Die brein is allermins afgeskakel wanneer jou baba slaap. Hierdie ure van rus is wanneer daar fluks geliasseer word aan die hele vorige wakker tyd se gebeure en ervaringe.

En onthou, vir ’n baba is die wêreld volkome nuut en stimulerend, en soms oorweldigend. Daar is baie vir so ’n klein mensie om te verwerk.

Tydens slaap word verskeie hormone soos groeihormone, testosteroon, melatonien en prolaktien, asook serotonien afgeskei. Die funksies wat al hierdie stowwe in die liggaam verrig, help jou kind se liggaam om te groei en ontwikkel.

Dit ondersteun geheue, metabolisme en ’n stabiele gemoed.

Navorsing wys die bloedvloei na ’n baba se brein verdubbel in die aktiewe slaapstadium. Self die hare, naels en vel groei en herstel tydens slaap. Alles van jou baba se spiere tot sy skelet ontwikkel terwyl hy slaap.

Dit is dus baie belangrik dat hy so min moontlik slaapprobleme het. Slaap is goed vir jou baba en noodsaaklik vir sy optimale ontwikkeling.

Hoekom 'sukkel' babas om te slaap?

Die brein het slaap-en-wakker-patrone, en daar is twee hoof-slaapfases waarvan jy dalk al gehoor het: REM-slaap en nie-REM-slaap. REM staan vir rapid eye movement en dié slaapfase word gekenmerk deur vinnige, rukkerige oogbewegings, verlies van spiertonus, vlakker asemhaling en helder, duidelike drome.

Pasgeborenes en babas tot so vier maande oud bring meer tyd deur in REM-slaap as in diep slaap. ’n Slaapsiklus se duur is ook vir ’n baba korter as vir ’n volwassene, en dis eers teen ses tot agt maande dat die siklus meer soos ’n volwassene s’n begin lyk.

Dis hoekom jý na ’n onderbroke nag vodde voel, maar jou baba op en wakker is.

’n Pasgeborene sal 16 tot 20 uur uit 24 slaap. Dit klink dalk soos ’n droom, maar onthou, die slaap gaan baie onderbroke wees, want dis heeltemal normaal dat ’n pasgeborene elke twee tot drie uur wil drink. Teen ses maande slaap babas gewoonlik 10 tot 12 uur per nag, en bedags tot twee uur.

Dis belangrik dat jy besef dat jou baba se slaap-wakker-siklus verband hou met die res van haar daaglikse ritmes van voeding, hormoonvrystelling en liggaamstemperatuur: alles dinge wat jy kan inspan om haar geleidelik sover te kry om “beter” te slaap. En met “beter” bedoel ons meer soos ’n volwassene, dus beter vir jou.

Hoeveel behoort 'n baba te slaap?

’n Nuwe baba kan in haar eerste jaar veroorsaak dat haar ouers tussen 400 en 750 uur slaap verloor. Dit klink verskriklik, en voel ook soms so, maar troos jou daaraan dat ’n mens in ’n mate daaraan gewoond raak.

Die doekvervaardiger Pampers het ’n reuse-opname onder ma’s gedoen en die uitslag bevestig wat nuwe ma’s gou leer. Sowat 40 persent van ma’s het gesê hul baba is twee keer of meer per nag wakker.

En 67 persent van ma’s pas minder as ses uur ononderbroke slaap per nag in. Net 7 persent slaap meer as agt uur per nag. Elke baba verskil egter en is ’n unieke mens. Die riglyne hieronder is dus net op gemiddeldes gegrond. Moenie angstig voel as jou baba nie presies volgens die voorspelling slaap nie.

Pasgeborenes slaap tot 20 uit 24 uur, maar word gereeld wakker om te voed. Hul magie is klein, hul voedingsbehoefte groot, en melk verteer vinnig.

Vanaf omtrent vier weke, en met die regte hulp van jou, sal jou baba begin om snags meer te slaap en bedags minder, hoewel haar totale slaaptyd steeds sowat 15 uur is.

Jou baba sal byvoorbeeld op drie maande bedags vyf uur slaap en snags 10 (met onderbrekings om te voed). Tipies sal jou baba soggens ’n uurtjie slaap en smiddags langer. Ander knip weer drie uiltjies wat almal ewe lank is.

Teen ses maande slaap jou baba snags tot 11 uur lank, met twee tot drie dagslapies van altesaam byna vier uur. ’n Voorspelbare roetine is beslis nou moontlik.

Elf uur per nag is tot op die ouderdom van drie jaar heeltemal in orde, maar dagslapies sal ál minder word en soms wegval.

Hoekom word 'n baba wakker?

Baba is eensaam

Jou nuwe baba voel dalk alleen en onrustig in haar eie bedjie. Oorweeg dit gerus om haar by julle te laat slaap as dit julle almal sal help om beter te slaap. As dít nie vir jou ’n opsie is nie, kan jy probeer om haar lekker styf toe te draai en in ’n knus wiegie te laat slaap eerder as in ’n groot, oop kot. Veral pasgeborenes hou daarvan om styf toegedraai te word.

Baba het skeidingsangs

Dis ’n tipiese stadium by ouer babas van sewe of agt maande en jy moet jou baba met liefde en geduld leer dat jy wel daar is, al is jy nie sigbaar nie. Wees ekstra gerusstellend in hierdie fase.

Baba is honger

Babas het klein magies, en melk verteer gou. Maar vanaf ses maande, of selfs vroeër as jou baba groot is, is dit nie meer nodig om snags te voed nie. Vermy dat dit ’n gewoonte word.

Baba is ongemaklik

weens ’n nat of vuil doek. Maak seker jy gebruik die regte grootte doek. Ruil dit net voor slaaptyd en sorg dat die rekkies aan die kante na buite uitgetrek is. Gebruik ’n doek van goeie gehalte.

Baba kry tande of is siek

Tande pla gewoonlik vanaf ses maande. Wees ekstra geduldig en liefdevol, maar probeer hou by jul roetine, en doen wat jy kan om verligting te gee. 

Baba beleef 'n tyd van versnelde groei of ontwikkeling

Hou by jul roetine – dit sal jou baba veilig laat voel.

Hoe kan jy help?

Daar is nie kitsoplossings vir slaapprobleme nie, maar wel riglyne wat die toets van die tyd deurstaan het. “As jy bedags ’n sensitiewe en verstandige aanslag het en saans ’n paar maklike strategieë inspan (kyk regs), behoort slaapkwessies oorkombaar te wees,” sê die bekende vroedvrou en skrywer suster Lilian.

Hou baba se wakker tye dop

Die Johannesburgse pediater dr. Mudammad-Ashraf Suleman Ahmed (self ’n pa van vyf), sê ’n groot fout wat ma’s maak is om hul baba bedags te probeer wakker hou met die hoop dat hulle snags beter sal slaap. Dit werk nie. Slaapontneming tas jou baba aan en lei tot nog meer rustelose nagte.

Volgens Ann Richardson en Meg Faure, skrywers van Koester jou baba, lyk die dag se wakker tye min of meer so; daarna tree oormoegheid in:

  • 0 tot 6 weke: 40 tot 60 minute
  • 6 tot 12 weke: 60 tot 80 minute
  • 3 tot 6 maande: 1½ uur
  • 6 tot 9 maande: 2 uur
  • 9 tot 12 maande: 2½ uur
  • 1 tot 2 jaar: 3 tot 3½ uur
  • 2 tot 3 jaar: 4 tot 5 uur

Tussen een en twee jaar val oggendslapies gewoonlik weg. Die meeste kinders het tot drie jaar nog ’n middagslapie nodig. Hou dit ’n daaglikse instelling – dis goed vir jou kleuter.