gewys dat ’n baba se gehuil met tot 30 persent verkort kan word deur witgeraas te speel teen dieselfde volume as die baba se gehuil.

Ouer babas en peuters geniet weer die klank van jou stem en wiegeliedjies werk dus wonderlik. CD’s met kinderstemme wat sing, help ook.

Wees self rustig

Soms wanneer ons paniekerig probeer om ’n huilende baba te kalmeer, pak ons te veel oplossings gelyktydig aan. Al die prikkels saam maak dinge dan net erger, want baba is klaar te veel gestimuleer.

Jy raak ook die kluts kwyt en aan die einde van die dag weet jy nie meer wat gewerk het en wat nie. Wees rustig en beproef eers een strategie minstens vyf minute lank voor jy na die volgende een aanbeweeg.

Stap #3

Pas jou mooi op. Dis veeleisend om te sorg vir ’n koliekerige pasgeborene, huilerige baba of wilde peuter. As jy voel jy kan nie meer nie, of dat jy nie meer die gehuil kan verduur nie, is dit uiters belangrik dat jy ondersteuning soek.

Die twee groot risiko’s van uitbrand is dat jy postnatale depressie opdoen, of jou baba skud. Albei is ernstig en kan jou baba op lang termyn skade berokken.

As jy die gehuil nie meer kan verduur nie en geen strategie wil werk nie: Sit jou baba veilig in sy kamer neer vir ’n kort rukkie terwyl jy diep asemhaal en jou emosies onder beheer kry.

Vra jou ma, man of oppasser om ’n paar uur elke week te help sodat jy kan uitgaan. Maak seker jy slaap wanneer jou baba slaap, want slaapgebrek dra by tot jou gevoel van wanhoop.