VRAAG:

Ek het drie kinders van een, drie en vyf jaar oud. Ek lees altyd roetine is belangrik en dat dit veral ouderdomstoepaslik moet wees. Hoekom is dit belangrik?

ANTWOORD:

Roetine beteken nie dat jy jou of jou kind van pret en plesier ontneem nie. Roetines is aktiwiteite wat op omtrent dieselfde tyd en op omtrent die dieselfde manier geskied. Daar is baie voordele aan roetine, struktuur en gewoontes. Dit versterk die ouer-kind-band en verminder die gevaar van ’n magstryd, dit laat kinders veilig voel omdat hulle weet wat om te verwag, dit lei tot positiewe en verantwoordelike gedrag en dit ontwikkel sosiale vaardighede. ’n Gewoonte moet ingeoefen word om vasgelê te word. Daarom moet ouers maaltye en spesiale gesinstye deel van hul daaglikse en weeklikse roetine maak. ’n Vasgestelde roetine wat so konsekwent as moontlik nagestreef word, is baie belangrik. Die voorspelbaarheid is as’t ware die brug tussen die verskillende aktiwiteite en verminder so uitdagende gedrag. Soms kan ouerskap en al die eise wat daarmee gepaardgaan ons heeltemal oorweldig laat voel. Dit is veral dan dat ek aanbeveel dat ouers na hul eie gewoontes en roetines kyk. Maak seker jy skeduleer tyd vir jou ook – al is dit ’n weeklikse koffieklets saam met ’n vriendin, ’n dansklas een keer per week of ’n aandjie uit saam met jou maat. 

Raakgekoop

Gooi vuil babadoeke in Cherubs se liggegeurde Nappy Sacks weg. R24,99 vir ’n pak van 50.