Jou baba se skedel bestaan nie uit een been nie, maar uit ’n aantal plate of plat stukke been wat aan mekaar vasgehou word deur veselagtige weefsel wat beennate genoem word. Die nate is buigsamer as ’n soliede stuk been en laat die skedelplate toe om styf teen mekaar te druk tydens ’n vaginale geboorte terwyl die kop (die baba se grootste liggaamsdeel) deur die geboortekanaal beweeg.

Dit laat ook plek toe sodat jou baba se brein kan groei, wat dit op dramatiese wyse in die eerste lewensjaar doen. In die eerste twee jaar word die fontanelle en beennate mettertyd kleiner, harder en beenagtiger.

Die fontanelle is die sagte plekkies tussen die plate op jou baba kop. As jy na sy koppie kyk, sal jy ’n diamantvormige plekkie bo-op sien. Dis die voorste fontanel. Dié sagte plekkie word met veselagtige weefsel bedek. Jy sal kan sien dat dit effens klop teen die ritme van jou baba se hartslag.

Ouers is dikwels bekommerd daaroor, maar dit is heeltemal normaal. Teen die tyd dat jou baba 15 tot 18 maande oud is, sal die skedelplate toegegroei en die voorste fontanel nie meer sigbaar wees nie.

Die agterste fontanel is ’n klein driehoekige sagte plekkie agterop jou baba se kop. Dit is heelwat kleiner as die voorste een en jy sal dit dalk nie eens raaksien nie.

Hou die breintjie veilig

Vir ouers met ’n eerste baba lyk die “sagte plekkies” skrikwekkend! Die brein is egter goed beskerm deur ’n dik laag veselagtige weefsel wat dit bedek. Dié membraan is sterk genoeg om jou baba se brein te beskerm teen gewone babasorg soos hare was, hare borsel en streling van die kop.

Normale sorg is veilig, sê suster Sue Cohen, ’n voor- en nageboorteopvoeder. “Wees egter bekommerd oor ’n stamp teen die kop, maar dit gebeur selde tensy jou baba val. Wees dus maar versigtig as daar ’n peuter in die huis is en voorkom ongelukke deur hom nooit sonder toesig by jou baba te laat nie.”

Motorongelukke is ’n groot oorsaak van ernstige kop- en rugbeserings by jong kinders. Die belangrikste voorkomende maatreël om jou baba of kind se brein te beskerm, is om te sorg dat hy altyd in sy karstoeltjie vasgemaak is. Kies ’n stoel geskik vir sy gewig en maak seker dit is behoorlik geïnstalleer.

Beskerm jou baba se brein verder deur jou huis valbestand te maak met traphekkies, bedrelings en ’n veilige kot.

Groeiende skedel

Teen die tyd dat jou baba die hardloop-en-tuimel-stadium bereik, is die beenvormingsproses goed aan die gang en sou die fontanelle al toegegroei het.

Die skedel kan die brein baie goed beskerm, maar enige stamp teen die kop moet in ’n ernstige lig beskou word. Dis gewoonlik oppervlakkige beserings, maar kan skrikwekkend vir ’n ouer wees omdat die kopvel baie bloedvate bevat en kwaai kan bloei. Vloeistof onder die vel kan ’n knop veroorsaak wat ’n week of twee kan bly.

As jou peuter normaal lyk ná ’n val of stamp teen die kop, is niks waarskynlik verkeerd nie, maar wees op die uitkyk vir harsingskudding. Dit sluit in ongewone oogbewegings, pupille van verskillende groottes, veranderde spraak of sig, aanhoudende braking en ongewone slaperigheid.

Gesonde koppie

Jou baba se dokter sal die fontanelle ná die geboorte bevoel om te kyk of dit normaal is. Met die eerste ondersoek op ses tot agt weke word die kop gemeet om seker te maak die fontanelle groei nie te gou toe nie, sê Sue.

Die kop se omtrek word met elke ondersoek gemeet om te bepaal of die skedel normaal groei. Die grootte en drukking van die fontanelle is ’n aanduiding van jou baba se gesondheid en ontwikkeling.

Omdat die beenplate en beennate gerangskik is om beweging toe te laat, het pasgebore babas se kop soms ’n snaakse vorm weens drukking wat uitgeoefen word terwyl die kop deur die geboortekanaal beweeg. Jy hoef meestal nie daaroor bekommerd te wees nie, maar praat gerus met jou dokter as dit jou pla. Jou baba se kop sal binne ’n paar weke normaal word en ronder en meer simmetries begin lyk.

Omdat hulle nie deur die geboortekanaal gedruk word nie, word keisersneebabas met ronder, egaliger koppe gebore. ’n Normale, gesonde fontanel sal met aanraking ferm voel. Dit sal effentjies induik, maar nie insink of uitbult nie.

’n Ingesinkte fontanel is ’n aanduiding van kwaai ontwatering wat vir babas baie ernstig is en selfs tot hul dood kan lei. Dit het onmiddellike mediese aandag nodig. ’n Bultende fontanel is ’n aanduiding van drukking onder die skedel. In dié geval moet die baba ook dringend na ’n dokter geneem word.

Probleme met babas se skedel is egter ongewoon. Soms ly babas aan kraniostenose, waar een of meer fontanelle te vroeg toegroei. Dit kan die kop misvorm laat en selfs breinskade veroorsaak. As die beennate weer later as normaal toegroei, kan dit op verskillende toestande dui, onder meer die skildklierafwyking hipotiroïdisme.