Met geboorte het jou baba se brein al byna al die senuselle wat dit ooit sal hê – biljoene. Wat egter nog grotendeels ontbreek, is die verbindings of “paadjies” tussen hierdie breinselle. Jou baba het hierdie paadjies nodig om al die inligting wat hy van sy sintuie ontvang, te interpreteer en daarop te reageer.

Net die laer dele van die brein (die breinstam en rugmurg) is met geboorte al goed ontwikkel. Dis die dele wat verantwoordelik is vir jou baba se basiese lewensfunksies en primitiewe re¬ekse soos asemhaling, hartklop en sluk.

Jou pasgeborene kan nog nie sy bewegings willekeurig beheer of vreeslik dink nie, maar hy leer elke dag. Mettertyd sal die inligting wat van sy sintuie kom, stap vir stap meer verbindings tussen sy breinselle help vorm.

In die proses ontwikkel die hoër dele van sy brein wat met geboorte nog onvolwasse is, verder sodat hy ál beter op sy omgewing kan reageer.

Vroeë mylpale

Al is sy breintjie nog onderontwikkel, is daar heelwat dinge wat jou pasgeborene al kan doen: Hy kan binne ’n paar uur ná geboorte sy ma se gesig herken asook die klank van haar stem, en binne ’n paar dae sy ouers se reuke onderskei. Hy verkies gesigte bo ander voorwerpe en kan onderskei tussen verskillende gesigsuitdrukkings soos hartseer of gelukkig.

Teen ’n week oud kan jou baba al vir ’n rukkie fokus op een ding uit al die verskillende klanke en beelde in sy direkte omgewing. Op sowat ’n maand sal hy gefassineer na voorwerpe naby hom staar.

Hy kan ook ’n voorwerp wat weggeneem en ná ’n paar sekondes teruggebring word, onthou. Ná twee maande sal hy sy visie goed genoeg kan beheer om met belangstelling na ’n voorwerp te kyk wat in ’n patroon voor hom beweeg.

Teen drie maande kan jou pienkvoet begin verstaan dat daar ’n verband is tussen sy gedrag en ’n spesi eke reaksie. Hy sal voorwerpe volg wat deur ’n vertrek beweeg, uitreik na voorwerpe naby hom en voorwerpe in sy mond probeer sit om dit te verken.

Verder luister hy met aandag na geluide en word stil as hy beter wil hoor. Sy geheue is goed genoeg dat hy gereelde gebeure soos ’n voeding of badtyd verwag, en hy sal bekende musiek herken.

Teen drie maande kan ’n baba se brein tussen honderde verskillende spraakklanke onderskei. Hy begin ook tussen ál meer gesinslede se stemme en gesigte onderskei.

Wat kan 'n mens dan in baba se eerste maande doen?

Gee baie liefde In sy eerste drie lewensmaande is daar geen beter stimulasie vir ’n baba as sy ouers se liefdevolle aanraking en teenwoordigheid, hul bewegings, reuk, stemme en gesigte nie. Jy kan jou baba se breinontwikkeling aanhelp deur liefdevol op sy behoeftes te reageer.

Juis daarom kan dit baie help as jy jou kleinding se lyftaal goed kan lees. “Babas kan in die eerste ses maande nie bederf word nie – tel hulle gerus op, troetel en troos, want dit help ook die brein om te ontwikkel,” sê die verplegingswetenskaplike dr. Welma Lubbe.

1. Slaap

Soos elke nuwe ouer gou agterkom, verskil ’n pasgebore baba se slaappatrone radikaal van dié van ’n volwassene. Voltermynbabas slaap in die eerste paar maande gemiddeld 16 uur per dag, sê dr. Welma Lubbe, ’n verplegingswetenskaplike en senior dosent aan die Noordwes-universiteit.

Hulle ontwikkel ’n ritmiese slaappatroon, wat uit twee slaapfases bestaan: REM-slaap en nie-REM-slaap. Albei is noodsaaklik vir jou pienkvoet se breinontwikkeling. Volgens ’n artikel oor slaap en breinontwikkeling in die joernaal Newborn and Infant Nursing Reviews (Desember 2008) is die slaapsiklusse van pasgebore babas noodsaaklik vir die bou van hul sensoriese stelsels, die beskerming van breinsoepelheid en ook vir die ontwikkeling van langtermyngeheue en leervermoë.

As ouer sal jy dus jou kleinding se breinontwikkeling die beste ondersteun deur hom te laat slaap wanneer hy dit nodig het.

2. Praat met hom

Een van die beste maniere waarop jy daardie breintjie kan stimuleer is deur met jou baba te gesels. Taal is een van die boustene van verstandelike ontwikkeling. Studies wys kinders met wie daar as babas deurentyd gesels is, kon op twee jaar 300 meer woorde as ander kinders gebruik.

3. Die regte voeding

Borsmelk bly die heel beste voeding vir jou baba se brein, sê kenners. Dit bevat langketting-vetsure wat onder meer help met die vorming van die miëlienskede, die vetlagie rondom die senuweebane. Dié skede werk soos isolasiemateriaal rondom ’n kragkabel om die senuweeimpulse vinniger na die brein te laat beweeg, waar dit geïnterpreteer kan word.

4. Toepaslike stimulasie

Pasgebore babas moenie blootgestel word aan speelgoed wat hope sensoriese stimulasie verskaf soos dié in alle kleure van die reënboog nie, sê Welma.

“Hou by primêre kleure wat ’n kontras verskaf, soos swart op wit met ’n bietjie geel of rooi by, en middelslagvorms soos sirkels, driehoeke en vierkante. Maak ook seker dat die speelgoed nie te veel klanke en teksture het nie – hou by een of twee teksture op ’n slag.”

Klein babatjies word maklik oorgestimuleer; jy moet dus jou baba se stresen toenaderingstekens leer verstaan sodat jy die stimulasie kan staak wanneer dit vir baba te veel word.

5. Massering

Die voordele van liefdevolle aanraking en massering vir gesonde breinontwikkeling is al deur studies bewys. Volg ’n goeie kursus sodat jy terselfdertyd ook jou baba se lyftaal beter kan verstaan en weet wanneer hy ontvanklik is vir die voordele van massering. Studies het gewys dat veral vroeggebore babas se senustelsels by massering baat.

Breinbou-omgewing

Vir baie ouers is breinontwikkeling sinoniem met stimulasie, maar jou baba het nie honderde speelgoed in sy eerste lewensmaande nodig om sy breintjie te bou nie. Tot drie maande oud behoort ’n baba trouens teen oorstimulasie beskerm te word, waarsku Welma. Eers daarna het hy ’n omgewing nodig waar stimulasie en verkenning bevorder word.

Dis omdat die nuwe omgewing buite die baarmoeder klaar vir jou baba propvol harde klanke, reuke en visuele stimulasie is, sê Welma. “Vir die vel is alles ook nuut: Veersagte aanraking kan soos pyn voel en temperatuur en drukking speel ook ’n groot rol in hoe ’n baba sy omgewing ontdek.

“Hierdie sensoriese stimulasie, soos mamma en pappa se stemme, en kleure en vorms in die onmiddellike omgewing, word nou deur die senustelsel na die brein vervoer. Daar word dit verwerk sodat jou baba op die spesi¬eke prikkel reageer. In dié tyd word die senuweebane gevorm en vasgelê en die brein word geprogrammeer."

Vroeggebore breintjies

Omdat jou vroeggebore baba die eerste lewenslig so voortydig aanskou, is sy brein nog minder gereed vir die ervarings waaraan hy blootgestel word. Vroeë babas kan nog nie hul vlak van bewustheid goed reguleer nie omdat hul brein onvolwasse is.

Hul sintuigstelsel het ook nog nie volledig ontwikkel nie. “Al die fisieke strukture is daar, maar dit werk nie noodwendig soos dit moet nie,” verduidelik die verplegingswetenskaplike dr. Welma Lubbe.

“Daarom kan ’n vroeggebore baba baie maklik oorgestimuleer word deur die alledaagse omgewing. ’n Opgewonde geselsery kan tot oorstimulasie van die gehoorstelsel lei en skerp lig soos ’n helder, sonverligte vertrek of kombuisligte kan die ogies seermaak.

Reuke kan onmiddellike negatiewe reaksies veroorsaak as die baba blootgestel word aan skerp parfuum, maar terselfdertyd kan mamma se geur byna onmiddellik kalmerend en koesterend wees.

“Die kalmerende geluide van die baarmoeder kan nageboots word wanneer die baba in vel-tot-vel kontak by mamma lê en haar hartklop hoor.”

Die omstandighede waarin ’n vroeggebore baba se brein ontwikkel is soortgelyk aan die omgewing van die baarmoeder, sê Welma. Stimulasie moet beperk word sodra jou baba wys dis nou te veel.