book-icon Uitgawe April & Mei 2019

Soete nagrus

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Deurslaap beteken in ’n neutedop dat ’n baba deur die nag kan slaap sonder dat hy nagvoedings nodig het. Natuurlik verskil dit van baba tot baba, sê suster Anneke Landman, wat ’n privaat babakliniek in Bloemfontein bedryf. Maar terwyl elke baba verskillende slaapgewoontes en -behoeftes het, is daar riglyne vir hoeveel uur uit 24 jou baba in droomland behoort te bly.

“’n Pasgeborene behoort tussen 16 en 20 uur uit 24 te slaap. Teen ses weke het ’n baba sowat 15 uur altesaam nodig, en tussen vier en ses maande oud verminder dit tot tussen nege en 12 uur. Teen die tyd dat jou baba ’n jaar oud is, behoort hy snags 12 uur lank te slaap, maar bedags nog twee dagslapies te geniet. Teen die tyd dat hy tussen 18 maande en twee jaar oud is, is 10 uur per nag en een of twee dagslapies die riglyn.” ’n Baba se vermoë om deur die nag te slaap, hang van sy ouderdom en ontwikkeling af. “Babas slaap nie noodwendig beter wanneer hulle vaste kos begin eet nie. ’n Pasgebore baba se magie kan nie groot volumes melk hanteer nie en nagvoedings is dus noodsaaklik,” sê Anneke.

As babas snags ’n onreëlmatige slaappatroon het, is dit gewoonlik die gevolg van beweging, suiging en rusteloosheid – wat alles normaal is. Maar hoe gemaak as jou baba teen ses maande begin deurslaap en dan skielik weer die patroon verbreek? Dis gewoonlik te wyte aan ontwikkelingskwessies soos tande kry, skeidingsangs en ’n verbeelding wat veral in die peuterstadium ál ryker word. Jou baba se slaappatroon word natuurlik deur siekte ook beïnvloed. Nog ’n sondaar is oorstimulasie.

Dis veral laasgenoemde gebied waarop dr. Annamarie van Jaarsveld ’n kenner is. Sy is verbonde aan die departement arbeidsterapie by die Universiteit van die Vrystaat. “Daar is baie redes waarom babas van 12 tot 18 maande nie deurslaap nie, maar een daarvan kan sensories wees. ’n Baba se brein moet in ’n siklus van 24 uur ’n magdom sintuiglike inligting verwerk.” Ons liggaam het agt sintuiglike stelsels, sê Annamarie: visueel, gehoor, tas, beweging, liggaamsposisie, reuk, smaak en introsepsie. Laasgenoemde is die sensasies van binne-in die liggaam soos honger, dors, maagpyn en ons hartklop. Jou baba verwerk nie sintuiglike (oftewel sensoriese) inligting op dieselfde manier as jou suster se baba nie. Dit hang af van hoe sensitief sy brein daarvoor is.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees