Oggend

  • Ongeveer 07:00 - As jou baba wakker word, kan jy loer of sy doek skoon is. Daarna kan jy gereed maak om hom te voed. Maak vir jou ’n koppie tee, of kry ’n groot glas water en maak jou gemaklik. As jy jou baba borsvoed, behoort hy vir ongeveer 30 minute net aan een bors te drink per voeding. Wissel jou borste af met elke nuwe voeding.
  • Ongeveer 07:30 - As jou baba na sy voeding ’n vuil doek het, kan jy sy doek onmiddellik omruil. Sorg dat jou baba se doekruilstasie ’n gemaklike hoogte vir jou is en gebruik ’n matrassie daarop met verhewe kante sodat jou baba nie kan afval nie. Moet hom nooit alleen los nie en maak seker die vogdoekies, of nat lappie en boudjiesalf is byderhand.
  • Ongeveer 07:45 - Jou baba kan nou ’n bietjie bene en arms strek. Sit jou baba op sy speelmat neer, terwyl jy iets te ete kry en aantrek.
  • Ongeveer 8:30 tot 10:00 - Laat jou baba vir minstens 1½ uur slaap. Hy was nou reeds vir omtrent 45 minute tot 1½ uur wakker afhangende van hoe laat hy op was. Dit is dus weer tyd vir ’n oggendslapie. Trek jou babakamer se gordyne toe, maar sorg dat daar steeds ’n bietjie lig in die kamer skyn sodat jou baba weet dat dit nie nag is nie. Plaas hom in sy bedjie – dit is beter as hy van jongs af leer om self aan die slaap te raak en homself te troos. Jy hoef jou huis nie te stil te hou nie, al die gewone dagklanke sal sorg dat die nuweling kan onderskei tussen dag en nag.
  • Ongeveer 10:00 - Wanneer jou baba wakker word, kan jy die gordyne ooptrek sodat lig in die kamer skyn. As jy borsvoed, kan jy jou baba nou vir ongeveer ’n halfuur aan die ander bors laat drink. Jou baba sal self besluit as hy genoeg gehad het en jou tepel los. Sommige babas sal ’n halfuur voed, en ander weer 10 minute. Voed jou baba wanneer hy ook al melk vra.
  • Ongeveer 10:30 - Ruil jou baba se doek as hy ’n vuile na die voeding het. Onthou om sy naelstringstompie skoon en steriel te hou met elke doekruiling. Vee die stompie en om die stompie met elke doekruiling met ’n watte geweek in sjirurgiese alkohol af. Daarna kan jy Wecesin-poeier daaroor strooi om die area droog te hou.
    Indien die doek effens groot vir jou kleinding is, kan jy die doek se lyfband een keer omvou. Daar is ook doeke wat spesifiek vir pasgeborenes gemaak word, met naelstringuitknipsels sodat die doek nie die naelstringarea skaaf nie. Die stompie behoort binne 7 tot 21 dae na geboorte af te val.
  • Ongeveer 10:45 - Jy en kleinding kan dalk ’n entjie gaan stap. Die vars lug en oefening sal julle albei goed doen.
  • Ongeveer 11:30 - Jou baba sal nou weer moegerig wees. Maak vir oulaas seker of sy doek skoon is. Pasgeborenes wat borsvoed, kan sewe vuil doeke in een dag hê, of een vuil doek in sewe dae. Solank jou baba gereeld nat doeke het en gewig optel, het jy genoeg melk vir hom. Moenie vergeet om weer te kyk of jou baba nie dalk wil voed nie. As dit lyk of hy wil drink, kan jy hom weer voed.
  • Ongeveer 11:30 tot 14:00 - Jou baba sal moontlik nou lekker lank slaap. Dit is nou ’n goeie tyd om self ’n bietjie te eet en te rus.

Middag

  • Ongeveer 14:00 - Wanneer jou baba wakker word, kan jy die gordyne ooptrek sodat hy behoorlik wakker kan word. Laat hom vir omtrent ’n halfuur weer aan die ander bors drink, en neem self genoeg vloeistof in terwyl jy borsvoed.
    Daar is tye wanneer jou kleinding vir ’n dag, of selfs langer meer melk nodig het omdat hy vinnig groei. Tydens hierdie groeiversnellings sal hy aanhoudend wil drink en jou borste kan dalk vir ’n paar dae leeg voel. Probeer ontspan en voed hom elke keer as hy wil drink.
    Jou melkproduksie sal vinnig verhoog soos wat jou baba meer aan jou drink. Voor jy jou oë uitvee, is dit verby en groei jou baba weer teen sy gewone pas. Groeiversnellings is veral algemeen rondom 10 tot 14 dae, 3 weke, 6 weke en 3 maande.
  • Ongeveer 14:30 - Onthou om te kyk of sy doek skoon is na die voeding.
  • Ongeveer 14:45 - Plaas hom vir kort tydjies op sy maag. Magietyd gee jou kleinding die geleentheid om sy spiere te oefen sodat hy een van die dae eers kan rol, dan kruip en later loop. Jy kan jou pasgeborene twee tot drie keer per dag vir drie tot vyf minute op sy magie sit.
  • Ongeveer 15:30 tot 17:00 - Maak seker sy doek is skoon voor jy hom in sy bedjie sit vir sy laaste middagslapie.
  • Ongeveer 17:00 - Dit is ’n goeie idee om jou baba nie veel later as 17:00 te laat slaap nie. As hy te laat in die middag wakker word, kan hy dalk slegter slaap deur die aand. Voed hom nou weer met die ander bors vir omtrent 30 minute.

Aand

  • Ongeveer 17:45: Sit jou baba op sy speelmat neer, terwyl jy sy badgoedjies voorberei. Hou sy seep, skoon watte, waslap en handdoek naby die badjie. Moet nooit jou baba alleen in of naby water los nie.
  • Ongeveer 18:15 Maak vir jou ’n heerlike koppie tee voor jy baba voed. Sorg dat die kamer waar julle voed donkerig en stil is. Jy kan nou daarop let om minder oogkontak met jou baba te maak en nie te veel te praat nie.
    Sorg dat hy behoorlik aan een bors drink. Sodra hy genoeg gedrink het, kan jy hom styf toedraai in ’n kombersie. Sit sy handjies op sy borsie, of draai dit naby sy gesiggie toe sodat hy homself kan vertroos wanneer jy hom neerlê. Hy behoort so teen ongeveer 19:00 in sy bedjie te wees. Moet nooit jou baba op sy magie laat slaap nie, dit verhoog die risiko vir wiegiedood. Plaas hom eerder op sy sy of ruggie.
  • Ongeveer 22:30: Wanneer jou baba wakker word, kan jy kyk of sy doek skoon is. Skakel net die nodigste ligte in die huis aan, dit leer jou baba om tussen dag en nag te onderskei. Hy leer dus van jongs af dat sy omgewing snags donkerder en rustiger is as bedags.
    Voed jou baba nou met die ander bors. As jy seker is hy het genoeg gedrink, kan jy hom weer styf toedraai, sonder om te veel oogkontak te maak en geselsies aan te knoop.

Gedurende die nag

Pasgeborenes het gereeld voeding nodig omdat borsmelk vinnig verteer. Jy kan dus nie nou al verwag dat jou borsvoedende baba deur die nag slaap nie, hoewel sommige van ons gelukkiger is as ander. Jou baba kan ongeveer vir drie tot vier ure slaap voor jy hom weer voed.