Gevallestudie een

Jack was nege maande oud en altyd ’n goeie slaper. Al het hy nooit heeltemal deur die nag geslaap nie, het hy snags net twee keer wakker geskrik: 1 vm. en 4 vm. Bedags het hy goeie eetgewoontes en ’n goeie slaaproetine gehad. Saans teen 7 nm. het hy vanself aan die slaap geraak, wat sy ma gerusgestel het dat Jack ál die eienskappe van ’n goeie slaper het. Binne twee weke het sy slaaproetine egter so agteruitgegaan dat hy elke paar uur wakker geskrik het. Sodra sy ma by sy kamer ingekom het, het hy rustig geword en weer aan die slaap geraak – mits sy by hom bly.

Wat het gebeur? 

Jack se nuwe slaapgewoontes is ’n voorbeeld van hoe klassieke skeidingsangs ’n baba se slaap versteur. Baie babas ontwikkel tussen agt en 10 maande oud skeidingsangs. 

Voor dan verstaan hulle nie die begrip van skeiding nie en as iets uit hul gesigveld verdwyn, vergeet hulle eenvoudig daarvan. Soms huil hulle ’n rukkie wanneer jy saans by hul kamer uitgaan, maar word dan rustig omdat hulle nie weet hulle mis jou nie.

Teen nege maande oud lyk sake anders.  Jou baba begin nou ’n sin vir voorwerppermanensie ontwikkel. Voorwerppermanensie help hom verstaan dat selfs al verlaat jy die kamer, bestaan jy steeds, al is jy nie by hom nie.  In hierdie tyd word jou kleinding vrees­lik onseker as hy van jou af weg is of jy hom vir iemand anders aangee, veral as dit ’n vreemdeling is. 

As hy nou wakker skrik, kom hy agter dat hy alleen is en jy nie daar is nie. Dan maak hy soos Jack: Hy ”roep” jou deur te huil om seker te maak jy sal terugkom.

Dit kan tot baie aande van onderbroke slaap lei. 
Om te keer dat dit ’n probleem word, moet jy jou baba help om skeidingsangs beter te hanteer sodat hy vei­lig voel omdat hy weet hy gaan jou weer sien.

1. Sê altyd tot siens wanneer jy jou baba los. Moet nooit toegee aan die versoeking om uit die kamer te sluip in die hoop dat hy dit nie agterkom nie. As jy dit doen, sal hy altyd onveilig voel en wonder wanneer hy hom weer sonder jou gaan bevind. Deur te groet voor jy loop, leer jy hom dat jy konsekwent en voorspelbaar is.

2. Maak julle weersiens altyd plesierig. Gee ’n liefiedrukkie en vertroetel hom elke keer wanneer jy terugkom.

3. ’n Goeie plan is om ’n paar “kamma-­koebaais” te oefen. Sê vrolik tot siens en verlaat die kamer aanvanklik net vir omtrent vyf minute. Doen dit gereeld sodat hy weet dat jul skeiding altyd deur weersiens gevolg word. 

Julle kan ook ander speletjies speel om hom te help verstaan dat voorwerpe steeds bestaan, al kan hy dit nie sien nie. 

  • Wegkruipertjie Laat hy sien hoe jy agter die sitkamerbank weg­kruip. Roep hom terwyl jy onsigbaar is. As hy al kan kruip, sal hy agternakom en uitvind dat jy steeds daar is, al kan hy jou nie sien nie. As hy nog nie kan kruip nie, kan jy ná ’n ruk jou kop weer agter die bank uitsteek dat hy jou kan sien. 
  • Kiekeboe Steek sy fopspeen onder sy kombersie weg en vra dan: “Waar’s jou foppie?” Lig die eerste paar keer die kombersie self op en wys hom waar dit is. Binnekort sal hy verstaan dat sy fopspeen nog steeds daar is, al is dit onder die kombers weggesteek.

Dis ook ’n goeie plan om jou baba ’n troosvoorwerp soos ’n vroetellappie te gee wanneer hy jou roep. Die doelwit is om jou baba te leer om geheg te raak aan ’n “doedoe-kombersie” sodat hy wanneer hy snags wakker skrik, dit kan gebruik om hom te troos pleks daarvan om ma en pa te roep. Met dié oefeninge sal jou baba voorwerppermanensie sommer binne ’n paar weke onder die knie kry.

Gevallestudie twee

Toe Karel sowat 18 maande oud was, moes ma Maria terugkeer werk toe. Haar hart wou breek elke keer wanneer sy hom by die huis agterlaat. Hy was heel gelukkig by sy oppasser en het gehou by die goeie roetine wat hulle saam-saam gevestig het. Hy was nog nooit ’n goeie slaper nie, maar ná Maria se terugkeer werk toe het dinge heeltemal ontspoor. Karel het bedags steeds van 12 tot 2 nm. geslaap en met sy aptyt het niks geskort nie. Die probleem was egter dat hy nou eers 10 nm. gaan slaap het en dat sy ma saans baie gesukkel het om hom rustig genoeg te kry dat hy kon slaap.

Wat het gebeur? 

Maria het saans eers 6 nm. van die werk af gekom. Sy het skuldig gevoel omdat sy Karel heeldag lank nie gesien het nie en sou tot omtrent 7:30 nm. met hom speel en weer nadat sy hom gebad het. Dit het beteken dat sy eers teen 8:30 begin het om hom in die bed te kry. 

Dit was heeltemal te laat vir hom. Hy moes op die laatste teen 6:45 nm in die bed wees omdat hy dan vanself moeg was. 

As jy jou kleinding te laat wakker hou, kry hy ’n tweede asem en bly hy nóg langer wakker. Senu-oodragstowwe word in sy brein vrygestel wat hom wakker hou. Pleks daarvan dat hy wakker en tevrede is, raak hy bedrywig en gestimuleerd. Om dan ’n besige, deurmekaar kleuter aan die slaap te kry, is ’n stryd.

Die wortel van die pro­bleem was Maria se onvermoë om weg van Karel te wees. Dit is heeltemal te verstane dat dit vir ’n werkende ma moeilik is om haar kind bedags nie te sien nie, maar ’n mens moet dit leer hanteer voor jy jou baba se slaap­patroon versteur.

Jy kan die terug-werk-toe-bloute met’n paar slim strategieë keer.

1. Skakel jou selfoon en alle ander kommunikasiemiddels af wanneer jy saans huis toe kom en gaan sit op die vloer saam met jou kleinding en een of twee stukkies speelgoed. Speel met hom teen die pas wat hy aangee; laat jou deur hom lei. Deur so gehaltetyd saam deur te bring, kan jy die bande ná ’n dag se afwesigheid weer hervat en jul albei se emosionele behoef­tes bevredig. 

2. Skuif badtyd terug na 6:30 nm.en gebruik dit as jul kalm, ontspanne speel­tyd. Moenie jou baba ná badtyd uit die kamer neem nie. Sit eerder rustig op die vloer en lees saam ’n boek. Jou baba sal gek daaroor wees om jou onverdeelde aandag te hê en sal ook voor slaaptyd kalmer wees. Jy is dalk bekommerd oor hoe min tyd jy saam met jou baba deurbring as hy so vroeg gaan slaap, maar hou in gedagte dat julle die volgende oggend nog baie konstruktiewe tyd saam kan geniet nadat hy wakker geword het.

5 stappe na lekker slaap

Dit kan ’n uitdaging wees om nagtelik slaapprobleme te hanteer wat uit skeidingsangs spruit.’n Belangrike beginsel is dat jy jou kind moet leer om hom selfte vertroos. Volg gerus hierdie vyf stappe:

  1. Luister eers ’n paar minute na jou huilende baba om te hoor of hy hom dalk self tot bedaring sal kan bring.
  2. As hy onrustig bly, kan jy na sykamer toe gaan en hom met jou stem probeer kalmeer; dit verseker hom dat jy daar is en lief is vir hom.
  3. Gee hom dan ’n doedoe-komber­sie. Moenie in ’n roetine verval waar jy hom wieg en aan hom vat of hom streel tot hy aan die slaap raak nie. Dit sal slegte langtermyngewoontes laat ontwikkel.
  4. Gaan uit sy kamer sodra hy rustig is.
  5. As hy weer begin huil, moet jy weer by stap 1 begin. Wees konsekwent, liefdevol en beskikbaar. Dit sal binne ’n paar weke oorwaai. 

Meer oor Meg Faure

Meg Faure is ’n arbeidsterapeut, spreker, skrywer, entrepreneur en ouerskapskenner bekend vir die handelsmerke Baby Sense en Play Sense. Gaan gerus na megfaure.com om meer oor haar uit te vind en oor wat sy alles aan Suid-Afrikaanse ouers bied. Hoofstuk 8 van haar boek Slaap, baba slaap bevat meer gedetailleerde inligting oor skeidingsangs.

megfaure.com